Hannes se hondekind van ashoop na TV-ster

Lulie op die stel van “Magda Louw” saam met Hannes van Wyk en Desiré Gardner. (Foto: verskaf)

Hannes van Wyk se skattige hondekind mag dalk Lulie by die huis heet, maar wanneer sy op die stel van Magda Louw is, noem almal haar Cher van Wyk.

Só skerts Hannes oor sy aangenome hond wat al te vrolik langs haar pa op die kassie verskyn het. Haar verhaal herinner hom aan dié van Charlize Theron, sê hy, “eendag op die ashoop, die volgende op die stel van ʼn reeks!”

Hannes het Lulie, wat al sowat ʼn jaar deel van die Van Wyk-gesin is, op ʼn ashoop in Eersterivier opgetel. Hy onthou die dag nog goed, hy was op pad terug van Bloemfontein af toe iemand hom bel en vir hom sê dat daar kwaaijongens in die omgewing is wat die hond met klippe bestook.

As daar een ding is wat Hannes briesend maak, vertel hy, is dit dieremishandeling.

“Ek het al in die moeilikheid gekom hieroor, maar ek is vandag steeds eintlik liewer vir honde as mense,” sê Hannes. “Ek sal mense iets aandoen as ek moet hoor hulle het ʼn dier mishandel.”

Hannes, wat al nege diere in sy lewe gered en aangeneem het, wou aanvanklik nie nog ʼn hond aanneem nie. Toe hy egter die eerste keer sy oë op Lulie gelê het, het hy geweet sy gaan deel van die gesin word.

Sy was destyds verskriklik uitgeteer en vol luise, die veearts het self nie geweet of sy gered kan word nie.

“As ʼn dier net weer liefde en aandag kry, ontpop hulle heeltemal,” sê Hannes aan Maroela Media. “En vandag het sy ons hele huis oorgeneem!”

Lulie was intussen saam met haar pa in die tweede seisoen van Magda Louw, die gewilde kykNET-reeks, te sien. Sy het die ervaring terdeë geniet, sê Hannes trots, hoewel hy erken dat dit nie altyd maklik is om met jou eie dierekinders op ʼn stel te werk nie.

Sy het haar verskyning gemaak nadat Hannes se karakter in die reeks, oom Erhard, van sy geliefde Giel moes afskeid neem. In die regte lewe, het die hondjie wat Gielie vertolk darem nie gesterf nie, maar bloot afgetree.

Die skrywers het dit goedgedink om vir oom Erhard nog ʼn dierekind te gee, en dit is toe Hannes voorstel dat sy eie Lulie ʼn goeie kandidaat is.

Dit is vir Hannes heerlik om deel van dié trefferreeks te wees.

(Foto: verskaf)

“Mense kan vereenselwig met die karakters,” vertel hy. “Dit is waarom hulle so baie daarvan hou. Jy sien jouself, pa of selfs oupa in die karakters. Dit is ook vir my op ʼn ander vlak lekker aangesien nie almal besef dat dit ek is wat die rol van oom Erhard vertolk nie.”

Hy sien ook uit na ʼn nuwe seisoen van Hannes aan huis, wat op 10 April weer op kykNET (DStv-kanaal 144) afskop. Dit is egter nie die enigste ding waarmee hy homself die afgelope paar maande besig gehou het nie.

Hannes stel eersdaags sy eie parfuum, Theatre, bekend.

“Ek het nog altyd gehou van verskillende geure, en wou iets doen wat heeltemal anders is. Dit hou mens kreatief.”

ʼn Ingebore liefde vir diere

Wanneer Hannes nie besig is met sy werk as toesighoudende regisseur by Suidooster of in Kwêla se aanbiederstoel sit nie, is hy besig om bewustheid te skep oor diere-aanneming.

“Mense hou daarvan om diere aan te neem wanneer hulle nog klein is. Dan word hulle groot en eindig met ʼn ketting om die nek.

“ʼn Dier is ʼn groot verantwoordelikheid, dit is iets wat ek mense altyd van bewus wil maak.”

Hy erken dat wanneer hy die dag genoeg geld en tyd het, hy ʼn veilige hawe vir diere sal skep.

“In ons huis draai dit om die diere, hulle is so afhanklik van ons. Diere het nie ʼn stem nie, dit is vir my belangrik om daardie stem vir hulle te wees.”

  • Magda Louw word elke Maandagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lettie ·

Ai Hannes, dankie vir jou liefde en omgee. Kan sien Lulie is gesond en baie gelukkig.

Bolandse Nooi ·

Kyk, ek geniet “Magda Louw” ten volle! Ek was woedend vir “Magda” toe sy vir Gielie ‘n hoenderbeen gevoer het wat daartoe gelei het dat hy “verstop” het en het snot en trane saamgehuil toe ou Gielie ‘afgesterf’ het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.