Internasionale choreograaf sluit aan by nuwe TV-dansprogram

Jason Gilkison (Foto: Verskaf)

M-Net het Donderdag aangekondig dat die internasionale choreograaf en regisseur Jason Gilkison by die beoordelingspaneel van dié kanaal se jongste werklikheidsreeks, Dancing with the Stars, gaan aansluit.

Altesaam 12 onopgeleide plaaslike bekendes – ses bekende mans én ses bekende vroue onder leiding van 12 professionele bal- en Latynse dansers – gaan in Februarie vanjaar hul beste voetjie op die dansvloer voorsit wanneer die eerste Suid-Afrikaanse aflewering van dié reeks op die kassie gebeeldsaai word.

Gilkison, bekend as beoordelaar en choreograaf op die Australiese én Amerikaanse weergawes van die dansprogram So you think you can dance, sal benewens die beoordeling van die paartjies se vertolkings van verskillende dansstyle ook as skeppende direkteur vir die program optree en toesig hou oor die groepchoreografie asook die uitvoering daarvan.

“Ek kan nie wag om Suid-Afrika toe te kom om ʼn paar skouspelagtige dansroetines vir die program te choreografeer nie. Dit gaan ʼn wonderlike eerste seisoen wees – een vir die hele gesin en iets wat almal kan geniet,” het hy gesê.

Gilkison was choreograaf vir die Australiese komediant Dame Edna se Broadway-toer Back with a Vengeance en het al saam met bekendes soos Celine Dion, Robbie Williams, Andrea Bocelli, Will Young, Lady Gaga en Tony Bennett gewerk.

Bekendes wat aan die program gaan deelneem, sluit in die Mzansi TV-aanbieder Thembisa Mdoda, Frank Opperman, Juanita de Villiers, Liesl Laurie, Wayde van Niekerk se afrigter-ma, Odessa Swarts, die aktrise Zola Nombona, die sanger Connell Cruise, die Bafana Bafana-legende Delron Buckley, die voormalige Springbok-rugbyspeler Thando Manana en die netbalspeler Vanes-Mari du Toit. Nog twee deelnemers én beoordelaars sal binnekort bekend gemaak word.

Die gewilde omroeper en televisieaanbieder Tracey Lange en die akteur Chris Jaftha is die aanbieders.

Dancing with the Stars, die oorspronklike program van BBC Worldwide, se televisieregte is al in meer as 50 lande wêreldwyd verkoop. Die program begin op 4 Februarie (Sondag) om 17:00.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.