‘Idols’-wenners: Waar is hulle nou?

Dewald Louw was die eerste wenner van die Afrikaanse Idols-seisoen. (Foto: Instagram/Dewald Louw)

Ná 18 seisoene en twee handevol wenners is Idols steeds een van die gewildste sangtalentkompetisies op eie bodem.

Dié kompetisie, wat wêreldwyd aangebied word en bekendes soos Kelly Clarkson, Carrie Underwood, Adam Lambert, Jennifer Hudson en Will Young opgelewer het, het plaaslik ook groot name in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf ʼn eerste hupstoot tot musieksukses gegee.

Heinz Winckler het in 2002 die eerste seisoen van Idols SA gewen en die gewilde Afrikaanse musikant en televisiepersoonlikheid Elvis Blue het in 2010 die gesogte kompetisie gewen.

Die kompetisie het ook die blondekop Andriëtte Norman se musiekloopbaan help afskop en die Afrikaanse sanger en televisiepersoonlikheid Willem Botha het ook die Afrikaanse weergawe van Idols as lanseerplek vir sy loopbaan gebruik toe hy in 2006 tweede gekom het naas Dewald Louw in dié kompetisie.

Louw was 21 jaar oud toe hy aan Idols deelgeneem en uiteindelik met die groot titel weggestap het.  Hy het daarna in Johannesburg gewoon en ʼn paar albums opgeneem en reg oor die land met sy musiek getoer.

Hy vertel aan Maroela Media het hy het in 2014 verder studeer in die rigting van sielkunde, “bloot uit belangstelling in die veld”.

Dewald Louw en sy meisie, Karen Loubser. Hy is deesdae ‘n sielkundige in Kaapstad en sy is ‘n kandidaatprokureur. (Foto: Instagram/Dewald Louw)

“Ek het die tawwe keuringsproses aangedurf en het later, tot my verbasing, ook toelating vir my meestersgraad gekry. In Suid-Afrika het jy ʼn meestersgraad nodig om as sielkundige te praktiseer,” vertel Louw, wat vandag as sielkundige by ʼn psigiatriese kliniek, asook met sy eie private praktyk, sy brood en botter in Kaapstad verdien.

“Die sielkunde is baie bevredigend, maar neem die meeste van my tyd in beslag. Daarom is ek die afgelope paar jaar veel minder op die verhoog te sien.”

Hy het wel aan die einde van verlede jaar weer saam met ʼn sewestuk-orkes begin toer as deel van ʼn Queen-produksie, waarin hy treffers van dié ikoniese pop‑rockgroep sing.

“Omdat my tyd so beperk is, het ek nogal kieskeurig geraak met die optredes waarby ek betrokke raak. As sanger in Suid-Afrika kan ʼn mens ook soms uitgebuit word – jy werk hard vir min of soms geen betaling nie – en ek moes leer om my grense te stel,” verduidelik hy.

“Toe die Queen-produksie oor my pad kom, kon ek egter nie nee sê nie. Ek het in 2015 as deel van my sielkundenavorsing ʼn persoonlikheidsanalise van Freddie Mercury gedoen – hoe toevallig! In die produksie probeer ek nie om Freddie na te maak nie. Ek hou net daarvan om sy musiek te sing en doen my eie ding. Dit is beslis die moeilikste musiek wat ek nog ooit moes sing en ek geniet die uitdaging.”

Hoewel hy dit steeds terdeë geniet om op die verhoog te wees, dink hy nie hy sal sommer weer voltyds terugkeer na die beroep van sanger nie.

“Om slegs te sing, beperk my te veel. Dit was bevrydend om te besef dat ek ook ander opsies en belangstellinge het. Nou kan ek sing omdat ek dit geniet en nie omdat ek my motor en rekeninge moet betaal nie.

Dewald Louw. (Foto: Facebook/Dewald Louw)

“Ek dink tog die sielkunde en die musiek vul mekaar aan. Terapie is intensief en kan soms emosioneel uitputtend wees. Dit is daar waar die musiek my help om die fantasie van die verhoog uit te leef.  Ek dink die twee balanseer mekaar goed.”

As hy terugdink aan sy Idols-ervaring, wek dit ʼn nostalgiese gevoel by hom en is van sy beste herinneringe sy vertonings op dorpies oor die land heen, sê hy.

“Dit was goeie tye. Idols het my gevorm as mens. Ek sou nooit myself so goed geken het as dit nie vir die musiekbedryf was nie. Daar was soveel hoogtepunte en baie laagtepunte en ek moes vroeg volwasse word. Ek was soms naïef en arrogant, maar dit was deel van grootword.”

Louw benadruk dat werklikheidsreekse nie vir almal is nie.

“Jy moet ʼn dik vel hê. Dit help as jy jonk is, want jy oordink nie alles nie – soms uit onnoselheid. My raad: Talent is nie genoeg nie – dit is ʼn besigheid. Werk aan jou produk; jou stem, sterk liedjies en jou handelsmerk. Moenie al jou eiers in een mandjie gooi nie – ʼn tweede inkomste kan jou musiekloopbaan dalk ondersteun.”

Waar is die ander wenners nou?

Anke Pietrangeli het in 2003 die Idols SA-kompetisie gewen. (Foto: Facebook)

Intussen wonder Idols-aanhangers ook wat van wenners soos Anke Pietrangeli, Karin Kortjé, Jody Williams, Jason Hartman, Sasha-Lee Davids en Dave van Vuuren geword het.

Pietrangeli (nou 40), wat in 2003 die Idols SA-kompetisie gewen het, het met haar sterk stem en helder blou oë die bynaam van The Kimberley Diamond gekry toe sy aan die kompetisie deelgeneem het.

Sy het in 2019 aan News24 gesê sy woon in Kaapstad saam met haar man en ʼn babadogtertjie, wat destyds slegs sewe weke oud was.

Sy het ook toe saam met ʼn orkes, Late Final, opgetree. Sy het toe gesê dat Idols haar toegelaat het om ʼn musiekloopbaan aan te pak, ten spyte van die talle uitdagings wat sy beleef het.

“As dit nie vir die program was nie, sou ek nie op die pad gewees het waar ek tans is nie. Ek sou seker in ʼn ander dorp gewoon het saam met ʼn ander eggenoot. Dit was ʼn leerskool en het my op die regte pad gelei waar ek vandag is.”

Karin Kortjé van Grabouw in die Wes-Kaap is in 2005 as die wenner van Idols SA aangewys. Sy het in Maart 2021 in ʼn televisieonderhoud met Afternoon Express se Palesa Tembe gesê die afgelope 15 jaar was “’n ongelooflike ervaring waarvoor sy net die Here kan bedank”.

“Ek het ʼn doel voor oë gehad en wou nie teruggaan na waar ek vandaan gekom het nie. Met dit in gedagte het ek deurgedruk en probeer om die beste in alles te sien. Dit het my gemaak wie ek vandag is en ek is sterker. Ek is dankbaar dat ek nie opgegee het nie.”

Karin Kortjé was die derde wenner van Idols SA. (Foto: Facebook/Karin Kortjé)

Sy het ook ʼn enkelsnit, “Live out loud”, uitgereik. Sy het ook intussen die ma van vier seuns geword. “Buiten om ʼn ma te wees vir my kinders, moet ek ook ʼn rolmodel wees en wys dat ek nie tou opgooi nie.”

In 2007 het Jody Williams die kompetisie gewen, maar sy het in 2019 aan IOL gesê sy het ophou sing nadat dié kompetisie haar “lewe verwoes” het.

Sy het glo in ʼn rusie met haar familie betrokke geraak en die mense wat haar loopbaan bestuur het, het haar ingeloop, het sy vertel. Sy het intussen as ontvangsdame begin werk en is “baie gelukkig”.

Jason Hartman en Sasha-Lee Davids het in 2009 die titel van Idols-wenner gedeel nadat M-Net, wat destyds die reeks uitgesaai het, besluit het die stemme deur die publiek was te na aan mekaar om vir Davids ʼn tweede plek te gee. Dit was ʼn eerste vir dié kompetisie en het groot opspraak gewek.

Hartman het intussen twee albums uitgereik terwyl Davids op die werklikheidsprogram Huis van Davids saam met haar gesin verskyn het. Sy het ook onlangs ʼn snit saam met Johan Anker getiteld “Ek belowe” uitgereik.

Johan Anker en Sasha-Lee Davids. (Foto: Verskaf)

Dié snit is deur Anker geskryf en is ʼn liefdesballade met ʼn geestelike aanslag wat Anker se ouers se huwelik van 40 jaar huldig.

Dave van Vuuren, wat in 2009 die kompetisie gewen het, maak steeds musiek en is nou die voorsanger vir die groep Southern Wild. Hy is ook ʼn inhoudskepper vir ʼn digitale maatskappy en is sedert 2013 met Jess van Vuuren getroud.

Berenike “Berry” Trytsman, ʼn ma van vier, is in November verlede jaar as die wenner van die 17de seisoen van die gewilde sangkompetisie Idols SA aangekondig.

Trytsman het onder meer ʼn kontantprys van R1 miljoen, ʼn platekontrak van Kalawa Jamzee Records, ʼn Renault Kiger ter waarde van R269 000, Truworths-geskenkbewyse ten bedrae van R100 000, ʼn beurs ten bedrae van R260 000 van Regenesys Business School, Yamaha-musiektoerusting ter waarde van R85 000 en ʼn Samsung Galaxy Fold 3-selfoon met die Vodacom Red 1000GB-plan gewen.

Sy het ook haar nuwe Zoeloe-enkelsnit getiteld “Ungowami” uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.