‘Hy is soos tweede vel’ sê akteur oor ‘Summertide’-patriarg

Andre Jacobs. (Foto: verskaf)

Alhoewel Andre Jacobs aanvanklik huiwerig was om ja te sê vir ʼn lang projek, is Summertide vandag vir hom soos ʼn briesie vars lig waaroor hy nimmer as te nooit spyt is nie.

Dié akteur is sedert Januarie vanjaar in dié gesinsdrama, wat uiteindelik uit 52 episodes sal bestaan, te sien. Hy vertolk die rol van Jack Field en speel teenoor verskeie bekende gesigte, onder wie Terry Norton (Wilma Field), Frank Rautenbach (Martin Field) en Amalia Uys (Julia Field). Hy is ook tans in kykNET se Plan B te sien.

Summertide bestaan uit vier reekse van 13 episodes. Jy moet op jou game wees en presies weet wat tussen die karakters plaasvind,” vertel Andre aan Maroela Media.

“Dit is die eerste keer in my lewe wat ek so ʼn lang projek aanpak. Ek was aanvanklik huiwerig, maar nou is ek baie bly dat ek deel daarvan is. Die hele produksiespan en al die akteurs is wonderlik. Boonop verstaan ek my karakter nou al vreeslik goed.”

Hy bieg dat hy voorheen nog nie die geleentheid gehad het om in ʼn Engelse Suid-Afrikaanse reeks te wees nie. Hy was al menigte kere deel van oorsese projekte, insluitend Black Sails en AppleTV se Invasion, waar hy nog elke keer ʼn aksent of twee moes gebruik om sy Suid-Afrikaanse aksent te verbloem.

“Dit is lekker om net te kan speel sonder om te bekommerd te wees oor aksente en dinge. My sin vir humor oorvleuel ook met dié van Jack; hy sit nou al soos ʼn tweede vel vir my.”

Hy is nou al goed vertroud met ʼn wye verskeidenheid stelle, en steeds glo hy dat Suid-Afrikaanse produksiespanne hoegenaamd nie hoef terug te staan vir internasionale projekte nie.

“Ons bedryf is in ʼn baie gesonde ruimte en beslis nie onbekend oorsee nie. Ons word al hoe meer aanvaar reg oor die wêreld omdat ons akteurs en produksiespanne wonderlik is.”

André het reeds in 1977 as akteur begin werk nadat hy sy nagraadse studies aan die Londen Akademie vir Musiek en Dramatiese Kunste (LAMDA) voltooi het. Hy beskryf sy tyd as dramastudent as ʼn broodnodige grondslag waarop hy vandag steeds sy loopbaan bou.

Andre Jacobs (links) vertolk die rol van Jack Fields in “Summertide”. (Foto: Mnet)

Voordat hy die langpad Londen toe aangepak het om sy studies voort te sit, het hy drie jaar by Rita Maas in Kaapstad voltooi. Hy is spesifiek in klassieke teaterwerk opgelei en hoewel hy in sy jarelange loopbaan in verskeie teaterproduksies te siene was, het hy reeds ʼn dekade gelede besluit dat die teaterwêreld hom nie meer beskore is nie.

Een van sy laaste teaterproduksies was Wie’s bang vir Virginia Woolf? waarin hy teenoor ʼn doyenne van die teater, Sandra Prinsloo, gespeel het. Die gejaagde aard van teaterwerk het hom egter opgekeil, hy het moeg geraak daarvoor dat hy nooit gemaklik kon raak met ʼn karakter voordat die produksie op die planke moes wees nie.

“Jy kry net drie weke om te repeteer. Jy sit skaars die boek neer dan moet jy speel. Ek was moeg – dit is verskriklike harde werk om die teaterstuk te leer ken, en dan kry jy nie genoeg tyd om dit goed af te slyp nie.

“En dit is nie net so met Suid-Afrikaanse feeste nie, maar ook met dié wat oorsee plaasvind,” sê Andre, wat vroeër in sy loopbaan by ʼn fees in Edinburgh, Skotland, opgetree het.

Alhoewel hy sy tyd in die teater geniet het, erken hy dat daar ʼn “geweldige omstandighede moet ontstaan” vir hom om ooit daarna terug te keer.

Hy het reeds ʼn reuseverskeidenheid karakters agter die blad, tog weet hy presies watter soort karakters nog steeds op sy emmerskoplys is.

“Die leier van ʼn groot filharmoniese orkes, soos Bradley Cooper in Maestro, en ʼn rol in die Suid-Afrikaanse weergawe van Succession.”

  • Summertide word elke Sondagaand om 18:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.