Golden Globes: ‘A Star is Born’, ‘Vice’ gee pas aan

Gwilym Lee, Rami Malek en Joe Mazello in “Bohemian Rhapsody”. (Foto: Alex Bailey/Twentieth Century Fox via AP)

Die benoemings vir die 76ste Golden Globe-toekennings is in Beverly Hills in die VSA bekendgemaak, en twee flieks, A Star is Born en Vice, het met die meeste benoemings weggestap.

Bradley Cooper en Lady Gaga is albei genomineer vir hul spel in die jongste weergawe van die musikale drama A Star is Born.

Cooper het ook die regisseurstoel volgesit vir die maak van dié fliek en is daarvoor ook benoem.

Emma Stone, Olivia Coleman en Rachel Weisz is benoem vir The Favourite terwyl Rosamund Pike benoem is vir haar rol in A Private War.

Emily Blunt is Mary Poppins in 'Mary Poppins Returns'. (Foto: Facebook via Mary Poppins Returns)

Emily Blunt is Mary Poppins in ‘Mary Poppins Returns’. (Foto: Facebook via Mary Poppins Returns)

Die Britse aktrise Emily Blunt is vir die sesde keer benoem, dié keer vir die fliek Mary Poppins Returns.

“Ek is oorstelp,” het die aktrise oor haar benoeming gesê. “Ek was mal daaroor om elke aspek van hierdie buitengewone en ikoniese karakter te speel. Die hele ervaring om aan die rolprent te werk het my begeester en dit is grootliks te danke aan die regisseur, Rob Marshall, wat die projek met groot liefde, diepte en moed in sy hart aangepak het.”

Claire Foy, bekend vir haar rol in die Netflix-drama The Queen, is ook benoem vir haar rol in die biografiese rolprent oor Neil Armstrong, First Man.

“Ek is so trots op First Man en deel die benoeming met die hele span,” het Foy gesê. “Ek deel dit ook met die Armstrong-familie, wat so vrygewig was deur die hele verfilmingsproses.”

Vice, die satiriese biografiese rolprent oor die voormalige president van die VSA, Dick Cheney, het skoonskip gemaak met ses benoemings, waaronder een vir die hoofrol, vertolk deur Christian Bale.

A Star is Born, The Favourite en Green Book het elkeen vyf benoemings, terwyl Mary Poppins Returns en Spike Lee se Black Klansman elkeen vier benoemings verower het.

Rami Malek is ook benoem vir sy rol as Freddie Mercury in die epiese Queen-rolprent, Bohemian Rhapsody.

Hiermee ʼn volledige lys van die benoemings.

Bron: BBC

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.