Golden Globes 2018: Oprah maak opspraakwekkende toespraak

Oprah Winfrey (Paul Drinkwater/NBC via AP)

Die 75ste Golden Globe-toekennings het pas die eerste toekenningsgeleentheid in die geskiedenis van Hollywood geword wat seksuele teistering teen vroue in die vermaaklikheidsbedryf en wêreldwyd openlik verkondig.

Hordes Hollywood-bekendes het Sondagaand tydens dié geleentheid swart gedra ter ondersteuning van die veldtog Time’s Up wat beoog om “seksuele teistering op alle terreine en in verskeie lande hok te slaan”. Lede van die veldtog, wat meer as 1 000 bekendes insluit, het ook ʼn skarefinansieringsprojek bekend gestel wat ten doel het om geld in te samel om die slagoffers van seksuele teistering se regskoste te subsidieer.

Die grootste wenners van die aand was die fliek Three Billboards Outside Ebbing, Missouri wat onder meer vier Golden Globe-toekennings gewen het en die televisiekortreeks Big Little Lies wat drie toekennings gewen het.

Margaret Gardiner en Demi-Leigh Nel-Peters (Foto: Facebook)

Die Amerikaanse televisiepersoonlikheid Oprah Winfrey het Sondagaand alle aandag op haar gevestig met ʼn toespraak wat haar drie geesdriftige toejuigings besorg het. Winfrey het ʼn roerende toespraak gelewer nadat sy die eerste swart vrou geword het om die gesogte Cecil B. DeMille-eretoekenning te ontvang – ʼn toekenning wat deur die Hollywood Foreign Press Association aan haar gemaak is.

In haar toespraak het sy onder meer gepraat oor seksisme, rassisme en die veldtogte #MeToo en Time’s Up wat onder meer ongelykheid en seksuele teistering aanraak.

“Ek besef dat daar nou ʼn klein dogtertjie êrens sit en kyk hoe ek die eerste swart vrou is wat hierdie toekenning wen. Dit is ʼn eer en ʼn voorreg om hierdie aand met elkeen van hulle te deel. Ek is vanaand veral trots, bemagtig en geïnspireerd deur al die vroue wat met hul persoonlike stories na vore gekom het. Hierdie stories van seksuele teistering raak egter nie net die vermaaklikheidsbedryf nie – dit vloei oor in alle vertakkings van kultuur, geografie, ras, geloof, politiek en werkplek.

“Vanaand wil ek al die vroue bedank wat dit al die jare aanvaar het om onderdruk en sleg behandel te word, vroue soos my ma, omdat hulle rekeninge gehad het om te betaal en kinders om kos te gee. Hulle is vroue wie se name ons nooit sal ken nie. Hulle is huishulpe en vroue in die landboubedryf. Hulle werk in fabrieke en restaurante en die akademie, in mediese beroepe en in wetenskap. Hulle is ons atlete in die Olimpiese Spele en ons soldate in die weermag.

“Die tyd is nou verby. Ek wil hê al die jong vroue wat na hierdie toespraak luister, moet weet: ʼn nuwe dag breek aan op die horison. En wanneer daardie dag aanbreek, sal dit wees danksy al die vroue én mans wat die leiers van die toekoms geword het om te verseker dat niemand ooit weer sê ‘ek ook’ [#MeToo] nie.”

Hier is ʼn volledige lys wenners:

Beste fliek – drama
Three Billboards Outside Ebbing, Missouri

Beste fliek – komedie/musiekblyspel
Lady Bird

Beste aktrise in ʼn fliek – drama
Frances McDormand – Three Billboards Outside Ebbing, Missouri

Beste aktrise in ʼn TV-reeks – drama
Elisabeth Moss – The Handmaid’s Tale

Beste aktrise in ʼn kortreeks
Nicole Kidman – Big Little Lies

Beste aktrise in ʼn fliek – komedie/musiekblyspel
Saoirse Ronan – Lady Bird

Beste byspeler (vrou) in ʼn kortreeks
Laura Dern – Big Little Lies

Beste byspeler (vrou) in ʼn fliek
Allison Janney – I, Tonya

Beste byspeler (man) in ʼn fliek
Sam Rockwell – Three Billboards Outside Ebbing, Missouri

Beste byspeler (man) in ʼn kortreeks
Alexander Skarsgård – Big Little Lies

Beste aktrise, TV-komedie/musiekblyspel
Rachel Brosnahan – The Marvelous Mrs. Maisel

Beste aktrise, TV-drama
Elisabeth Moss – The Handmaid’s Tale

Beste akteur in ʼn fliek – drama
Gary Oldman – Darkest Hour

Beste akteur, TV-drama
Sterling K. Brown – This Is Us

Beste akteur in ʼn fliek – komedie/musiekblyspel
James Franco – The Disaster Artist

Beste akteur in ʼn kortfliek
Ewan McGregor – Fargo

Beste TV-drama
The Handmaid’s Tale – Hulu

Beste oorspronklike musiek
Alexandre Desplat – The Shape of Water

Beste akteur, TV-komedie/musiekblyspel
Aziz Ansari – Master of None

Beste tekenprent
Coco

Beste oorspronklike draaiboek
Three Billboards Outside Ebbing, Missouri

Beste TV-komedie/musiekblyspel
The Marvelous Mrs. Maisel – Amazon

Beste kortreeks
Big Litte Lies

Beste oorspronklike liedjie
“This Is Me” – The Greatest Showman

Beste internasionale fliek
In the Fade – Duitsland/Frankryk

Beste regisseur
Guillermo del Toro – The Shape of Water

Cecil B. DeMille-eretoekenning
Oprah Winfrey

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Landi ·

Ek was geraak deur Oprah se toespraak. Daar is dames wat in onmoontlike situasies geplaas word en die tyd waar hulle stil bly daaroor is verby!
Dit is nie net ‘n veldtog vir die dames wat praat nie maar ook vir al die wonderlike mans wat luister wanneer daar wel gepraat word.
Well done!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.