Hier is gesigte van ‘The Crown’ se vyfde seisoen

Imelda Staunton as koningin Elizabeth II. (Foto: Facebook/The Crown)

Die bekroonde Netflix-reeks The Crown het Dinsdag gespog met die rolverdeling van sy jongste seisoen.

Kykers sal glo langer wag vir die vyfde seisoen as vir vorige seisoene, met produksie wat deur Covid-19 gekniehalter word.

Die jongste hoofstuk van die reeks, wat geskoei is op die lewe van die Britse koninklike familie, sal glo in die laat 90’s afspeel.

The Crown, wat met elke paar seisoene sy hoofrolle vernuwe om die verloop van tyd aan te dui, het Dinsdag die hoofrolle van die vyfde seisoen onthul.

Die Harry Potter-aktrise Imelda Staunton sal die rol van koningin Elizabeth II vertolk. Claire Foy en Olivia Colman het voorheen dié rol vertolk.

Elizabeth Debicki en Dominic West speel onderskeidelik die rolle van prinses Diana en prins Charles. Debicki se rol as die ontslape prinses is ook reeds vir die sesde seisoen vasgestel.

In twee nuwe stelfoto’s wat deur die reeks uitgereik is, word Debicki op ʼn rusbank gesien. Sy lê met ʼn effense glimlag op haar gesig en met wat lyk soos ʼn brief op haar skoot. West verskyn in ʼn pak soortgelyk aan prins Charles se kenmerkende uitrustings.

Claudia Harrison sal die rol van prinses Anne, prins Charles se suster, vertolk. Leslie Manville is prinses Margaret, die koningin se jonger suster – ʼn rol waarvoor Helena Bonham Carter voorheen ʼn Golden Globe-benoeming ontvang het – terwyl die Oscar-benoemde Jonathan Pryce die rol van prins Philip gaan speel.

Jonny Lee Miller sal die rol van John Major, wat van 1990 tot 1997 die eerste minister van Brittanje was, vertolk. Miller was voorheen in reekse soos Dexter en Elementary en rolprente soos Trainspotting en Aeon Flux te sien.

Hoewel die produksie van die reeks in Julie reeds afgeskop het, sal dit nie voor volgende jaar op die kassie te sien wees nie.

Kyk hier na nog foto’s: Harper’s Bazaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.