Hannes aan’t huis by Whitey Basson

Whitey Basson. (Skermgreep uit ‘Hannes aan huis’)

Hannes van Wyk kuier in dié week se episode van Hannes aan huis by een van Suid-Afrika se vernaamste sakemanne, dr. Whitey Basson.

“Ek het gehoor Whitey kan maar moeilik raak, maar ek het hom glad nie so ervaar nie. Hy het eerlik al my vrae beantwoord. Vir my was dit ʼn heerlike kuier,” het Van Wyk skertsend gesê.

Basson (76), voormalige hoof- uitvoerende beampte van Shoprite Holdings, het in 2016 ná 45 jaar aan die stuur die leisels oorgegee. Hy woon nou rustig saam met sy gesin op Klein DasBosch-wynlandgoed aan die oewer van die Blaauwklippenrivier in die Wes-Kaap.

In Hannes aan huis vra Van Wyk vir Basson uit oor sy bynaam “Whitey”, sy grootwordjare in Porterville, waarom hy ter elfder uur besluit het om nie medies te studeer nie, en oor die man wat wou weet of hy ʼn akteur in die M-Net-sepie Egoli is.

Van Wyk wil ook weet oor meer ernstige sake soos Basson se miljoene, die Steinhoff-skandaal, en die begin van sy sakeloopbaan in 1971.

Renier van Rooyen, wat met ʼn niggie van Christo Wiese getroud was, het Basson destyds genader om die finansiële direkteur van Pep Stores Bpk., die kleinhandelklereketting wat Van Rooyen gestig het, te word.

Sowat agt jaar later het Basson en die kruidenierswareketting Shoprite se paaie gekruis. Dié sakemagnaat het byna sy hele merkwaardige loopbaan by Shoprite deurgebring. Onder sy leiding het die maatskappy gegroei vanaf agt kettingwinkels ter waarde van R1 miljoen tot ʼn wêreldbekende handelaar met meer as 2 300 winkels en 140 000 werknemers in 15 lande, en ʼn markkapitalisering van R114 miljard.

Hierdie indrukwekkende syfers, kom ʼn mens gou agter, is net een sy van Basson se verhaal, want agter die miljoene staan daar ʼn man wat werklik omgee vir sy mense. Basson vertel aan Van Wyk dat dit grootliks te danke is aan sy ouers, Jack en Maude.

“Ek het twee vriende gehad, Esau en Baai, wie se ouers vir ons op die plaas gewerk het. Hulle mag nie met die bus na die plaasskool gery het nie en ek het toe vir my pa gevra om vir hulle ʼn saamrygeleentheid met die bakkie te gee.

“My pa het dit gedoen. Hy was betrokke in daardie sin en het baie politieke besluite teengestaan,” vertel Basson.

Op Van Wyk se vraag of dit ʼn indruk op Basson gemaak het, antwoord hy: “Ja, dit het. Ek het grootgeword in ʼn omgewing waar daar baie armoede was.”

Dit het gelei tot die totstandkoming van USave, ʼn handelsmerk binne die Shoprite-groep wat op middel-LSM-groepe gefokus het.

Kykers wat Saterdagaand se episode van Hannes aan huis misgeloop het, kan die heruitsending Woensdag om 16:00 op kykNET kanaal 144 kyk. Maak seker jy mis nie dié insiggewende onderhoud nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Merkwaardig. Hy loop nie te koop met wat hy vir arm mense doen nie. Welgedaan

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.