Gewilde sanger terug in SA vir ‘Dancing with the Stars’

Connell Cruise (Foto: Verskaf)

Dancing With The Stars South Africa skop vroeg volgende jaar af met ’n ster wat in die buiteland woon en sy litte gaan losmaak op die verhoog.

Connell Cruise, ʼn sanger wat in Johannesburg gebore is en deesdae in New York in die VSA woon en wêreldwyd optree, is een van die 12 plaaslike bekendes wat aan dié televisiereeks deelneem.

Cruise het naam gemaak toe hy ʼn platekontrak losgeslaan het by die New Yorkse platemaatskappy Island Records. Hy is raakgesien deur LA Reid, dieselfde musiek-magnaat wat ʼn groot rol gespeel het in die sukses van sangers soos Kanye West, Rihanna, Bon Jovi en Justin Bieber.

Voordat Cruise na New York verhuis het, het hy die skare op hul voete gehad met sy debuut, “Not just Friends”. Daarna is hy vir verskeie Samas benoem en het tien agtereenvolgende no. 1-radiotreffers gehad.

Cruise sê hy is opgewonde daaroor om terug in Suid-Afrika te wees. “Ek is net so opgewonde soos wat ek bang is vir wat voorlê op Dancing with the Stars! Ek is regtig verheug en geëerd om deel van dié ongelooflike program te wees. Ek sal my bes doen om my vrou en aanhangers in die land trots te maak,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Ander sterre wat gaan deelneem is die TV-aanbieder Thembisa Mdoda, die akteur Frank Opperman, die aktrise Juanita de Villiers, die voormalige Mej. SA Liesl Lourie en die oud-atleet Odessa Swarts.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.