‘Jan Braai vir Erfenis’ binnekort terug

Jan Braai. Foto: Facebook via Jan Braai

Jan Braai. Foto: Facebook via Jan Braai

Pak solank die hout om daardie braaivleisvuur aan die gang te kry: Jan Braai vir Erfenis is binnekort terug op die kassie vir ʼn negende seisoen.

Met meer as 104 episodes agter die blad, is die gesoute Jan Braai en sy span besig om oor die hele Suid-Afrika en die wêreld te reis met die vervaardiging van die volgende reeks wat op Sondag 17 Julie om 18:00 terug op die kassie is.

Die program vind aanklank by oud en jonk en dra ’n kernboodskap: Suid-Afrika is die beste land in die wêreld en almal hier hou daarvan om te braai.

Ilza Roggeband, kykNET-reklamebeampte, sê ná samesprekings om die braaivleisvuur is daar ook ander nuus om te deel. Die program gaan voortaan op ’n Sondag om 18:00 gebeeldsaai word. “Die rede hiervoor is eenvoudig; die miljoene gereelde kykers gaan almal gebuk onder die las van blou Sondagaande en Jan Braai vir Erfenis is presies wat hulle nodig het om te besef die lewe is lekker en alles sal mooi uitwerk,” het sy gesê.

Die nuwe tydgleuf is ook om huwelike in Suid-Afrika te red, het Jan Braai geskerts. “Marknavorsing toon daar is onmin in huwelike oor die hele land wanneer ons uitsending op ’n Vrydagaand met ʼn rugbywedstryd bots,” het hy verduidelik. “Ons weet ook dat daar te veel negatiwiteit op ʼn Sondagaand op televisie is. Ons gaan die tendens omkeer deur lekker saam met ons miljoene gereelde kykers te toer en te braai. Dit is die spreekwoordelike twee vlieë met een klap, of soos ons in die braaibedryf sê: twee roosters vleis op een stel kole.”

Karen Meiring, hoof van Afrikaanse kanale by M-Net, sê dié reeks weerspieël iets waarvoor baie Suid-Afrikaners ’n groot liefde het. “Kyk net hoe baie vleis braai hulle! kykNET is trots om die Nasionale Braaidag-projek te ondersteun. Dit wat Jan met die projek regkry vir nasiebou en om die kollig op ons gedeelde erfenis te plaas, is van onskatbare waarde vir ons samelewing,” het sy laat hoor.

Karan Beef, Suid-Afrika se hoof- en grootste verskaffer van beesvleis, is saam met Tosas die trotse nuwe hoofborg van die program.

Jan Braai vir Erfenis begin op Sondag 17 Julie om 18:00 op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.