G’n ‘Squid Game 2’ voor 2024

Aanhangers van Squid Game moenie asem ophou nie: Hwang Dong-hyuk, skepper van die reeks, moet nog aan die draaiboek vir die tweede seisoen skryf en het Maandag gesê dit lyk nie of die reeks voor later in 2024 die lig sal sien nie.

“Ek moet nog werk aan die tweede seisoen. Hopelik kan ons dit aan aanhangers wys voor die einde van 2024,” het die Suid-Koreaanse skrywer-regisseur op die MIPTV-fees in Cannes in die suide van Frankryk gesê.

Hy het ʼn dag tevore op die Canneseries-fees, wat by die Cannes-fees aansluit, erken dat hy nog net drie bladsye van die draaiboek vir die opvolgseisoen van die mega-trefferreeks geskryf het.

Squid Game handel oor deelnemers van gemarginaliseerde gedeeltes van die samelewing wat meeding in tradisionele Suid-Koreaanse kinderspeletjies vir geld – met die verloorders wat hulle lewe verloor.

Netflix het in Oktober verlede jaar gesê altesaam 142 miljoen intekenare het na die eerste seisoen gekyk. Dit is sowat tweederdes van sy algehele kykerstal.

Hwang het oorspronklik in 2009 die eerste seisoen as ʼn rolprent geskryf en was eers oortuig daarvan om ʼn televisiereeks te maak nadat Netflix in 2016 in Suid-Korea begin stroom het.

Die Suid-Koreaanse regisseur Hwang Dong-hyuk op die Canneseries-fees in Cannes, Frankryk. (Foto: Valery Hache/AFP)

Hy het gesê om sewe maande lank die draaiboek te verwerk was “onaangenaam”. “Dit was hel. Miskien sal ʼn tweede seisoen my laaste seisoen wees,” het hy geskerts.

Hwang het die geleentheid gekry om sy rolmodel, Steven Spielberg, te ontmoet, wat aan hom gesê het hy het die program binne die bestek van drie dae klaar gekyk.

“Hy het gesê hy wil my brein steel,” het Hwang vertel.

Hwang werk ook aan ʼn rolprent wat nie te ver verwyder van sy trefferprogram klink nie. KO Club handel oor die uitmoor van bejaardes en is geskoei op ʼn boek deur die Italiaanse skrywer Umberto Eco.

Volgens Hwang is dit “selfs nog meer gewelddadig as Squid Game”.

“Ek sal uit bejaardes se pad moet bly nadat dit uitgereik is,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.