Hollywood: ‘That ‘70’s Show’-verkragter se vrou wil nie skei, Drew Barrymore in die sop

Danny Masterson en Bijou Phillips. (Foto: Bryan Bedder/Getty Images/AFP)

Maroela Media bied jou ʼn opsomming van die week se jongste internasionale vermaaknuus.

Vrou van ‘That ‘70’s Show’-verkragter wil nie skei

Bijou Philips, die vrou wat al sedert 2011 met Danny Masterson, die akteur en veroordeelde verkragter, getroud is, beplan nie om van hom te skei nie.

Masterson is vroeër vandeesmaand 30 jaar tot lewenslank tronkstraf opgelê nadat hy in Mei vanjaar op twee van drie aanklagte van verkragting skuldig bevind is.

People het berig vriende en familie ondersteun haar tans en dat sy nie beplan om van haar man te skei nie.

Tonge het op sosiale media geklap nadat dit bekendgemaak is wie almal briewe ter ondersteuning van Masterson geskryf en ingedien het. Mense wat briewe geskryf het, sluit onder andere Masterson se That ‘70’s Show-mede-akteurs Ashton Kutcher, Mila Kunis, Debra Jo Rupp (Kitty) en Kurtwood Smith (Red) in.

Die briewe is deur die regsverslaggewer Meghann Cuniff gepubliseer.

Kutcher en Kunis moes veral bontstaan oor hul briewe, en het selfs ʼn video op sosiale media gedeel waarin hulle jammer sê vir enige skade wat hulle daarmee berokken het.

In Kutcher se brief noem hy Masterson sy rolmodel, en skryf dat hy “buitengewoon eerlik” is en dat Masterson “een van die min mense is wat ek alleen saam met my seun en dogter sal toelaat.”

Kunis het geskyf dat Masterson ʼn “uitsonderlike karakter” het en ʼn “geweldige positiewe invloed” op haar gehad het.

Kyk na Kutcher en Kunis se verskoningsvideo hier:

Drew Barrymore in die sop

Die Amerikaanse nasionale boektoekennings het Drew Barrymore die trekpas gegee nadat die vierde seisoen van haar geselsprogram afgeskop het sonder sy skrywers.

Barrymore sou as aanbieder by dié toekenningsgeleentheid optree, maar is die geleentheid kwyt nadat die organiseerders van die boektoekennings besluit het om eerder steun aan die Hollywood-skrywerstaking te bied.

Drew Barrymore. (Foto: Angela Weiss/AFP)

Dié staking is sedert Mei vanjaar aan die gang, en het talle dele van Hollywood tot stilstand geruk. Nadat akteurs in Julie vanjaar ook begin staak het, is dié glansryke stad byna heeltemal lamgelê.

Die skrywers en akteurs het aan die staak gegaan vir beskermingsmaatreëls teen kunsmatige intelligensie (KI) en kwynende vergoeding.

Kykers gaan ook onbepaald wag vir rolprente soos Dune Part Two, Deadpool 3, Beetlejuice 2, It Ends With Us, Spiderman 4, Gladiator 2 en die rolprentweergawe van Wicked.

Richard Gere, Jason Sudeikis, Susan Sarandon, Olivia Wilde, Joey King, Billie Crystal, Alison Brie, Dave Franco, Mandy Moore, Anna Kendrick, Holland Taylor, Colin Farell, Jessica Chastain, Sarah Paulson en Jack Black is enkele van die akteurs wat aktief aan protesaksies deelneem.

Daar is nog nie enige aanduiding dat die stakings binnekort ten einde gaan kom nie.

Opspraakwekkende dokkie oor Kardashians op pad

ʼn Dokumentêr wat die lewe van die Kardashian-familie gaan oopvlek, is op pad.

Die Kardashian-familie. (Foto: Jean-Baptiste Lacroix /AFP)

House of Kardashian, ʼn dokumentêre reeks met drie episodes oor die Kardashians en hoe hulle bekend geword het, sal binnekort op die kassie te sien wees.

Mense na aan die Kardashians sal deel van die dokumentêr wees en lig op die gesin se doen en late werp. Caitlyn Jenner, wat voorheen met Kris Jenner getroud was, sal ook in die dokumentêr verskyn.

“Ek het graag aan die onderhoudproses deelgeneem om my kant van die saak te deel. Dit wys na die mag, invloed en bekwaamheid wat my familie getoon het om die wêreld se aandag te kon kry en hou deur al hierdie jare,” het Caitlyn aan Variety gesê.

“Ek is ongelooflik trots op al my kinders en stiefkinders.”

Kyk die lokprent van House of Kardashian hier:

Bykomende bronne: E! News, Variety, Hollywood Life, Vanity Fair

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.