Jak de Priester: ‘Elke liedjie is waardevol’

Jak de Priester kuier in die Maroela Media-ateljee. (Foto: Janie Monsieur/Maroela Media)

Dit is 18 jaar sedert Jak de Priester die Afrikaanse musiekbedryf oorrompel het met sy treffer “Sally Williams Nougat”. Dié sanger en liedjieskrywer se loopbaan het sedertdien van krag tot krag gegaan en sy tiende album, getiteld Album 10, word eersdaags uitgereik.

Hy beskryf sy albums as ʼn liasseringstelsel vir sy musiek en op Album 10 is daar 20 nuwe snitte uit De Priester se pen wat tot dié stelsel toegevoeg is.

“Vir my is elke liedjie waardevol. Mense wat na jou konserte toe kom, sal die storie hoor wat met die liedjie gepaard gaan. En dit is ook hoekom mense by die vertoning dan jou album sal koop.”

Hy vertel een van sy snitte, “Wie’s ek met niks”, is geïnspireer toe ʼn huis oorkant syne afgebrand het. “Dit was ʼn baie traumatiese ervaring en al die mense staan in die straat en kyk na die huis wat afbrand. Die kinders huil al is dit nie hulle huis nie en dis die brandweer en vlamme en almal is gespanne. En ek onthou, middernag toe almal nou in hulle huise terug is, het ek voor die klavier gaan sit en ʼn liedjie geskryf.”

De Priester sê dit is dié soort liedjies wat hom na aan die hart lê. “Dit is nie ʼn liedjie wat jy op die radio gaan hoor nie, maar wanneer ek dit sing en ek vertel die storie en daar sit dalk mense in die gehoor wat dalk ʼn verlies gely het, op watter manier ook al, is dit betekenisvol.”

Die album raak verskeie temas aan – De Priester se reis deur Suid-Afrika en die land se probleme, asook sy ervaring van pa wees van drie kinders. Hy het ook ʼn liedjie geskryf vir sy vriend en medemusikant Werner Ferreira wat in die musiekbedryf as Hoenderboer bekend was. Dit is ook die titel van die snit.

Die omslag van ‘Album 10’. (Foto: Facebook)

Ferreira is in Februarie verlede jaar skielik oorlede ná ʼn kort siekbed. “Hy was saam met my in die ateljee om die album op te neem, en het op die meeste van die snitte gespeel voor hy oorlede is. Ek het die liedjie ‘Hoenderboer’ vir hom geskryf, want ek mis hom ongelooflik baie en ons het soveel konserte saam gedoen. Dit is ook die laaste werke waarop hy gespeel het.”

Die eerste enkelsnit van die album wat uitgereik sal word, is “Die Faffie”, ʼn lied met ʼn vinnige tempo wat handel oor die Wêreldbeker-rugbytoernooi en die oomblik toe Suid-Afrika die wenspan geword het en Faf de Klerk in sy sogenaamde Springbroekie die simbool geraak het van Suid-Afrika se opwinding en vreugde.

“Ek dink enige Suid-Afrikaner sou daardie dag in so ʼn onderbroek in die strate wou hardloop van blydskap,” sê hy laggend.

“As ek dink aan verlede jaar en aan Suid-Afrika – daai oomblik wat ons die Wêreldbeker gewen het, is vir my hoe Suid-Afrika moet wees. Daardie samesyn, daai samehorigheidsgevoel, en almal wat vir een doel Suid-Afrika ondersteun. Dit was vir my só lekker. Ek onthou toe ons gewen het, het ek en my seuntjies gehuil en in die lug gespring. Dit was die ongelooflikste gevoel.”

As aanbieder van die gewilde kykNET-program Reis na Gister kry hy ook die geleentheid om die land plat te reis terwyl hy saam met bekendes hul grootworddorpe besoek. Dié reeks is reeds in sy sesde seisoen en is tans weer op die kassie te sien.

Jak de Priester se tiende album is eersdaags beskikbaar. (Foto: Facebook)

“Daar is iets baie spesiaal daaraan om byvoorbeeld die huis te sien waar Frank Opperman grootgeword het en te sien waar daardie man, wat ons almal nou liefhet en wat in ons harte gekruip het as Ouboet in Orkney Snork Nie, êrens in sy lewe as ʼn jong seun in ʼn klein kamertjie gelê het, is ongelooflik.”

Hy vertel sy gaste in die jongste seisoen van dié reeks het almal ʼn emosionele oomblik ervaar. “Daar was oomblikke wat hulle so emosioneel geraak het dat hulle nie kon aangaan met die gesprek nie. Dit sê iets van om terug te gaan na jou verlede, of dit goed was of nie.

“Jy kan nie die lewe terug kry nie en ek dink dit is wat mense so emosioneel maak. Eendag kyk jy terug en skielik is 30 jaar verby en jy besef jy sal nooit weer een van daardie oomblikke terug kry nie. Jy sal nooit weer vir die éérste keer ʼn vertoning doen, of vir die éérste keer op die televisie verskyn of vir die éérste keer ʼn album uitbring nie. En dan bevind jy jou skielik, soos ek vandag, by album tien.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.