Heléne Lombard: Van superfeeks na supersjef

Heléne Lombard in ‘Boerediva’.

Toe die aktrise Heléne Lombard destyds die sepie 7de Laan vaarwel toegeroep het om haar op moederskap toe te spits, het sy nooit kon raai sy sou jare later as televisiesjef weer na die kleinskerm terugkeer nie.

In die splinternuwe VIA-reeks, Boerediva, laat Lombard tradisionele én onkonvensionele disse in die kospotte prut in haar eie, kontemporêre kombuis in Johannesburg.

Lombard, wat veral naam gemaak het as die superfeeks Sandra Stutterheim in 7de Laan, se drie seuns, Lucien (17), Marcel (14) en Ronin (12), wys ook gesig in die gesinsvriendelike program.

“My lewe weg van die kamera het om kos en vriende gedraai en ek is natuurlik aangetrokke tot mense. Ek het ʼn tafel van vyf meter lank en daar is altyd mense by my huis en ek maak altyd kos. My kinders is my proefkonyne,” vertel Lombard in ʼn onderhoud met Maroela Media.

“Dit was wonderlik dat ons die program in my huis kon skiet, want dit het beteken dat ek steeds by my kinders kon wees.”

Hoewel sy nie meer op die kleinskerm te sien was nie, het sy rolle in flieks soos ʼn Pawpaw vir my Darling (2015), French Toast (2015) en Ballade vir ʼn Enkeling (2015) vertolk.

Sy vertel dat sy nie besef het hoe baie sy dit gemis het om voor die kameras te wees totdat sy weer heeltyds moes inspring nie.

Heléne Lombard en haar kinders, Lucien, Marcel en Ronin. (Foto: Verskaf)

“Die kinders word groter en het my nie meer so nodig nie. Ek het begin krapperig raak vir ʼn nuwe uitdaging en Boerediva het op die perfekte tyd oor my pad gekom. Jy besef nie jy hunker na iets nie, totdat jy dit weer doen en dan besef jy net weer hoe lekker dit eintlik is.”

Sy sê kykers kan ʼn huislike program met samesyn, lag en self-doen-wenke verwag. “Daar is altyd ʼn kinkel en alles lyk mooi. Daar is ook altyd iets om te leer en daar is ook altyd aan die einde van die program mense wat die kos eet.”

Lombard vertel sy het haar kombuis self ontwerp. “Dit het ʼn groen-blou voorkoms en dit gaan baie mooi visueel vertoon. Daar is ʼn eiland waarop ek na die kamera se kant toe werk. My kombuis is die hart van my huis. As mense by my kom kuier, sit ons nie in die sitkamer nie, ons sit in die kombuis.”

In elkeen van die 13 episodes maak een van Lombard se vriendinne ʼn draai om te kyk waarmee sy besig is en in die eerste drie episodes deel Lientjie Wessels ʼn mooimaak-wenk of twee.

Heléne Lombard. (Foto: Verskaf)

“Wat die program uniek maak, is dat elke episode ʼn verskillende tema het. Daar is temas soos piekniek, opera, ruk-en-rol (rock ’n’ roll) en padkos.”

Sy vertel sy het elke oomblik op stel ingedrink en was baie opgewonde om die program te skiet. “Dit was vir my lekker om ʼn persoonlike reis met die program te hê. Ek voel ek het geblom en ek hoop dit kom ook so op die kamera oor.”

Lombard sê in Boerediva was sy ʼn “oordrewe weergawe” van haarself. “Soms het ek gevoel asof ek ʼn karakter vertolk. Ek dink beslis ek bring my eie persoonlikheid na die tafel toe, maar dit is ʼn oordrewe weergawe van myself, want ek is nie elke dag ʼn diva nie.”

Sy vertel laggend dat die twee gesinshonde en die pou, Gary, ook ʼn komiese verskyning in die reeks maak. Lombard sê sy het dié pou verlede jaar een oggend in haar tuin aangetref en hulle het later so geheg geraak aan mekaar dat Gary maar daar nesgeskrop het.

“Hy loop oral agter my aan. In die oggende as ek koffie maak, klop hy aan die venster met sy bek en dan moet ek vir hom ontbytpap gee vir brekfis. Hy is baie oulik en die honde het hom darem nou gewoond geraak – aan die begin het hulle sy stertvere uitgepluk, arme ding!”

Boerediva is elke Dinsdag om 17:00 op VIA (DStv-kanaal 147) te sien en is ook op DStv CatchUp beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ellie ·

Oooo, iets om na uit te sien. Gaan daar dalk ‘n herhaling wees, miskien oor naweke? Mederheid mense werk tot 5uur . . .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.