Haai oe, Heksie én ‘Wielie Walie’ nou deel van Liedjietuin

Magda van Biljon bewonder die liedjiebord. (Foto: Verskaf)

Liewe Heksie en Wielie Walie, twee ikoniese Afrikaanse kinderprogramme, het Woensdagaand hul regmatige plek in die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) Afrikaanse Liedjietuin by die Voortrekkermonument in Pretoria ingeneem.

Volgens dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, is daar besluit om treffers van dié legendariese verhale in die FAK se sogenaamde “lewende museum” te vereer danksy die rol wat hul gespeel het om generasies van Afrikaanse jeug te help vorm.

“Vanaand is nie soseer ʼn verering as wat dit ʼn opregte dankie aan ʼn geslag legendes is nie. Dankie dat julle ons lief en trots gemaak het op ons taal.”

Liewe Heksie is ʼn fiktiewe karakter wat Verna Vels, ‘n Afrikaanse kinderboekskrywer, geskep het. Die storie vertel die verhaal van ʼn onbeholpe heksie wat saam met haar vriende in Blommeland woon.

Dit het begin as ʼn boekereeks vir kinders, maar is later op radio uitgesaai en met marionette verfilm vir ʼn gewilde SAUK-televisiereeks.

Vels was destyds ook organiseerder van die SAUK se Afrikaanse joernaalprogramme, wat kinder- en jeugprogramme ingesluit het.

Bekende programme soos Kraaines en Wielie Walie het ook onder haar leiding ontstaan, en sy was vir lank die stem van Bennie Boekwurm asook baie van die karakters in Liewe Heksie, insluitend dié van Levinia (Heksie), Blommie Kabouter en Matewis die kat.

“As ek dink aan ons kinderprogramme en waarom ons standaarde so hoog gebly het, dan dink ek dit is altyd maar mense. Ek dink aan Verna Vels en talle ander bekende persone soos Awie Bosman en Louise Smit. Ek dink daar is min kreatiewe geeste wat so wonderbaarlik geseën was met haar uitsonderlike manier van hantering van kinderwerk,” het Magda van Biljon, bekend as “Tannie Magda” in Wielie Walie, Woensdagaand tydens haar toespraak met die onthulling van die liedjiebord gesê.

Ander lede van die Wielie Walie-familie, insluitende Elma Potgieter, Francois Stemmet, Awie Bosman en Gert van Tonder, bekend as “Oom Gert” in Wielie Walie, het ook die funksie bygewoon.

Frans Swart, besturende direkteur van Lefra Produksies en regisseur van die Liewe Heksie en die Tuindwergie-verhoogproduksie wat die afgelope week by die Voortrekkermonument se Gelofteweek op die planke was, het ook die geleentheid saam gevier en gesê dat Vels “baie trots sou gewees het en die FAK uit haar hart uit sou bedank.”

Swart was destyds ook die kameraman vir die Liewe Heksie-TV-reeks.

“Verna het haar kennis vrygewig met my gedeel. Sy was so oop. Wat sy geskep het met Liewe Heksie is ongeëwenaar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.