Gretha Wiid: ‘Ek is eerstens ma’

Gretha Wiid (Foto: Verskaf)

Die verhoudingskenner en Christelike skrywer Gretha Wiid is opgewonde om die aanbieder van haar eie program op Suid-Afrika se eerste Afrikaanse Christelike aanlyn platform, RoepTV, te wees.

Wiid sal aan die stuur wees van die weeklikse program Wie’t gesê met ’n stewige 13 episodes wat in samewerking met RoepTV fokus op die versterking van verhoudings. “Dit gaan oor gesonde huwelike en gesonde gesinne.”

Wiid se program sal ’n wye spektrum van aktuele kwessies binne die huwelik en gesinslewe aanpak, soos die boelie van kinders en hoe ouers die probleem kan hanteer. Sy noem dat haar program ook netelige en sensitiewe onderwerpe soos molestering sal aanraak.

Die huwelik is ook onder bespreking met onderwerpe soos buite-egtelike verhoudings en pornografie. “Die kern van die boodskappe sal op God se Woord gegrond wees,” verseker Wiid.

Sy vertel dat sy deur RoepTV genader is en altyd gaande was oor die idee van haar eie program, maar dat die geleentheid nou eers op die regte tyd oor haar pad gekom het.

Sy word die vryheid gegun om ’n program eie aan háár aan te bied. Sy terg dat die program nié net swaar sal wees nie en dat daar ook pret op stel sal wees. Sy bestempel die program as ’n mengsel tussen “Ellen DeGeneres en Dr Phil”.

Sy voel geseënd met die platform aan haar toevertrou en beskryf dit as ’n heerlike terrein vir dinge wat haar na aan die hart lê. Sy erken wel dat die platform ’n geweldige verantwoordelikheid is.

Wiid skroom beslis nie weg van sekere onderwerpe nie en glo dat dit belangrik is om dinge, já, soms omstrede, aan te raak. “Kom ons praat daaroor, kom ons wees sinvol daaroor.”

Wiid is ook besig met voorbereiding vir haar opkomende jaarlikse vrouekonferensie. Dié konferensie word oor twee dae aangebied, met ’n bywoningstal van byna 7 000 vroue by elke geleentheid.

Haar wens is dat haar kinders haar eendag moet onthou as iemand wat nie gebuig het vir mense nie, maar gehoorsaam en verantwoordelik was. Sy vra dat mense moet onthou dat sy self ’n gesinsvrou en ma van vier is. “Ek is eerstens ma en dan, soms, praat ek oor die huwelik en ouerskap.”

RoepTV maak op 1 September vanjaar sy buiging.

Die RoepTV-span (Foto: Facebook)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Wanda ·

Sy is n pragtige vrou. Ek kannie wag vir haar program nie. Gretha jy verdien daai platform. Mense met huweliks probleme kan gerus by haar aanklop vir raad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.