Hollywood: James Corden groet; ‘Downton Abbey’ terug op silwerskerm

(Foto: Dia Dipasupil/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied jou ’n opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

James Corden roep kletsprogram vaarwel

Na agt jaar meen die Britse akteur en komediant James Corden dit is nou tyd om sy laataand-kletsprogram, The Late Late Show, te groet.

Hy het tydens Donderdag se uitsending van die program aangekondig dat hy sy lyf nog vir ’n jaar aanbieder gaan hou, waarna hy die program finaal vaarwel sal roep.

“Toe ek hierdie reis begin het, was die bedoeling dat dit ʼn reis moes wees. Dit was ’n reis, ’n avontuur. Ek het dit nooit as my finale bestemming gesien nie,” het hy gesê.

Corden het in 2015 die leisels by die komediant Craig Ferguson oorgeneem.

In sy tyd as aanbieder het hy interessante nuwe insetsels soos “Carpool Karaoke”, “Drop the Mic” en “Crosswalk the Musical” begin.

Hy erken egter dat dit een van die moeilikste besluite van sy lewe was.

“Ek het nog nooit die werk as vanselfsprekend aanvaar nie; die feit dat julle die program vanuit julle huise kyk, of selfs aanlyn kyk – waar ook al julle in die wêreld is. Dat ons die geleentheid kry om julle te probeer vermaak en om tyd saam met julle deur te bring, is ’n absolute voorreg vir my en elke persoon wat hierdie program help maak.”

Hy het dit egter duidelik gemaak dat die volgende jaar net so besig en vol avonture soos die vorige agt sou wees.

“Daar is nog ’n jaar om te gaan, en ons is vasbeslote dat dit die beste jaar van die program gaan wees. Ons gaan op ‘n hoogtepunt afsluit.”

‘Downton Abbey: A New Era’ begin in April 2022 in fliekteaters wys. (Foto: Facebook/Downton Abbey)

Downton Abbey terug op die groot skerm

Downton Abbey-aanhangers kan gerus hul teekoppies uit die kas haal en afstof want die geskiedkundige reeks is eersdaags weer op die silwerskerm te sien.

In 2015 het die reeks tot ’n einde gekom, maar kykers het nog lank nie die lief en leed van die Crawley-familie as afgehandel beskou nie.

In 2019 was ʼn opvolgrolprent van die reeks gemaak, en op 29 April vanjaar word die tweede opvolgrolprent, Downton Abbey: A New Era, uitgereik.

In hierdie rolprent erf die matriarg van die familie, Violet Crawley, ’n Franse villa waarheen die familie op ’n reistog gaan.

’n Hollywood-rolprentspan kom klop ook aan die abdy se deure om ’n stilprent daar te verfilm. Kykers word hier aan Jack Barber, die regisseur van die rolprent, voorgestel, wat deur Hugh Dancy vertolk word.

Afgesien van Matthew Goode wat die rol van Mary Talbot (vertolk deur Michelle Dockery) se man, Henry Talbot, vertolk, is al die bekende gesigte terug in die nuwe insetsel van die Britse drama.

Wizards of Waverley Place-sterre hou reünie op TikTok

Selena Gomez en Jennifer Stone het onderskeidelik die rolle van Alex Russo en Harper Finkle in die Disney- trefferreeks Wizards of Waverley Place, wat van 2009 tot 2012 uitgesaai is, vertolk.

Dié paar het beste vriendinne gespeel wat telkemale met snaakse liedjies en danse vorendag gekom het, waarvan een onlangs deur die twee op Gomez se TikTok-profiel herskep is.

@selenagomez

♬ funky junky hat song – wand.id

Die video het aanhangers omtrent aan die gons gehad. Dit is meer as 26 miljoen keer gekyk en het duisende mense na die kommentaarafdeling gelok.

Gomez is steeds aan die sing en toneelspeel, en was onlangs in die TV-reeks Only Murders in the Building te sien. Hierin het sy teenoor onder andere Steve Martin en Cara Delevigne gespeel.

Stone is nou ’n gekwalifiseerde verpleegster en het self al talle TikTok-video’s van haar avonture in die nuwe beroep gedeel.

Links: Johnny Depp. (Foto: Eric Gaillard/Pool/AFP)
Regs: Amber Heard. (Foto: Daniel Leal-Olivias/AFP)

ʼn Opsomming van die Heard-Depp-drama

Die voormalige egpaar, Johnny Depp en Amber Heard, se lasterhofsaak het hierdie week voortgeduur, en het vir ’n paar opspraakwekkende oomblikke gesorg.

Daar is bekend gemaak dat James Franco en Elon Musk, wat albei op Heard se lys van getuies was, nie meer gaan getuig nie. Heard was met albei mans romanties verbind.

Een van Heard se prokureurs het ook intussen die hoofopskrifte gehaal, alhoewel dit nie noodwendig om die regte redes was nie. Op 25 April het Ben King, Depp se huisbestuurder, agter die getuienisbank ingeskuif waartydens hy deur Adam Nadelhaft ondervra is.

Nadelhaft het ’n vraag aan King gerig oor Depp se verlore vingers. Voordat King ’n behoorlike sin kon sê, het Nadelhaft ywerig “Hoorsê!” uitgeroep. Die regter, Penney Azcarate, het hom egter daarop gewys dat hy die vraag gevra het en dat King dit net probeer antwoord het. Die voorval het tot Depp aan’t giggel laat raak, nes talle ander in die vertrek.

Dr. Jessica Taylor, ’n psigiater wat deur Depp se regspan aangestel is, het getuig dat Heard aan grenslynpersoonlikheidsteuring ly.

Talle TikTok-gebruikers toon reusebelangstelling in die saak, en daar word daagliks nuwe video’s van die dag se hofgebeurtenisse opgelaai.

Bronne: The Hollywood Reporter, Variety, Popsugar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.