Gewilde reeks gekanselleer ná aantygings teen akteur

Netflix (Foto: Facebook)

Netflix het vandeesweek bevestig dat hy nié sy politiese drama House of Cards vir ʼn sewende seisoen gaan hernu nie.

Die aankondiging volg nadat die Amerikaanse akteur Kevin Spacey, wat die hoofrol in dié reeks vertolk, vandeesweek van seksuele teistering beskuldig is.

Die aanlyntelevisiediens en Media Rights Capital, die vervaardiger van die reeks, het in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle is “diep ontsteld” oor dié bewerings wat teen Spacey gemaak is.

ʼn Storm het Maandag om die akteur se kop losgebars nadat Anthony Rapp, ook ʼn akteur, in ʼn onderhoud met BuzzFeed gesê het dat Spacey hom seksueel geteister het toe hy net 14 jaar oud was. Rapp het gesê hy het in 1986 ʼn partytjie bygewoon wat deur Spacey, nou 58, maar toe 26 jaar oud, gereël is. Volgens hom het Spacey seksuele toenadering gesoek deur bo-op hom te lê waarna hy Spacey weggestoot en toe die huis verlaat het.

Spacey het in reaksie hierop gesê hy kan nie die voorval onthou nie, maar hy het onvoorwaardelik om verskoning gevra en gesê hy was waarskynlik onder die invloed van alkohol ten tyde van die voorval.

Die akteur, wat reeds twee Oscar-toekennings gewen het, het vandeesweek onder skerp kritiek op sosiale media deurgeloop nadat hy besluit het om tydens sy amptelike verskoning op sosiale media ook te erken dat hy gay is. Talle sosialemediagebruikers het hom daarvan beskuldig dat hy nou simpatie van die LGBT-gemeenskap soek in plaas daarvan om pa te staan vir sy beweerde dade.

Akteurs soos Zachary Quinto en Wanda Sykes het Spacey daarvan beskuldig dat hy bloot erken hy is gay “omdat hy die bewerings teen hom wil toesmeer of die aandag daarvan wil aftrek”.

Die organiseerders van die Emmy-toekennings het ook vandeesweek gesê dat Spacey nié meer ʼn spesiale toekenning in November sal ontvang nie. ʼn Verklaring van die Emmys het gesê die toekenning word “onttrek in die lig van onlangse gebeure”.

Spacey het sedert sy verskoning nog nie weer ʼn verklaring vrygestel nie. Produksie vir die sesde seisoen van House of Cards is reeds aan die gang.

Bron: ABC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

pop ·

En die Anthony Rapp kom nou daarmee vorendag!!!!!!! Asseblief

Henda ·

Ag nog iemand wat na jare onthou hy dink so iets het met hom gebeur, dit is rerig net aandag soek of soek net publisiteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.