Globes gaan voort sonder gehoor, media

Die Golden Globe-beeldjies word op 9 Januarie 2022 uitgedeel. (Foto: Facebook/Golden Globes)

Die 79ste jaarlikse Golden Globes-toekenningsgeleentheid sal Sondag weens kommer oor die verspreiding van die Omikron-variant van die koronavirus sonder enige medialede of gehoor voortgaan.

Die geleentheid word tradisioneel gereken as een van Hollywood se grootste byeenkomste, maar dit word egter vanjaar weer deur die pandemie asook bewerings van rassisme, seksisme en boeliery gekelder.

Die Hollywood Foreign Press Association (HFPA), wat stem vir die Globes, loop sedert die begin van die jaar deur weens ʼn “gebrek aan diversiteit”, met groot televisienetwerke soos NBC, WarnerMedia, Netflix en Amazon Studios wat weier om vanjaar se geleentheid regstreeks uit te saai of deel te neem aan HFPA-verwante geleenthede.

Die Golden Globes is die naasgrootste toekenningsgeleentheid in Hollywood naas die Oscars. Die HFPA word al maande lank deur kritiek in die gesig gestaar wat voortspruit uit ʼn berig wat in Februarie verlede jaar in die Los Angeles Times geplaas is.

Luidens dié berig het die geheime organisasie geen swart lede gehad nie en derhalwe het die organisasie daarna onderneem om dit reg te stel. Die HFPA het in Mei verlede jaar ʼn plan om diversiteit en inklusiwiteit te bevorder ingedien.

Die organisasie, met net meer as 100 vermaaklikheidskrywers vir buitelandse publikasies, het blitsvinnig hervormings ondergaan en het in 2021 die grootste jaarlikse inname van nuwe lede getoon.

Bekendes in die rolprentbedryf sal egter steeds Sondag vereer word vanuit die Globes se gebruiklike Beverly Hills-hotelvenue, ʼn program wat volgens die organisasie die kollig sal plaas op “die gevestigde filantropiese werk van die HFPA”.

“Oor die afgelope 25 jaar het die HFPA meer as $50 miljoen (sowat R795 miljoen) geskenk aan meer as 70 vermaakverwante liefdadigheidsorganisasies en beursprogramme,” het die groep in ʼn verklaring gesê.

Die HFPA het in Desember die amptelike benoemings vir vanjaar se toekenningsgeleentheid bekend gemaak.

Die flieks The Power of the Dog en Belfast is die voorlopers met sewe benoemings elk. Die HBO-dramareeks Succession is die televisiereeks met die meeste benoemings (vyf), met Apple se Ted Lasso en The Morning Show kort op dié reeks se hakke met vier benoemings elk.

Bykomende bron: AFP

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.