Inskrywings vir ‘Boer soek ʼn vrou’ nou oop

Marciel Hopkins. (Foto: Sulet Fourie)

Die 15de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekprogram, Boer soek ʼn vrou, het vir drie uit die top-vyf-boere liefde besorg. Inskrywings vir die jongste seisoen het pas geopen en beloof om ʼn liefdespad vir ʼn hele paar hoopvolle boere in te hou.

Boer soek ʼn vrou kuier nou al bykans twee dekades op die kassie, en jaar na jaar word daar paartjies, verlowings, huwelike en babas deur dié program opgelewer. Só het die 15de seisoen, wat vroeër vanjaar op kykNET uitgesaai is, gesorg vir drie paartjies, waarvan twee reeds verloof is. Boer Francois en sy Vanessa het boonop pas hul babaseuntjie, Sion, verwelkom.

Marciel Hopkins sal vir ʼn vierde keer haar aanbiederskoene volstaan, iets waaroor sy verheug is.

“Ek is elke jaar van voor af opgewonde oor al die nuwe mense wat ek gaan ontmoet, die mooi plekke van ons land wat ek sal sien en natuurlik ook die pragtige liefdesverhale wat geskryf gaan word.

“Die afgelope 15 seisoene het reeds bewys hoe mense se lewens wesenlik kan verander wanneer hulle die regte persoon vind om die lewe vorentoe mee aan te pak,” het sy gesê.

Sy moedig mense aan om vir die jongste seisoen in te skryf.

“Vir my lê die sukses van die reeks deels daarin dat daar genoeg tyd is vir deelnemers om mekaar beter te leer ken. Dit help wanneer belangrike toekomsbesluite geneem word,” sê sy.

“Ek glo met my hele hart in Boer soek ʼn vrou se potensiaal om die liefde te laat blom, en dit maak my werk vir my lekker en opwindend.”

kykNET is nou op soek na ʼn nuwe oes van boere of plaasbestuurders, manlik of vroulik, wat deel van die 16de seisoen wil wees.

Só kan boere inskryf:

  • Besoek kyknet.tv waar jy óf aanlyn kan inskryf óf ʼn inskryfvorm kan aflaai.
  • Bel 079 614 2229.
  • Stuur ʼn e-pos na [email protected]

Belangrike inligting:

  • Foto’s en afskrifte van geldige Suid-Afrikaanse identiteitsdokumente moet inskrywings vergesel.
  • Diegene wat wil deelneem moet ongetroud en ouer as 21 jaar wees.
  • Inskrywings moet die vervaardigers vóór middernag op 7 September 2023 bereik.
  • Die top-tien boere vir die 16de seisoen sal op 29 Oktober tydens ʼn spesiale uitsending op kykNET aangekondig word. Voornemende pasmaats sal dan hul beurt kry om vir dié boere briewe te skryf.
  • Die 16de reeks sal van 11 Julie 2024 oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Karoo ·

Klip in die bos – Soos wat dit dan nou op plaase gaan, is daar dan nog boere en Dames wat kaans sien vir wat dit alles kan behels? Nee wat, ek sal my dogter maan om maar weg te bly…….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.