Grapkas-kompetisie vir voornemende komedieskrywers

Loop jy al lank met ʼn idee vir ʼn televisie-komediereeks in jou kop rond? Ja, daardie reeks met lewensgetroue karakters wat aanklank sal vind by kykers en onmoontlike situasies met skreeusnaakse gevolge?

As die antwoord op albei vrae “ja” is, is dit nou jou kans om jou idee aan kykNET voor te lê. Joune word dalk gekies om verder saam met kykNET en Grapkas ontwikkel te word.

Grapkas is ʼn splinternuwe kompetisie waarin daar na nuwe komedieskrywers gesoek en hulle die geleentheid gebied word om onder die mentorskap van ʼn groep kenners hul idees verder te ontwikkel. Die uiteinde is ʼn moontlike televisiereeks met die wenner in die skrywerstoel.

“Ons gebruik die afgelope paar jaar die kykNET Silwerskermfees om jong talent te ontgin en dit is vir ons ʼn groot suksesverhaal,” sê Karen Meiring, direkteur van kykNET se kanale.

Emo Adams, Karen Meiring, Christo Davids en Wikus du Toit tydens die bekendstelling van die Grapkas-kompetisie. (Foto: Verskaf)

Emo Adams, Karen Meiring, Christo Davids en Wikus du Toit tydens die bekendstelling van die Grapkas-kompetisie. (Foto: Verskaf)

“Heelparty rolspelers wat vandag in die rolprentbedryf is, het dié fees as hul vertrekpunt gehad. Ons hoop nou om deur middel van Grapkas dieselfde te doen met ʼn baie gewilde televisiegenre, naamlik komedie. Dit is tyd dat ʼn platform spesifiek daarvoor geskep word en ons nuwe stemme gaan soek wat ʼn loopbaan vir hulself kan bou.”

Voornemende deelnemers kan elektronies by kykNET.tv inskryf. Elke inskrywing moet uit ʼn loklyn, met ander woorde ʼn beknopte beskrywing van die reeks, asook ʼn beskrywing van 500 woorde van die konsep bevat.

Die sluitingsdatum is 15 Julie waarna ʼn keuringsproses sal volg. Onder leiding van kenners en mentors vanuit die bedryf sal die top-20 konsepte verwerk word tot ʼn teks van 24 minute wat dan vir oorweging ingehandig word. Daar sal dan loodsepisodes van die topvier gemaak word en dit staan die kans om ʼn nuwe komediereeks op kykNET te word.

Inskrywings is oop vir almal. Die inskrywings moet egter volledig wees met alle aspekte soos aangevra, anders sal dit nie vir Grapkas in aanmerking kom nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.