Jana Kruger: ‘My gesin is die vrugte van my arbeid’

Jana Kruger. (Foto: Salomien Small/Of The Earth Photography)

Jana Kruger is geen vreemdeling op die Suid-Afrikaanse kassie nie en het onlangs ʼn draai gemaak as Retha in die uiters gewilde kykNET-reeks Fynskrif.

Hoewel Kruger se karakter slegs in een episode verskyn het, was dit genoeg om ʼn opskudding te veroorsaak tussen Ben (vertolk deur Neels van Jaarsveld) en Katrien (vertolk deur Cintaine Schutte).

“Retha is nie bang om haar sê reguit te sê nie. Dit was pret om so ʼn blatante, amper voorbarige, rol vir ʼn dag te kon speel,” sê Kruger.

Sy vertel die verfilming van haar karakter is aan die einde van die derde seisoen geskeduleer. Nina Swart, regisseur van die tweede en derde seisoene van die reeks, was toe reeds besig met ʼn ander projek en sodoende het sy die geleentheid om saam met haar as regisseur te werk, misgeloop.

“Louis [Pretorius] het die regie behartig toe ek op stel was. Ek het al saam met Louis aan Die Boland Moorde gewerk en het baie respek vir die produkte wat hy en Albert [Snyman] vervaardig.”

As aktrise het sy al talle rolle vertolk in reekse soos Erfsondes en Swartwater en was ook op die grootskerm te sien in rolprente soos Treurgrond, Alles wat mal is en Leading Lady. Haar rolle as ma van haar kroos en vrou vir haar man, Hannes, is egter vir Kruger die belangrikste.

“Ek het grootgeword met die idee dat ware liefde net ʼn sprokie is waaroor jy droom; dat dit nie werklik bestaan in die volhoubare sin nie en die een of ander tyd gaan die liefde jou hart breek. My man, Hannes, weet presies wie hy is en dat liefde die waarheid is. Hy het my gesién toe ek 15 jaar oud was en hy het gewéét ek is sy liefde, sy ander helfte. My gesin is die vrugte van my arbeid. Ek het nog nooit so heel en gelukkig-tevrede gevoel soos nou nie.”

Jana en haar kinders, Luka, Anouk en Ohan. (Foto: Instagram/Jana Kruger)

Die pandemie en staat van inperking het vir haar gewys hoe verweef die hele wêreld is, sê sy. “Hannes en ons kinders is vir my ʼn spieël. Ek sien altyd waar ek met myself staan as ek vanuit daardie perspektief na hulle kyk.

“Ons leer ons kinders om hulself te ontdek, te leer ken en te verstaan. Daai stemmetjie binne-in jou wat jy hoor – jy is die een wat dit hoor. Jy is nie die stemmetjie nie. Die bewustheid. Die Siel. En wanneer jy in verhouding met jouself staan, dan het jy alles tot jou beskikking om ʼn betekenisvolle en gelukkige lewe te kan lei.”

Sy voeg by dat hulle as gesin tyd maak om te gesels oor die uitdagings wat hulle tydens die landwye afsondering in die gesig staar.

“Ons probeer ons kinders bemagtig deur vir hulle ʼn taal te gee om sin te maak en uit te druk wat binne hulle is. Ons probeer ʼn voorbeeld stel deur dit wat die lewe ons kant toe bring te hanteer met aanvaarding en die les te soek in die moeiliker uitdagings. Ons hoogste waarde is liefde – enige vraagstuk word duideliker wanneer ek vra hoe ek liefde kan dien.”

Volgens Kruger het die Covid-19-pandemie vir haar ʼn wêreldperspektief gegee. “Vir ʼn bepaalde tydperk is die mensdom oor die wêreld gekonfronteer met ʼn uitdagende, universele tema wat ons almal noop om na binne te keer en ons werklikheid te herbesin.”

Sy bieg dat die rolle van onderwyser, kok en skoonmaker wat sy tydens die afsondering moes aanneem, ʼn uitdaging is. “Party dae is ons bo en ons voel: “We’ve got this!” Ander dae sukkel ons op die bodem rond tussen frustrasie en irritasie en al daai ander laefrekwensie-emosies. En dan probeer ons weer die volgende dag!”

Fynskrif saai Dinsdagaande om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.