Ivan Botha: Die drama en komedie van die lewe

Ivan Botha in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Deur Ilza Roggeband

In Alles Malan is hy die argitek Wim Viljoen en een van die dae is hy terug as lispelende Manie in Hotel. Intussen is Ivan Botha ook pa van twee, ’n sakeman en rolprentmaker.

Vertel ons meer van jou karakter in Alles Malan. Het julle enigiets gemeen?

Wim is ’n argitek en baie kreatief met ʼn fyn oog vir detail. Ek sou nie sê hy is snobisties nie, maar hy het duur smaak en hy ontmoet die Malan-gesin op ’n tyd wanneer dit nie finansieel goed met Frik se besigheid gaan nie. Dit is natuurlik ʼn teer puntjie. Wim is ’n enkelouer en ’n baie toegewyde pa. Ek dink dit is wat ons gemeen het. Ek is ’n hardwerkende man en is ongelooflik lief vir my twee kinders. Dit was vir my baie lekker om ’n pa te speel en dit wat ek geleer het toe te pas.

Wat was vir jou uitdagend van die rol?

Een van die uitdagings is om meeste van my tonele met twee klein kindertjies te deel en bewus te wees van hulle gemoed. Jy dink jy beplan, maar ons moes aanpas by die kinders se buie en emosionele welstand. Wat op die ou end gebeur het, is dat ons rou, eerlike oomblikke ook uit hulle gekry het.

Die ander uitdaging was tyd. Dis ʼn groot produksie met baie karakters en dis geskiet teen ’n stewige tempo. Ek moes altyd baie goed voorbereid gewees het – jy moet altyd goed voorbereid wees – maar jy moes presies geweet het waar jou karakter is. Sonder om te veel weg te gee kan ek noem dat my karakter ’n geraamte in sy kas het. So ek moes ’n karakter skep wat ek weet kykers op ’n stadium ’n keuse oor moet maak; ’n karakter met drome en issues. Dit was ’n fyn lyn om te speel.

Ivan Botha saam met sy vrou, Donnalee, sy dogter, Amélie, en seun, Cameron. (Foto: Instagram/Donnalee Roberts)

Jy is pa van ’n dogter, Amélie, en ’n seun, Cameron. Wat is die drie dinge wat jy vir hulle hoop in die lewe?

Ek hoop dat hulle eendag, wanneer hulle oud is, sal terugkyk en dat ’n gevoel van genot en joy hulle geheue sal oorheers. Ek hoop dat hulle kind sal wees en ’n verskil in mense se lewens in hierdie chaotiese lewe maak.

Wat is jou planne vir 2022?

Dis ’n besige jaar. Ons het hierdie jaar Beurtkrag, die toneelstuk waarin ek en Donnalee (Roberts, Ivan se vrou) gespeel het, verfilm. Ons het dit vervaardig en saam met Jozua Malherbe geskryf en hy is die regisseur. Dit open by die Silwerskermfees in Maart. Dan skiet ons in Februarie ’n nuwe fliek, Blindelings, wat ’n spanningsfliek is. Ek het dit saam met Leanie Janse van Rensburg geskryf en is die regisseur en Donnie speel die hoofrol. Dan is daar ’n paar ander dinge in die pyplyn saam met M-Net en kykNET. Dan is daar natuurlik kinders en ons ander besigheid. Ons is nog jonk en wil soveel moontlik ons passie en drome uitleef.

‘Hotel’ is ook een van die dae terug?

Ek kan nie wag vir mense om Hotel te kyk nie. Dis vir my hartverskeurend dat dit die laaste seisoen is, maar wat ʼn voorreg. Om weer Manie te vertolk was een van my hoogtepunte van 2021. Hierdie keer is hy regtig deel van die Hotel-familie. Met die hulp van Bennie Fourie wat dit geskryf het en die regie gedoen het, was daar geen reëls nie en daar is toegelaat dat die kreatiwiteit kan vloei. Ons het so gelag en die dae op stel was eintlik net te kort.

Drama of komedie?

Dis ’n ongelooflike moeilike vraag vir ’n akteur, skrywer of regisseur. Ek is op ’n plek nou in my lewe waar ek baie graag meer komedie wil doen.

Ivan Botha as Manie in ‘Hotel’. (Foto: Verskaf)

Waarmee anders hou jy jou besig?

The Romantic Collective is ’n klerebesigheid vir vroue wat Donnie op die been gebring het en waar ek agter die skerms by betrokke is. Dit het die afgelope jaar of wat so gegroei dat ons meer personeel moes aanstel. Dan skryf ons natuurlik baie en die kinders hou ons goed besig.

Wat het jy die afgelope twee jaar oor jouself geleer?

Wat ʼn mal twee jaar was dit nie! Ek het geleer dat ek meer geduldig is as wat ek gedink het, maar dan was daar tye waar ek nie so geduldig was nie en dis ook oukei. Ek dink ons is almal deur tye wat ons uitgedaag het. Ek het besef watter deursettingsvermoë mense het; dat ons die mag het om iets negatief om te draai in ’n positiewe resultaat. Ons het ook weer besef hoe dankbaar ons is om iets te doen waaroor ons passievol is.

Wat is jou wens vir die vermaakbedryf in 2022?

Kreatiwiteit. Daar is soveel kreatiewe mense daar buite wat nie in die bedryf is nie, maar droom daarvan. Ek nooi hulle om almal deel van hierdie bedryf te word. Ons het meer skrywers en akteurs en regisseurs nodig. Ek sien uit na 2022 omdat ek dit sien as deel van die herstel van die bedryf. Ek dink daar was ’n verdieping in ons menswees en ek sien uit om dit op skerm te sien. Ek dink dit gaan tasbaar wees; om daardie groei in ons te sien. Ons gaan dit sien in die kuns wat ons maak, of dit nou aksie of komedie of drama of horror is.

Ivan Botha as Wim Viljoen in ‘Alles Malan’. (Foto: Verskaf)

Wat is jou eie lewensleuse?

Dit hang af van seisoen na seisoen. Ek sê elke oggend vir my dogtertjie: Be brave, be kind, be bold and make a difference. Dalk is dit ook iets wat ek elke dag probeer doen. Ek wil meer gee, regtig ’n verskil maak in my gemeenskap en my land. Ek wil nou iets ongelooflik inspirerend sê, maar dit lê vir my in die eenvoud om mekaar te kan sien, werklik te kan sien. Om kindness te vind in hierdie mal tye.

Alles Malan is Dinsdae om 20:00 en Hotel van 3 Januarie om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.