Groot op die klein skerm

Hendri, Rochelle, Johrné, Nadia en Elsa is Die Groot Ontbyt se span. Foto: Atterbury Trust.

Hendri, Rochelle, Johrné, Nadia en Elsa is Die Groot Ontbyt se span. Foto: Atterbury Trust.

Dis nou byna twee maande sedert Groot FM uitgebrei het na die kassie toe, met Die Groot Ontbyt op Kyknet. Hierdie hibridiese resep tussen radio en televisie is werklik ’n eerste in die wêreld. Die Atterbury Trust het met die vervaardiger, Riaan Grobler, gesels oor hoe dinge agter die skerms gaan.

Hoe was die eerste maande?

Dit was werklik interessant, maar ook baie uitdagend.  Niemand het regtig geweet presies hoe die program regtig gaan werk nie en van die eerste episode af kon ons dadelik agterkom wat werk en wat nie.

Hoe lyk die terugvoering?

Ons het tot dusver baie goeie en positiewe terugvoering gekry.  Die kyker en radioluisteraar geniet die program en dit is lekker om van oral uit Suid-Afrika terugvoering te kry. Ons kan sien, veral met die kookinsetsel met ons Griekse Sjef Dino, dat die kykers dit geweldig geniet.

Wat is Die Groot Ontbyt se formule? Wat is julle ideale storie?

Die formule is dat radio en TV ontmoet en om daardie resep reg te kry, is nogal ’n uitdaging.  Ons inhoud moet kan werk vir radio en TV en die tegniese uitdaging om dit op altwee mediums te laat werk, is nie kinderspeletjies nie. Ons moet kyk na nuus, weer, verkeer en uiteraard goeie aktuele stories wat belang is vir die kyker en luisteraar met vermaak daarby.

Wie verdien die “Omroeper van die Maand”-prys vir die eerste maand?

Dit sal net verkeerd wees om een spesifieke aanbieder of omroeper uit te sonder.  Johrné, Nadia, Hendri, Elsa en Rouchelle het almal hul staal gewys.  Dit was vir almal ’n uitdaging en ʼn splinternuwe ervaring en elkeen het hulle baie goed van hul taak gekwyt.

Hulle sê mos maklik van iemand dat hy ’n gesig vir radio het. Moes julle vreeslik tooi en mooimaak en begin skeer?

Nie regtig nie, aangesien al die aanbieders reeds TV-ondervinding het en reeds met TV doenig is.  Johrné het reeds vir ʼn hele paar jaar “Gons” aangebied, Nadia het geen bekendstelling nodig met “Boer soek ʼn Vrou” nie, Hendri was in “As Jy Sing” en ook gas-aanbieder van “Bravo!” op verskeie geleenthede.  Elsa was voorheen ʼn nuusleser by “eTV Sunrise”.  Al die aanbieders het dus goeie ervaring en ken reeds die TV medium en komaan, hulle is pragtig en aantreklik, met persoonlikheid!

Behalwe dit, wat was die grootste aanpassing om van radio na televisie te gaan?

Om die radioprogram met die TV te laat “trou” was die grootste uitdaging.  Groot FM 90.5 is ʼn musiekradiostasie en elke keer as musiek speel, moet iets op TV gebeur en dit is waar die grootste uitdaging lê.  Elke keer wanneer ʼn onderhoud byvoorbeeld op radio en TV is en aangaan op TV wanneer musiek op die radio speel, moet die aanbieders kop hou sodat dit vir die radio-luisteraar sin maak as hulle weer inval by die onderhoud.  Maar ons kry dit baie goed reg en die resep werk.

Wie was die lekkerste gaste sover?

Daar was reeds ongelooflike lekker onderhoude, maar as ons iets moet uitsonder sal dit die gesprek met Attooh! se HUB, Wouter Snyman, wees.  Dit was verskriklik interessant en insiggewend.  Zelda la Grange se onderhoud in die tweede week wat ons op lug was, staan ook uit.  Die snaakste onderhoud was met Hykie Berg.  Hykie is ʼn besige gas en hy het Johrné ʼn paar keer onkant gevang.

Kan julle enige blapse met ons deel? Iets wat nie so lekker verloop het soos dit moes nie? En hoe maak mens dan?

Daar is geweldig baie wat agter die skerms gebeur, maar wat die kyker nie noodwendig sien nie, soos mikrofone wat vir die en of ander rede nie wil aanskakel nie, maar op die laaste nippertjie tog wel werk. Op radio het Johrné al ʼn keer of wat die mikrofone aangehou tydens liedjies wat speel en die onderhoud gaan aan op TV. Gelukkig lyk Johrné op die beste van tye asof hy so ʼn bietjie geskrik het, dus kom die kykers nie regtig die verskil agter nie!

Wat was die storie wat tot dusver die grootste reaksie uitgelok het?

Ons het gefokus op kinders wat gebrand het toe klein Kaitlint da Costa onlangs in die nuus was en beswyk het aan haar wonde.  Ons het in die dag se program met Pippie Kruger se ma gesels en ook met Dr Mia wat haar behandel het.  ʼn Kliniese sielkundige het ook ʼn draai kom maak en vir die kykers en luisteraars vertel hoe om sulke trauma te hanteer. Die kykers en luisteraars se reaksie op die onderhoude was geweldig ondersteunend.

Die Groot Ontbyt is weeksoggende op kykNET, van 06:00 tot 08:00.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johanna ·

Vanoggend (29 Oktober) se sewe-uur nuusberig was ‘n absolute ramp, ag nee man regtig! DsTV skuld kykers afslag op die subskripsiefooi vir hierdie vrot, vrot program – dis net die een advertorial na ‘n ander. Wel, Dagbreek het net een jaar gehou so ons tel maar die dae tot GrootOntbyt die aftog blaas en dit sal nie ‘n dag te vroeg wees nie.

Die GROOTontbyt ·

Beste Johanna
Ons vra om verskoning vir vanoggend se nuusberig om 07:00. A.g.v. omstandighede buite ons beheer, was daar ‘n tegniese probleem met die rekenaar waarvan die nuus afgelees word. Ons is jammer ons het jou teleurgestel.
Die #GROOTontbyt

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.