Interessante feite oor ‘Dwaalster’

June von Merch en Neels van Jaarsveld met Luan en Ruan se worshond, Patchouli. (Foto: Verskaf)

June van Merch en Neels van Jaarsveld met Luan en Ruan se worshond, Patchouli. (Foto: Verskaf)

Kykers van Dwaalster het kennis gemaak met die fiktiewe Karoodorpie Maanhaarsdrif se interessante en misterieuse inwoners. Op Maanhaarsdrif is daar ook ʼn fiksasie met sterre en sterre kyk, terwyl sommige inwoners ook met die spreekwoordelike “maan gepla” is.

Annabel (Tinarie van Wyk-Loots), ʼn joernalis, keer terug na Maanhaarsdrif nadat haar lewe bedreig is in Kaapstad omdat sy ʼn storie oor korrupsie probeer oopvlek het. Haar pa, Frans (Albert Maritz), en haar boetebessie-suster, Ragel-Lee (Erica Wessels), bly nog op Maanhaarsdrif, terwyl haar jeugliefde, Stian (Jacques Bessenger), ook onlangs na die dorp teruggekeer het.

Terrence Bridgett, Jacques Bessenger en Neels van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

Terrence Bridgett, Jacques Bessenger en Neels van Jaarsveld. (Foto: Verskaf)

Luan en Ruan (Neels van Jaarsveld en Terrence Bridgett), wat die plaaslike hotel gekoop en opgekikker het in die hoop om toeriste wat sterre wil kom kyk te lok, en die burgemeester, Ivy (June van Merch), sorg ook vir heerlike, komiese oomblikke.

 

 

Hier is ʼn paar kitsfeite oor Dwaalster:

  1. Jarrid Geduld, wat die rol van Randall, wat in die hotel se kroeg werk, vertolk, moes lesse in Tai Chi neem vir sy rol.
  2. Albert Pretorius, wat die rol van die motorfietsryer en Gina se eks-kêrel vertolk, moes ʼn plaasvervanger gebruik in van die motorfietstonele.
  3. Denise Newman en Jill Levenberg moes in hul besige Suidooster-skedules tyd maak vir ʼn kamee-rol in Dwaalster.
  4. “Die Ster” se kantore is by die Noordwester op Calvinia geskiet.
  5. Erica Wessels is amper onherkenbaar as Ragel-Lee, Annabel (Tinarie van Wyk Loots) se suster en Frans (Albert Maritz) se dogter.
  6. Neels van Jaarsveld moes sy hare blond kleur vir sy rol.
  7. Tarryn Wyngaard, wat die rol van Gina vertolk, moes lesse neem om te leer rolskaats, en sy en mede-akteur Jarrid Geduld moes ook leer gebaretaal praat, omdat Gina doof is.
  8. Die bekroonde skrywer Retief Scholtz was deel van die oorspronklike ontwikkelingsproses.
  9. Die skrywer van die reeks, Nicola Hanekom, het twee episodes se regie ook behartig.
  10. Mariechen Vosloo is verantwoordelik vir die kostuums. Sy het ook gewerk aan Waterfront, Kanarie en Die seemeeu en Ander mens. Die seemeeu word op 5 April op die silwerdoek uitgereik terwyl Ander mens op 31 Mei as fliek uitgereik word.
  11. Daar is ʼn hele paar tonele wat onder water geskiet moes word, insluitend elemente van die titelsekwens.
  12. Die kunsdepartement moes ʼn volledige put-put-baan bou, wat in Frans (Albert Maritz) se fiktiewe agterplaas geleë is.

Dwaalster is elke Dinsdag om 20:00 op kykNET te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Rita ·

Ek het nou al vier episodes gekyk en dit is vir my maar n valerige storie; te veel losstaande gebeure wat hopelik iewers aan mekaar gaan bind. Tot dusver voel dit vir my na tydmors om daarna te kyk.

Maryke ·

Dwaalster werklik die swakste reeks ooit!!!
Absolute mors van goeie talent……….
Joe!!!!!!!

Rudi ·

Regtig deurmekaar, te veel uiteenlopende storielyne, goeie talent vermors. Dalk kom dinge nog bymekaar.

Jay ·

Al wat my irriteer van Gina – die dowe meisie – is dat sy nie kan spel nie. Ek verstaan sy kan nie hoor nie, maar dowe mense sal mos uiteraard meer lees as wat hulle tv kyk en al kyk hul tv lees hulle die subtitles. As mens baie lees is jou spelling beter as hierdie mxit taal wat sy skryf.

Skriewer ·

Die Idee is om te wys dat sy soos n Kaapse kleurling sou klink as sy sou kon praat. Dit is hoe hulle klink.
Bv. Weet nie -wieti of vergeet – vergiet

Nadia ·

Kyk ek is mal oor my afrikaanse stories en flieks… maar die reeks is nou nie vir my nie!

Hanna ·

Ons mis nie ‘n episode nie. Lekker ontspanning. Dit verg net bietjie meer konsentrasie as normaal. My beskeie mening……..agter die verdrinkings skuil iets dieper.

Philip ·

Dis my ME-TIME in die week. Geniet elke episode. Baie goeie reeks en akteurs. Beter as Spoorloos.

Weerwolf ·

Terwille van die skrywers en span gaan ek nie sê wat ek dink van die storie nie, maar dis ten minste ‘n Afrikaanse storie om te waardeer.

Asjas ·

Ek hou van die storie. Probeer elke episode uitvis wat skuil agter die gebeure. Ek is gaande oor sulke raaisel boeke, flieks en reekse. Spoorloos was ook ‘n baie goeie reeks en die uiteinde het my heeltemal onkant gevang. Dankie kykNET vir lekker Afrikaanse vermaak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.