Jacques Bessenger is ‘ʼn sterk introvert’ in ‘Dwaalster’

Jacques Bessenger vertolk die rol van Stian in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Jacques Bessenger vertolk die rol van Stian in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

Kykers van die kykNET-reeks Dwaalster het vroeg in Januarie vir die eerste keer kennis gemaak met die fiktiewe Karoodorpie Maanhaarsdrif se interessante en misterieuse inwoners.

Op Maanhaarsdrif is daar ’n fiksasie met sterre en sterre kyk, terwyl sommige inwoners ook met die spreekwoordelike “maan gepla” is.

Annabel, vertolk deur Tinarie van Wyk-Loots, is ʼn ondersoekende joernalis wat terugkeer na haar tuisdorp nadat sy met haar lewe gedreig is in Kaapstad omdat sy ’n storie oor korrupsie probeer oopvlek. Haar jeugliefde, Stian, vertolk deur Jacques Bessenger, het ook onlangs na die dorp teruggekeer.

Bessenger vertel in ʼn onderhoud met Maroela Media sy karakter, Stian, het op Maanhaarsdrif grootgeword. Hy het ná skool die dorp verlaat om te studeer en in Kanada te gaan werk as ʼn algemene praktisyn.

Stian se pa was sy lewe lank die algemene praktisyn op Maanhaarsdrif, en ná sy pa afsterwe keer hy terug na sy tuisdorp om sy pa se praktyk oor te neem.

“Stian vind nog sy voete,” vertel Bessenger. “Hy is nie ʼn skilder van beroep nie, maar in elke episode skilder hy iemand anders en dit is sy manier om mense op die dorp te leer ken.”

Hy vertel Stian is deur Nicola Hanekom, dramaturg en skrywer van die reeks, geskryf as ʼn introvert. “Hy is baie sensitief vir ander mense se gevoelens, maar die grootste ding wat hom raak, is wanneer Annabel na Maanhaarsdrif terugkeer.”

Annabel en Stian het ʼn verhouding op skool gehad, verduidelik Bessenger. “Hulle het ʼn kys gehad,” lag hy.

Neels van Jaarsveld en Jacques Bessenger in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Neels van Jaarsveld en Jacques Bessenger in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

“Met die verloop van die storie en soos hulle weer meer gemaklik met mekaar raak, kan ʼn mens sien wat tussen hulle ontwikkel en sien jy ook hoe sy karakter ontvou. Stian is baie betrokke by sy eie gevoelens en dit maak hom ook baie seer. Dit is wat hom so interessant maak, want hoewel hy sy hart op sy mou dra, is hy steeds baie sterk binne homself.”

Bessenger en Van Wyk-Loots het ook ʼn getroude paartjie in die kykNET-drama Fynskrif gespeel. “Dit was so lekker om weer teenoor haar te kon speel, want op die einde van die dag was dit soos om weer met ʼn ou werkskollega saam te werk.

“Jy begin mense leer ken en begin vriendskappe ontwikkel met mense. Ek en Tinarie verstaan mekaar baie goed en ons het dieselfde uitkyk op die lewe. Dit help wanneer ʼn mens so intiem moet saamwerk, want dit maak jou werk amper makliker.”

Hy voeg by dat hy en Terrence Bridgett, wat die rol van die plaaslike hoteleienaar Ruan vertolk, destyds saam gewerk het aan die SAUK-reeks Erfsondes. “So dit was heerlik om weer amper 10 jaar later saam met hom te werk.”

Terrence Bridgett in 'Dwaalster'. (Foto: Verskaf)

Terrence Bridgett in ‘Dwaalster’. (Foto: Verskaf)

Bessenger is dit eens dat dit Hanekom en die skryfspan, wat Retief Scholtz ingesluit het, en Jaco Bouwer se regisseurswerk is wat die storie so uniek maak. “Nicola skryf uit ʼn verskriklike interessante oogpunt en het ʼn baie interessante uitkyk op mense. Soos die reeks verloop, gaan kykers agterkom dié mense van Maanhaarsdrif is wonderlik, maar uiters vreemd,” lag hy.

“Dit is belangrik vir storievertelling in Afrikaans dat ons vooruit moet beweeg en dat ons nie net nog reekse moet maak wat soos die voriges is nie. Dit is noodsaaklik om jongmense te kry om die reekse te kyk, anders het ons oor ʼn paar jaar nie meer kykers nie! Ons moet ook nie net reekse maak en stories vertel vir Afrikaanse mense nie, maar vir die wêreld.”

Dwaalster is elke Dinsdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lulu ·

Ek kan regtig nie vat kry aan hierdie reeks en meeste van my vriendinne stem saam.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.