Internasionale sanger wen ‘Dancing With The Stars SA’

Connell Cruise (Foto: Verskaf)

Connell Cruise, die Johannesburgse sanger wat deesdae in New York in die VSA woon en wêreldwyd optree, het Sondagaand die gesogte M-Net-baldanskompetisie Dancing With The Stars South Africa gewen.

Hy en sy dansmaat, Marcella Solimeo, het die ander twee danspare, die aktrise Zola Nombona en haar dansmaat, Tebogo Mashilo, en Suidooster-ster Eden Classens en sy dansmaat, Ash-Leigh Hunter, tydens die finale ronde by Hyde Park Corner in Johannesburg uitgestof.

Die danspare moes drie verskillende dansroetines baasraak vir die eindronde – ʼn dans van die beoordelaars se keuse, die danspaar se persoonlike gunstelingdans van die seisoen asook ʼn splinternuwe skoudansroetine.

Die The Voice-wenner Craig Lucas het saam met Mango Groove-sangeres Claire Johnston en SAMA-wenners Mafikizolo gesorg vir die vermaak tydens die geleentheid.

Connell en Marcella. (Foto: Facebook)

Connell en Marcella. (Foto: Facebook)

Beoordelaars Jason Gilkison, Tebogo Kgobokoe, Debbie Turner en die flambojante Bryan Watson het elkeen hul stemme ingesit, maar die publiek se stem het die deurslag vir die wenner gegee en Cruise en Solimeo is as die wenpaar aangewys.

Die stem-en-rangtelling van die deelnemers word volgens internasionale formaatreëls opgestel en word onafhanklik deur Deloitte en Touche bereken.

Cruise het voorheen gesê hy is opgewonde daaroor om terug te wees in Suid-Afrika om aan Dancing With The Stars deel te neem. “Ek is net so opgewonde soos wat ek bang is vir wat voorlê op Dancing With The Stars! Ek is regtig verheug en geëerd om deel van dié ongelooflike program te wees. Ek sal my bes doen om my vrou en aanhangers in die land trots te maak,” het hy in ʼn verklaring gesê.

Voordat Cruise na New York verhuis het, het hy Suid-Afrikaanse gehore op hul voete gehad met sy debuut, “Not just Friends”. Daarna is hy vir verskeie SAMA-toekennings benoem en het tien agtereenvolgende no. 1-radiotreffers gehad.

Ander sterre wat deelgeneem het, is die TV-aanbieder Thembisa Mdoda, die akteur Frank Opperman, die aktrise Juanita de Villiers, die voormalige Mej. SA Liesl Laurie en die netbalspeler Vanes-Mari du Toit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Geluk ·

WAARDIGE WENNERS, BAIE GELUK, julle het duidelik uitgestaan!!

VanAfrika ·

So gehoop Eden Classens wen, hy het beter gedans, punte 40 gewees in vergelyking met Connel se 39

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.