Huldeblyke stroom in vir ‘Binnelanders’-akteur

Huldeblyke vir Bradley Olivier stroom in. (Foto: Bradley Olivier/Facebook)

“Ek wens ek het net nog een week gehad. Ek het die laaste paar dae so hard gebid en gevra: ‘Here, ek wil nie selfsugtig wees nie, ek vra net vir nog een week.’ Een week van saam-saam uit volle bors sing, een week se gesprekke oor films, politiek en musiek, een week se lag vir ons eie simpel grappe. Een week. Dis al. Maar Hy het ander planne met jou gehad.”

So lui die hartroerende huldeblyk wat Germandt Geldenhuys, een van die hoofspelers in Binnelanders, ná die afsterwe van Bradley Olivier gedeel het.

Bradley, wat bekend was vir sy rol as Danny Jantjies in Binnelanders, is Donderdag in die Life Flora-hospitaal in Roodepoort dood. Sy familie het Woensdag in ʼn verklaring bevestig dié 36-jarige akteur word deur masjiene aan die lewe gehou word, en dat daar nie vooruitsigte vir beterskap was nie. Besonderhede oor Bradley se siektetoestand is nog nie bekendgemaak nie.

Bradley saam met van sy “Binnelanders”-kollegas. (Foto: Bradley Olivier/Facebook)

Huldeblykboodskappe het sedertdien vir die geliefde akteur ingestroom.

Bradley saam met Gerald Steyn, Clinton Brink en Reynardt Hugo op die stel van “Binnelanders”. (Foto: Bradley Olivier/Facebook)

“Bradley was een van daardie mense wat in ʼn vertrek ingestap het, en dadelik die vertrek verhelder het. Hy was altyd positief, het altyd ʼn glimlag op sy gesig gehad en het altyd ʼn tydjie afgeknyp vir ʼn storie of ʼn grappie,” het Je-ani Swiegelaar Vrydag vir Maroela Media gesê.

“Hy was ʼn ongelooflike talent – daardie man se talente het geen perke geken nie. Dit is steeds baie onwerklik dat hy weg is.”

Bradley sal nog vir die volgende drie maande steeds in Binnelanders te siene wees.

“Vir drie maande gaan ons nie die werklikheid besef nie, maar sy nalatenskap sal voortleef in die werk wat hy gedoen het.”

Maude Sandham, wat vir jare teenoor Bradley gespeel het, het ook ’n huldeblykboodskap met Maroela Media gedeel.

“Bradley, jy was ’n lojale vriend. Jy het in ander se talente, drome en planne belê en altyd opgevolg.”

“Jy het so baie tyd en liefde vir almal gehad, en tog het jy nie nonsens geduld nie. Ek gaan jou gesingery, stoute grappies, en jou fronsende gesig mis. Ek is so trots op jou suksesse. Jou talente en kreatiwiteit is jou nalatenskap. Vir jou gaan ek die lewe aangryp met albei hande, al is dit soveel meer leeg sonder jou lag en jou drukkies.”

Tientalle akteurs, kollegas en vriende, insluitend Kate Roothman, Clinton Brink, Mila Guy, Odelle de Wet, Cindy Swanepoel, Gerald Steyn en Craig Urbani het hulde aan Bradley op sosiale media gelewer.

Bradley en Lindsey Cele, wie vir jare die rol van sy meisie in “Binnelanders” vertolk het. (Foto: Bradley Olivier/Facebook)

“Sjo Bradster … jy gaan verskriklik gemis word. Jy was ʼn groot ondersteuner van Annelize se wardrobe, altyd ʼn kompliment gegooi,” lui Cindy se boodskap.

“Ek was so opgewonde vir jou nuwe avonture. Dit voel onwerklik om met jou in die verlede te praat. Jou lag kan ek nog kliphard hoor. Rus sag.”

Olivier het in 2007 sy TV-debuut in die sepie Villa Rosa gemaak. Hy was sedertdien betrokke by ʼn verskeidenheid van produksies, onder meer rolprente, reekse, telenovelle, sepies, verhoogstukke en op die radio.

“Bradley was ʼn buitengewone teenwoordigheid in ons lewens, geken vir sy talent, prestasies en toewyding tot sy kuns. Hy het die harte van baie mense reg oor die land geraak, en het ʼn onuitwisbare merk op die bedryf en gemeenskap gelos,” het Solomon Cupido, skrywersvennoot en familiewoordvoerder vir Bradley vroeër vandeesweek in ʼn verklaring gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat Bradley ʼn hegte band met sy dogtertjie, Kiara, gehad het.

Bradley saam met sy dogtertjie. (Foto: Bradley Olivier/Facebook)

Sy wense vir sy Kiara, of “Angel face” of Kiki, soos hy haar soms genoem het, is hope liefde en vryheid vir die toekoms.

“Ek hoop sy kan eendag doen waarvoor sy lief is, wat dit ookal is. Sy moet die lewe op haar eie terme en reëls aanpak. Een van die lewenslesse wat ek haar leer, is dat ’n mens nie altyd die wenner is nie. Soms moet jy vir ander mense hande klap en soms is dit weer jou beurt dat mense vir jou hande klap.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cornel ·

Ai seun so jammer dat jy so vroeg moes gaan…ek dink aan jou ouers en al jou familie en vriende. Ons gaan jou mis want jy was oulik. Rus in vrede

Althes ·

My hart is ongelooflik seer vir sy familie. Hy was ñ gewilde akteur. Die skok is enorm en ongelooflik.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.