Golden Globes-aanbieder sorg vir skewe kyke en giggellaggies

Die aanbieder, Ricky Gervais (Paul Drinkwater/NBC via AP)

Die wenners van die 77ste Golden Globes-toekennings is Maandagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) by die Beverly Hilton Hotel in Beverly Hills aangekondig.

Ricky Gervais, aanbieder van vanjaar se toekenningsgeleentheid, het nie geskroom om die gek te skeer met van Hollywood se bekendste akteurs en aktrises. Hy het onder meer gespot oor Hollywood se tekort aan diversiteit, die bekende rolprentvervaardiger Harvey Weinstein wat van seksuele misdrywe aangekla word én die onlangse skandaal waar Hollywood-akteurs en -aktrises omkoopgeld betaal het om hul kinders in sekere universiteite te kry.

Gervais het ook die wenners aangemoedig om nie hul toespraaktyd te gebruik om ʼn politieke boodskap oor te dra nie.

Tom Hanks (AP Photo/Chris Pizzello)

“Jy is nie in die posisie om mense ʼn lesing oor enigiets te gee nie. Jy weet niks van die regte wêreld af nie. Die meeste van julle het minder tyd in skole deurgebring as Greta Thunberg,” het hy gesê.

Dié soort grappies het skewe kyke én giggellaggies by dié bekendes ontlok. Tom Hanks, wat ʼn toekenning ontvang het vir sy lewenslange bydrae, het op sy beurt ʼn afkeurende kyk in Gervais se rigting gestuur wat intussen soos ʼn veldbrand op Twitter versprei.

Die Globes is vanjaar in 25 verskillende kategorieë toegeken: 14 vir die grootskerm en 11 vir televisie.

Die stromingsdiens Netflix het 34 nominasies ontvang vir sy rolprente en reekse, maar tot talle se verbasing het die groep slegs in twee kategorieë gewen.

Nog ʼn skok was toe Disney nie in die animasiekategorie gewen het nie, ondanks drie van die vyf nominasies in dié kategorie. Toy Story 4, Frozen 2 en The Lion King het almal uitgeval toe Missing Link in dié afdeling gewen het.

Hier is die volledige lys van wenners:

Laura Dern vir “Marriage Story” (Paul Drinkwater/NBC via AP)

Beste rolprent, drama: 1917

Beste rolprent, musiekblyspel of komedie: Once Upon a Time … in Hollywood

Beste regisseur: Sam Mendes — 1917

Beste aktrise in ʼn rolprent, drama: Renée Zellweger — Judy

Awkwafina vir “The Farewell” (AP Photo/Chris Pizzello)

Beste aktrise in ʼn rolprent, komedie of musiekblyspel: Awkwafina — The Farewell

Beste vrouebyspeler in ʼn rolprent: Laura Dern — Marriage Story

Beste akteur in ʼn rolprent, drama: Joaquin Phoenix — Joker

Beste akteur in ʼn rolprent, musiekblyspel of komedie: Taron Egerton — Rocketman

Joaquin Phoenix vir “Joker” (Richard Shotwell/Invision/AP)

Beste mansbyspeler in ʼn rolprent: Brad Pitt — Once Upon a Time … in Hollywood

Beste liedjie in ʼn rolprent: “I’m Gonna Love Me Again” — Rocketman

Beste rolprent, animasie: Missing Link

Beste TV-reeks, drama: Succession

Beste TV-reeks, musiekblyspel of komedie: Fleabag

Beste kortreeks: Chernobyl

Olivia Colman vir “The Crown” (Paul Drinkwater/NBC via AP)

Beste aktrise in ʼn TV-reeks of drama: Olivia Colman — The Crown

Beste aktrise in ʼn TV-reeks, musiekblyspel of komedie: Phoebe Waller-Bridge — Fleabag

Beste aktrise in ʼn kortreeks: Michelle Williams — Fosse/Verdon

Beste vrouebyspeler in ʼn TV-reeks: Patricia Arquette — The Act

Beste akteur in ʼn TV-reeks of drama: Brian Cox — Succession

Ramy Youssef vir “Ramy” (Paul Drinkwater/NBC via AP)

Beste akteur in ʼn TV-reeks, musiekblyspel of komedie: Ramy Youssef — Ramy

Beste akteur in ʼn kortreeks: Russell Crowe — The Loudest Voice

Beste mansbyspeler in ʼn TV-reeks: Stellan Skarsgard — Chernobyl

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tweetie ·

Celine Sciamma se rolprent ‘Portrait of a lady on fire”, is by verre beter as enige van die flieks hierbo wat toekennings gekry het. Dit is absoluut stunning, en sal n jammerte wees as die nie ook vrygestel word in Suid-Afrika nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.