Huldeblyke stroom in vir Aleit

Aleit Swanepoel (argieffoto)

Dit is pas bevestig dat Aleit Swanepoel rustig in sy slaap as gevolg van ‘n miokardiale infarksie, ‘n soort hartaanval, gesterf het.

“Die onmiddellike leemte wat Aleit [Swanepoel] agterlaat, is dat ons ons geliefde kollega en vriend verloor het. Ons gaan hom so verskriklik baie mis.”

Só sê Lindi Erasmus, mediakoördineerder van The Aleit Group, oor die skielike afsterwe van die stigter en voorsitter van die groep.

Swanepoel was die aanbieder van die kykNET-kletsprogram, Tyd met Aleit, ’n omroeper wat onder meer by HelderbergFM in die Wes-Kaap gewerk het. Hy was ook ’n kranige troubeplanner, en het selfs die voormalige Mej. Suid-Afrika en Mej. Wêreld, Rolene Strauss, se troue beplan.

Huldeblyke vir Swanepoel het sedert die aankondiging van sy afsterwe Maandag ingestroom.

Erasmus het gesê Swanepoel het ’n reuserol in diegene om hom se lewe gespeel.

“Hy was soveel meer as net ’n kollega vir almal en ek dink dis alles te danke aan die soort mens wie hy was. Hy was ’n alles-of-niks-persoon. As hy oor jou omgee, gee hy oor jóú om en loop die ekstra myl vir jou sonder dat jy eers moes vra.”

Sy verduidelik verder dat Swanepoel die pa en stigter van die sakeonderneming was en dat die skoene wat hy volgestaan het moeilik weer gevul kan word.

“Saam met die onderneming is daar beslis ook ’n leemte in die mense se harte. Hy het hulle geraak op ’n daaglikse grondslag, of dit nou persoonlik of oor sosiale media was met sy skryfstukkies of #WoensdagAandLive-video’s waarna mense so uitgesien het. Dis eintlik baie hartseer, want mense se dae gaan nou ’n bietjie slegter wees sonder sy uitbundige lag en daaglikse opkikkering.”

Dis juis die vrolike geaardheid van Swanepoel wat die meeste gemis gaan word.

“Iets wat my altyd laat lag het, is as hy sê hy moet klere uit sy ‘vet-kas’ uithaal, want sy ‘maer-kas’-klere pas hom nie meer nie.

Sy groot glimlag het almal altyd beter laat voel. Sy lewensleuse was ‘as jy iets kleins vir iemand anders kan doen wat hul lewe ’n bietjie beter kan maak – doen dit’.”

Die TV-persoonlikheid, Hannon Botma, het ’n foto van hom en Swanepoel op Instagram gedeel met die woorde: “Slaap sag, my vriend, ’n laaste heildronk op jou.”

Daniëlla van Heerden het die nuus op haar Facebook-blad gedeel met die woorde: “Aleit het in 2018 by ons huis kom kuier vir ‘n episode van sy program, en hy was so ’n besonderse mens – vriendelik, hartlik, opreg. Wat ‘n reuseverlies vir almal wat hom geken het, maar veral sy naastes en sy dogtertjie.”

Waldimar Pelser, M-Net-direkteur van kykNET-kanale, het aan Maroela Media bevestig dat die afsterwe van Swanepoel ’n groot skok en verlies vir kykNET is.

“Die kykNET-span het met skok verneem van die dood van Aleit, wat ’n gewilde aanbieder onder ons kykers was. Sy onblusbare energie en passie het almal geraak wat hom geleer ken het. Ons dink aan sy familie, vriende en kollegas.”

  • Die berig is gewysig sedert dit aanvanklik gepubliseer is. – RED

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Bernard ·

Dis nie ‘n probleem van “deesdae” nie. Hartaanvalle is bloot meer ‘n risiko na die ouderdom van 45 jaar. Geen waarskuwing is eers nodig nie. Tragies nietemin.

Marie ·

So baie jong fiks mans sterf deesdae aan hartprobleme, baie eienaardig. Veral die Pfizer inentings word met hartspier inflammasie verbind. My meegevoel aan die familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.