Henré Pretorius: Gesinsman weer terug op die kassie

Henré Pretorius. (Foto: Verskaf)

Henré Pretorius. (Foto: Verskaf)

Henré Pretorius is ʼn gesinsman in murg en been, maar die akteursbloed vloei ook sterk deur sy are en daarom het hy besluit om weer voor die kameras in te skuif.

Hy was jare lank agter die skerms in die televisiebedryf bedrywig as sakeman met sy eie vervaardigingsmaatskappy, maar het onlangs, tot sy aanhangers se groot vreugde, weer op die kassie in die uiters gewilde kykNET-dramareeks Fynskrif verskyn.

In dié reeks vertolk Pretorius die rol van Dewald, ʼn sakeman in die boubedryf, wat Lara Kruger, vertolk deur Tinarie van Wyk Loots, se lewe deurmekaar kom krap, by die werk en in haar persoonlike lewe.

Pretorius vertel hy het dit geniet om aan die reeks te werk aangesien hy reeds jare vantevore saam met Van Wyk Loots gewerk het en hulle ook goeie vriende is.

Hy is ook vol lof vir die ander lede van die produksie. “Dit was ʼn professionele stel en almal het hul beste gelewer om dieselfde doel te bereik. Dit was ʼn lekker kreatiewe proses om by betrokke te wees. Die storie is fantasties geskryf en ek hou van die manier waarop die karakters praat – die produksie is net wêreldklas na my mening.”

Pretorius beskryf Dewald as die katalisator wat die onderliggende probleme in Lara en haar man, Jaco, se huwelik na die voorgrond bring.

“Lara se gesinslewe is op die punt waar dinge uitmekaar val. Haar man en kind, Alex, voel sy is nog altyd behep met werk. Haar komplekse verhouding met Dewald is eintlik die manifestering van haar werk wat té persoonlik raak.”

Hoewel hy nie te veel van die derde seisoen van dié reeks kan verklap nie, wat in April op kykNET begin uitsaai, vertel hy dat daar ʼn paar omstrede dinge gaan gebeur met die tender waarmee Lara hom gehelp het.

Chanelle de Jager en Henré Pretorius in 'Projek Dina'. (Foto: Verskaf)

Chanelle de Jager en Henré Pretorius in ‘Projek Dina’. (Foto: Verskaf)

“Dit lyk of alles nie pluis is nie en Dewald vra Lara dus om te help met die probleme. Daar kom ook ʼn paar goed vorendag wat almal in die moeilikheid kan bring. Dit was die lekker ding van om die rol van Dewald te vertolk, want hy het sekere kwessies in Lara se lewe na vore gebring, wat alles nou omverwerp,” sê Pretorius.

Pretorius is ook tans te sien in die nuwe kykNET-dramareeks Projek Dina, met Chanelle de Jager, Chumani Pan en Tim Theron in die hoofrolle.

Projek Dina speel af in die werks- en lewensomgewing van die blitsreaksie-taakspan, waar die druk hemelhoog en die ruimte vir foute piepklein is. Noudat die taakspan pas saamgestel is deur die Wes-Kaapse polisie – as ʼn manier om die vinnig toenemende aantal gevalle van vermiste persone in Suid-Afrika te bestry – het die lede van die taakspan ʼn skynbaar onmoontlike taak op hande: om die vermiste persone in Kaapstad op te spoor en hulle een vir een huis toe te bring.

Pretorius vertolk die rol van Ronel Oosthuizen, vertolk deur De Jager, se man, Wynand. “Hy is ʼn kunstenaar en meestal tuis saam met die kinders. Ronel het ʼn baie chaotiese en emosioneel dreinerende werk en Wynand is haar veilige hawe.”

Henré Pretorius. (Foto: Verskaf)

Henré Pretorius. (Foto: Verskaf)

So ook is Pretorius ʼn veilige hawe vir sy vrou, Nadine, en hulle drie seuns, onderskeidelik 11, nege en sewe jaar oud. “Toe my kinders kleiner was, wou ek meer tuis wees saam met hulle en my vrou en daarom het ek baie lank slegs op my maatskappy gefokus. Die maatskappy was in Johannesburg, maar ons woon op Darling, so ek moes sewe jaar lank pendel tussen die Goudstad en die Kaap.

“Ek wou meer by my gesin wees, so ek het my aandele in die maatskappy verkoop en besluit ek wil weer meer betrokke raak voor die kameras.”

Hy vertel sy drie seuns het hom nie in Fynskrif gesien nie, maar weet wel hulle pa is ʼn bekende gesig op televisie.

“Hulle het grootgeword op stelle en maak ook hulle eie video’s,” vertel hy.

Tog bly hy steeds lief vir die werk agter die skerms. “So lekker soos dit is om ʼn akteur te wees, is daar nie gereelde werk nie en ek is baie bewus daarvan. Daar is ook natuurlik soveel goeie akteurs wat om dieselfde rolle meeding.

“Ek sou graag vanjaar betrokke wou raak by rolprente, hetsy kortflieks of vollengteflieks. Ek het ʼn  agent in die Kaap en hy help my uitkyk vir lekker rolle. Dit is só lekker om dit weer te kan doen!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Anni ·

Weereens slaan projek di a polisie se naam met plank. As kolonel of brigadier vertrek binne kom, word hul ni getrek ni. Almal hang om Tafel of staan net rond. Nee regtig dis swak. Wonder Wie van SAPD was betrokke met hulp vd sepie.

Anni ·

Weereens word SAPD se naam met plank geslaan in sepie projek Dina. Ek wonder Wie was van hulp met leiding. As konel of brigadier vertrek binne stap, mut hul gesalueer of gestrek word. Almal hang net rond. En di kolonel se rol word ook swak gespeel. Nee Rerig dis patties om minste te sě

Deon ·

Jy praat seker van ‘n ander polisiemag! Ek het so paar dae gelede gesien dat hulle nie eens in gelid kan marsjeer by ‘n begrafnis nie! So ek glo Projek Dina het hul huiswerk deeglik gedoen!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.