‘Groen Namibië’ terug met nog ʼn seisoen

Groen Namibië (Foto: kyknet.dstv.com)

Groen Namibië (Foto: kyknet.dstv.com)

Die tweede seisoen van die gewilde reeks, Groen Namibië, is van 6 Julie af weer op die kassie.

Marlice van Vuuren, aanbieder van dié program, sê dierebeskerming is haar lewe en passie en daarom is sy opgewonde oor die jongste reeks

“Ek het grootgeword met wees-diere op my ouers se plaas in Namibië, waar ek hulle versorg het vir meer as 30 jaar. My man, Rudie, ondersteun my ook in alles en moes selfs gewoond geraak het aan baba-bobbejane wat saam met ons in die bed slaap,” het sy geskerts.

Die egpaar het in 2000 die N/a’an ku sê-wildreservaat op die been gebring – Namibië se enigste liefdadigheidswildreservaat. Die naam beteken “God sal ons beskerm” in die Khoi-San taal.

“Ons doel is om die land, kultuur en wild van Namibië te bewaar en spesies te red van uitsterwing,” het sy bygevoeg.

Die tweede Groen Namibië-reeks volgens episode:

Episode 1 – Olifante
Olifante rig baie skade aan aan die eiendom van kommersiële en bestaansboere in die noorde van Namibië. Die regering wil vir ses van die diere GPS-halsbande aansit om hulle bewegings te kan monitor, maar in die ruie, beboste gebied is dit nie maklik nie.

Episode 2 – Jagluiperds
Drie jagluiperds moet van Naankuse af na Neuras toe skuif. Stu, die hoofnavorser op Naankuse, is besig met ʼn projek waar jagluiperds se spore afgeneem word sodat hulle later maklik uitgeken en gemonitor kan word. As gevolg van ʼn uitbrekingvan hondsdolheid in die suide van die land, moet Rudie en Marlice die jagluiperds op Kanaan gaan inent.

Episode 3 – Die rol van die regering in die bewaring van renosters en zebras
Die twee spesies verskil baie: renosters, veral swartrenosters, is bedreig, terwyl zebras meer algemeen voorkom. Ons kyk na die rol van die regering in die bewaring van albei spesies.

Episode 4 – Wildehonde en ʼn hiëna
Daar is baie min wildehonde in Namibië oor, na raming tussen 350 en 600. Wanneer die kans daar is om twee jong hondjies te red en na Naankuse te bring, gryp Rudie en Marlice die geleentheid aan. Hulle moet ook na Neuras toe, waar ʼn gevlekte hiëna in ʼn hok gevang is en vir haar ʼn GPS-halsband aansit. Hiëna-getalle in die suide van Namibië neem vinnig toe en navorsing moet oor hul bewegings gedoen word.

Episode 5 – Marlice en haar ma op Harnas
Harnas is die reservaat, naby Gobabis, waar Marlice grootgeword het. Dit behoort aan haar ma, Marieta. Marlice, Rudie en die kinders gaan kuier daar en Marlice gaan maak ʼn draai by van die diere uit haar grootworddae wat nog daar is. Marlice en Rudie gaan wys ook vir die kinders waar haar pa se vliegtuig geval het (gelukkig sonder enige lewensverlies) en die boomhuis wat Rudie gebou het vir sy en Marlice se huweliksnag.

Episode 6 – ʼn Dag Rudie se lewe

ʼn Rooikat moet na ʼn groter kamp toe skuif, maar voordat sy kan skuif, moet eers plek gemaak word vir haar. En dit beteken twee luiperds, twee wildehonde en ʼn paar rooikatte moet ook almal skuif. ʼn Paar weke later kry die rooikat se been seer en Rudie vat haar veearts toe en staan ook die veearts by tydens die operasie.

Episode 7 – Tommy Collard
Tommy Collard ken die woestyn naby Swakopmund soos die palm van sy hand. Hy stel Rudie, Marlice en die kinders bekend aan die klein diertjies van die woestyn, wat ʼn mens net sal raaksien as jy weet hoe om te kyk – en wat jy maklik sal doodry as jy nie op die spore bly nie.

Episode 8 – ʼn Dag in die lewe van Marlice
Marlice en die kinders gaan Windhoek toe om ʼn klompie diere te gaan haal wat ʼn nuwe huis nodig het: ystervarke, skilpaaie, ʼn muskeljaatkat en ʼn klein bobbejaantjie. Om ʼn ystervark te vang en skuif is nie maklik nie!

Episode 9 – Die kuslyn
Sandwich harbour/Sandvisbaai is ʼn vleiland van internasionale belang, vir voëls wat permanent daar is en ook die wat daar verbykom op hulle migrasie-roetes. Rudie, Marlice en die kinders besoek Walvisbaai se hawe, waar hulle robbe en pelikane ontmoet.  Frik von Solms neem hulle op ʼn toer van die Messum-krater en wys hulle die ligene-velde en welwitschias wat duisende jare oud is.

Episode 10 – Harnas
Rudie en Marlice moet op Harnas gaan uithelp. ʼn Bobbejaan moet geskuif word, omdat die ander lede van die trop haar nie daar wil hê nie en haar aanval. Daar is ook ʼn jong luiperd wat na ʼn groter kamp toe moet gaan.

Episode 11 – Die integrasie van ʼn klein bobbejaantjie in die trop
ʼn Klein bobbejaantjie kom op Naankuse aan en Marlice vertel ons meer oor die sosialisering van bobbejane in aanhouding.

Episode 12 – Leeus
Die potensiaal vir konflik tussen leeus en mense is groot. In die noorde van Namibië, waar leeus vryelik beweeg, word boere se vee van tyd tot tyd gevang. Maar organisasies, soos Africat, help om konflik te verminder. Rudie en Marlice besoek Hobatere, ʼn konsessie-gebied wat aan die oorspronklike inwoners van die gebied behoort, wat die rol van bewaarders baie ernstig opneem en direk daarby baat. Rudie-hulle gaan ook na Harnas om ʼn leeu van daar af te verskuif na Naankuse toe.

Episode 13 – Die kinders leer van bewaring

Nini, Zacheo en Zacheo se maatjie, Kleinpiet, leer meer van die plaas deur die oë van mense soos Marlice, Balon (ʼn gids op Naankuse) en Johannes, wat met sy intuïtiewe aanvoeling vir diere goud werd is. Hulle bring tyd deur saam met ʼn rooikat, baba-diertjies, bobbejane en gaan swem saam met jong jagluiperds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Petronelle ·

Ons is baie opgewonde oor die nuwe reeks en gaan dit beslis vir niks in die lewe mis nie. Dankie aan Marlice en Rudi wat dit op so ‘n fantastiese manier na ons sitkamerbanke bring. Doen so voort.

Gerda ·

Julle 2 doen ‘n fantastiese werk. Ons mis nie een program nie. Ons wil net graag weet in episode 2 waar julle die 3 luiperds verskuif het na Moira (hoop die spelling is reg) waar is water vir hulle? die landskap lyk so droog. is daar vir hulle water en kry hulle nog steeds kos. Ons is ook hartseer oor die ander luiperd wat julle opgespoor het met sy band, dat hy dood is. Lekker verder werk. Ons waardeer alles wat julle vir die diere doen. Liefde groete.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.