Golden Globes: ‘Big Little Lies’, ‘Frozen 2’ benoem

Meryl Streep en Nicole Kidman is albei benoem vir hul rolle in die dramareeks 'Big Little Lies'. (Foto: Facebook/Big Little Lies)

Meryl Streep en Nicole Kidman is albei benoem vir hul rolle in die dramareeks ‘Big Little Lies’. (Foto: Facebook/Big Little Lies)

Die benoemings vir die 77ste jaarlikse Golden Globe-toekennings is Maandag bekend gemaak. Die bekende Britse akteur en komediant Ricky Gervais sal die seremoniemeester wees.

Die Globes word vanjaar in 25 verskillende kategorieë toegeken, 14 vir die groot skerm en 11 vir televisie.

1917, The Irishman, Joker, Marriage Story en The Two Popes is benoem in die kategorie vir beste vollengterolprent.

In die kategorie vir beste aktrise in ʼn vollengterolprent, is onder andere Charlize Theron vir Bombshell, Renée Zellweger vir Judy en Scarlett Johansson vir Marriage Story benoem.

Christian Bale (Ford v Ferrari), Antonio Banderas (Pain and Glory), Adam Driver (Marriage Story), Joaquin Phoenix (Joker) en Jonathan Pryce (The Two Popes) ding teen mekaar mee in die kategorie vir beste akteur in ʼn vollengterolprent.

'Frozen 2'.

‘Frozen 2’.

Frozen 2, wat Vrydag in fliekteaters in Suid-Afrika begin draai het, is saam met How to Train Your Dragon: The Hidden World, The Lion King, Missing Link en Toy Story 4 benoem vir beste animasieprent.

Die Hollywood Foreign Press Association loop onder skerp kritiek deur omdat daar slegs mansregisseurs in die kategorie vir beste regisseur vir ʼn vollengterolprent benoem is. Martin Scorsese (The Irishman), Quentin Tarantino (Once Upon a Time In Hollywood), Bong Joon Ho (Parasite), Sam Mendes (1917) en Todd Phillips (Joker) is benoem in dié kategorie.

Die musikant en aktrise Taylor Swift is benoem in die kategorie vir beste liedjie in ʼn vollengterolprent vir “Beautiful Ghosts” uit die fliek Cats, wat gebaseer is op die musiekblyspel deur Andrew Lloyd Weber. Die musiekikoon het saam met Swift dié liedjie geskryf. Swift vertolk die rol van Bombalurina in die rolprent.

“I’m Gonna Love Me Again” uit Rocketman, “Into the Unknown” uit Frozen 2, “Spirit” uit The Lion King en “Stand Up” uit Harriet is ook in dié kategorie benoem.

Big Little Lies, The Crown, Killing Eve, The Morning Show en Succession is benoem in die kategorie vir beste dramareeks.

Jennifer Aniston in 'The Morning Show'. (Foto: Instagram/The Morning Show)

Jennifer Aniston in ‘The Morning Show’. (Foto: Instagram/The Morning Show)

Reese Witherspoon, wat ook in Big Little Lies te sien is, is benoem as beste aktrise in ʼn dramareeks vir haar rol in The Morning Show, waarvoor Jennifer Aniston ook genomineer is. Nicole Kidman is benoem vir haar rol in Big Little Lies, Olivia Colman vir haar rol in The Crown en Jodie Comer vir Killing Eve.

Brian Cox (Succession), Kit Harington (Game of Thrones), Rami Malek (Mr Robot), Tobias Menzies (The Crown) en Billy Porter (Pose) is benoem in die kategorie vir beste akteur in ʼn dramareeks.

Ander bekende genomineerdes sluit in Meryl Streep, wat vir haar 34ste Golden Globe benoem is en haar eie rekordgetal vir die meeste benoemings vir ʼn aktrise met dié benoeming oortref het. Sy is benoem vir haar rol as Mary Louise Perry in Big Little Lies.

Christina Applegate (Dead to Me), Kirsten Dunst (On Becoming a God in Central Florida) en Michael Douglas (The Kominsky Method) is ook onder die benoemdes.

Die toekenningsgeleentheid vind op 5 Januarie in Beverly Hills, Los Angeles, in die VSA plaas.

Klik hier vir ʼn volledige lys van benoemdes.

Bronne: BBC, People.com, Goldenglobes.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.