Internet-ster kry eie TV-program

Lisa van Rooyen. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)

Die immergewilde internet-ster Lisa met die Rooi Hare, oftewel Lisa van Rooyen, spog eersdaags met haar eie TV-program op kykNET NOU!

Trend is ’n op-en-wakker-leefstylprogram waartydens dié rooikop internet‑pretpersoonlikheid met verskeie bekendes onderhoude voer, nuwe tendense bespreek en ’n paar lewenswaarhede op die kassie deel.

“Ek is so opgewonde vir mense om Trend te sien,” sê Van Rooyen. “Dit bring die fokus weer terug na die jonger generasie en die program is vir hulle gemaak.”

Van Rooyen, wat aanvanklik bekendheid verwerf het vir haar YouTube-video’s waar sy die jongste episode van die gewilde maatsoekprogram Boer soek ʼn vrou opsom en tong in die kies resenseer, is tans besig met soortgelyke video’s oor die reeks Op my eish!

Trend is spesiaal vir 13‑ tot 23-jariges vervaardig en lê tydens elke episode ’n besoek by ’n unieke skool af, waartydens dié skool ʼn bietjie kan spog met hul leerders en prestasies.

“Ons gaan op die program dekking gee aan verskillende kulture en verskillende kunstenaars in verskillende tale sodat die kyker nie net plaaslike nuus kry wanneer dit by vermaak, speletjies en musiek kom nie, maar alles soos dit deur sosiale media gedek word,” het Theuns Smith, die lynvervaardiger van Trend, gesê.

Van die bekendes wat op die nuwe program gaan kom kuier, is Franja du Plessis, Peach van Pletzen en Tjekit Kwagga.

“Ek hoop dat Trend vir jong mense sal laat voel of dit hulle nie net inlig oor die nuutste tendense nie, maar dat dit ook vir hulle ’n blaaskans kan wees waar hulle net vir ’n halfuur kan ontspan en die program saam met ons kan geniet,” sê Lisa.

  • Trend word Donderdae vanaf 7 Julie om 18:00 kykNET NOU! (DStv-kanaal 146) uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Blikkantien ·

Sy is baie oulik, het gedink dis net ‘n kwessie van tyd voor sy op tv verskyn.

Mel84 ·

Dis wonderlik om te sien hoe ‘n jong meisie iets waarvoor sy lief is kan uitleef. Sy is skreeusnaaks, vol persoonlikheid en so nederig. Alle sukses Lisa!!!

Leon ·

Ek is ‘n groot aanhanger van Lisa. Ek is wel bekommerd dat hierdie ‘n slingse plan van Multi-Choice is om jong mense terug na hul kassie te lok (want die werklike “trend” is teen hulle).

Miena ·

OO my tyd – ek hoor myself afvra “where have you been living all this time? Under a rock?” want ek weet dan nie van die girlie nie… waar kan ek meer van haar sien en hoor? Ek wil ook kan saampraat want klink my die meisie kan dinge met sense praat!!

Mel84 ·

Gaan volg haar gerus op Facebook of Search Youtube “Lisa met die Rooi Hare”.
Dit sal natuurlik ‘n bonus wees as jy Boer soek ‘n Vrou of Op my Eish kyk en weet van wie sy praat. Ek geniet haar insetsels vreeslik!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.