‘Hans steek die Rubicon oor’, ‘Die tragiese saak van Pamina Vermaak’ by Silwerskermfees te sien

Carla Smith as Pamina Vermaak. (Foto: verskaf)

Rolprentliefhebbers kan hul vere begin reg skud vir die heerlike kykervaring wat kykNET se gesogte Silwerskermfees eersdaags weer gaan bied.

Dié fees verskaf reeds vir langer as ʼn dekade ʼn kortfilmmentorskap-platform vir rolprentmakers, en brei dié jaar met ʼn dokumentêr-kategorie uit. Dit sal ook die eerste keer wees dat loodsepisodes van nuwe televisie- en stromingsdiensreekse by dié fees bekendgestel gaan word.

Die 11de kykNET Silwerskermfees vind van 23 tot 26 Augustus by die Bay Hotel en Theatre on the Bay in Kampsbaai plaas. ʼn Glansfunksie vind op die laaste aand van die fees by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum plaas, waartydens die gesogte Silwerskermbeeldjies aan vanjaar se wenners oorhandig sal word.

Dié geleentheid sal dan ook op Sondag 27 Augustus op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai word. Die benoeminge vir die verskeie kategoriepryse sal einde Junie bekendgemaak word.

Die Silwerskermfees beskik vanjaar oor drie kategorieë: vollengte rolprente, kortflieks en dokumentêre.

Vollengte rolprente

Rolprentweergawes van Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor en Annie Klopper se Die tragiese saak van Pamina Vermaak is vanjaar deel van die fees se speelfilmkategorie.

Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé, Sandra Prinsloo en June van Merch sal in Hans steek die Rubicon oor te siene wees, terwyl Carla Smith die skoene van Annie Klopper se Pamina Vermaak gaan volstaan. Christiaan Schoombie, Anna-Mart van der Merwe, Lee-Ann van Rooi, Albert Pretorius, Armand Aucamp en Duane Williams sal almal te siene wees in Die tragiese saak van Pamina Vermaak.

Bradley Olivier en Solomon Cupido se Frankie en Filipé sal ook tydens die fees te sien wees. Dié akteurspaar het die rolprent self vervaardig en die teks saam met Fiela se kind se Brett Michael Innes geskryf.

Donnalee Roberts in ‘Blindelings’. (Foto: verskaf)

Ivan Botha en Donnalee Roberts pak vir die eerste keer ʼn sielkundige riller aan met hul fliek, Blindelings. Ivan staan in die regisseurskoene, terwyl Donnalee die hoofrol van ʼn briljante blinde pianis vertolk. Wilhelm van der Walt, Jacques Bessenger en Ludwig Binge verskyn ook in die rolprent.

Die dramarolprent, Old Righteous Blues, se fokus is op die Wes-Kaap se Kersfeeskore geskoei, met die eeue-oue verhaal van Romeo en Juliet wat ook in dié fliek opgesluit lê. Ayden Croy, Megan Saayman, Kevin Smith, Simon Bruinders en Ivan Abrahams is in dié fliek te sien.

Dokumentêre

Daar sal vanjaar ses dokumentêre rolprente by die fees gewys word:

In Langafstand volg die kameras ’n jong atleet en gemeenskapsrolmodel, Deon-Lee Hendricks, terwyl hy voorberei vir landloopproewe om sy plek in die Suid-Afrikaanse span te verseker.

Pierre van Pletzen in ‘Hans steek die Rubicon oor’. (Foto: verskaf)

’n Gids vir Louzanne volg ’n blinde atleet terwyl sy vir die Paralimpiese spele oefen. Dit is veral geskoei op die verhoudings wat sy deur die jare met haar wedloopgidse gevorm het.

In die aangrypende Call of the Wild sien kykers hoe ’n spesiale klanksafari ’n jong blinde meisie toegang tot die wonders van die natuur gee, terwyl Besmet ontbloot hoe die ikoniese Afrika-leeu hartverskeurend deur wrede vergiftiging bedreig word. Dan is daar ook Born Behind Bars, ’n dokumentêr oor ’n ma wat swanger is wanneer sy tot tien jaar tronkstraf gevonnis word.

Teater na die mense vertel die verhaal van die Cape Flats Players-toneelgeselskap wat onderleiding van wyle Adam Small kragte saamgespan het om teen apartheidsonderdrukking te veg.

Kortflieks

Daar is 14 rolprente wat vanjaar in die Silwerskermfees se kortfilmkategorie gaan meeding.

Vir die eerste keer, sal daar ’n spookstorie op die fees se silwerskerm te sien wees. Die bekroonde aktrise, Zenobia Kloppers, het die skrywerspen van die spokerige Helmhart vasgehou.

Edwin van der Walt is die skrywer en regisseur van Hier│Daar, terwyl Lee Roodt verantwoordelik is vir die kung fu-fliek, Die swart draak ontwaak.

Daar is ook verskeie flieks wat jou na die sneesdoekies sal laat gryp. ’n Doop, wat oor skoolontgroening gaan, is een van dié.

Die lagspiere sal egter ook deur flieks soos Dans dat die biesies bewe, Koors en Karen geprikkel word.

Daar is ook verskeie dramarolprente, insluitend Een saam, Volle Bors, Die Blokke en As wat tydens die fees sal vertoon. Die riller, Werpsel, beloof ook om kykers te boei.

Al die Silwerskermfees-rolprente sal na die afloop van die fees op kykNET en Showmax beskikbaar wees, en van die speelfilms sal ’n draai in fliekteaters en op DStv BoxOffice maak.

Die titels van die TV-programme waarvan loodsepisodes as ’n voorsmakie by die fees gewys word, is nog ’n geheim, maar sal binnekort bekendgemaak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.