Hulle moet eers by familie ‘Vlerksleep’

Foto: kyknet.dstv.com

Foto: kyknet.dstv.com

Liefde wag dalk net om die draai. In kykNET se jongste telvisiereeks, Vlerksleep, kry enkellopendes geleentheid om vlerk te sleep en dalk die maat van hul drome te ontmoet. Die reeks begin op 4 Julie.

Daar is egter ʼn kinkel in die kabel: Mense wat op dié program verskyn moet eers vlerk sleep by die geliefde se familie voordat hy of sy ʼn afspraak kan kry.

Wilmer Muller, kykNET se publisiteitsbeampte, sê dié werklikheidsreeks is geskoei op die konsep van Date My Family.

“Die konsep van die reeks is rofweg daarop gegrond om ʼn moontlike geliefde op ʼn romantiese afspraak te neem,” verduidelik hy. “Dit gaan nie bloot net oor die maat se voorkoms nie, maar oor die persoonlikheid wat jy van die persoon geskets het deur gesprekke met sy of haar familie en vriende te voer.”

Enkellopendes ouer as 18 jaar kry op dié program die geleentheid om een van vier moontlike persone op ʼn spesiale afspraak te neem, maar eers nadat hulle dié vier se familie en vriende ontmoet het.

In die episode wat op 4 Julie op die kassie is, gaan kuier die vlerksleper, Herman, by twee moontlike pasmaats. Gaan die bikini-model Laetitia of die borrelende onderwyser Marlé Herman se hart steel? Of is dit moontlik die blonde Petra of die natuurliefhebber Shelani?

Vlerksleep word Maandae om 21:00 tot 21:30 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.