Jen Aniston: Hollywood se liefling nou bulhond in ‘The Morning Show’

Jennifer Aniston as Alex Levy in ‘The Morning Show’. (Foto: IMDb)

Die boeiende dramareeks The Morning Show vertel die verhaal van ʼn nuusprogramaanbieder wie se loopbaan in gedrang kom wanneer haar mede-aanbieder van seksuele wangedrag op die stel van hulle ontbytprogram beskuldig word.

Daarna word ʼn hele nes van wangedrag en wanbestuur oopgekrap en talle lede van die program se produksiespan word by die skandaal betrek.

Jennifer Aniston wat die rol van die bulhond-joernalis Alex Levy vertolk, is onlangs benoem vir ʼn Emmy as beste aktrise in ʼn hoofrol in ʼn dramareeks. Sy het reeds ʼn Screen Actors Guild-toekenning ingeoes vir haar vertolking van dié rol.

Levy en Mitch Kessler, vertolk deur Steve Carell, is die afgelope 15 jaar mede-aanbieders van The Morning Show, ʼn grensverskuiwende ontbytprogram wat uit Manhattan, New York, uitgesaai word.

Jennifer Aniston ontvang haar Screen Actors Guild-toekenning in Januarie vanjaar. (Foto: AP/Chris Pizzello)

Wanneer Kessler afgedank word te midde van ʼn seksuele wangedragskandaal, moet Levy vir haar loopbaan baklei terwyl ʼn wedywering met ʼn jong joernalis, Bradley Jackson (Reese Witherspoon), ontstaan en ʼn reeks impulsiewe besluite teweeg bring.

Die reeks, waarin Billy Crudup en Mark Duplass ook te sien is, laat reekskykers se tonge klap sedert dit in November verlede jaar sy buiging op AppleTV+ gemaak het.

Aniston en Witherspoon is ook uitvoerende vervaardigers van die reeks. Dit is een van AppleTV+ se eerste produksies.

Aniston het in die vroeë negentigs al harte regoor die wêreld verower met haar charismatiese glimlag en die-meisie-langsaan-voorkoms as Rachel Green in die ikoniese sitkom Friends. Sedertdien het sy haarself as een van Hollywood se gesogte aktrises gevestig in rolprente soos Along Came Polly, Friends with Money, Just Go With It en Dumplin’.

Jennifer het in die negentigs reeds harte verower as die charismatiese Rachel Green in ‘Friends’. (Foto: IMDb)

Intussen het sy weer haar staal as aktrise bewys as ʼn vuurvreter in The Morning Show. Sy het onlangs in ʼn onderhoud vir Variety se “Actors on Actors”-uitgawe met Lisa Kudrow gesels oor hoe sy voorberei het vir die innemende toneel in die laaste episode waar Levy uiteindelik ineenstort.

Kudrow, wat teenoor Aniston in Friends verskyn het in die rol van Phoebe Buffay, het dié toneel as ʼn kragtoer beskryf.

Volgens Aniston is ʼn soort woede in haar aangewakker weens die feit dat sy al vir jare soortgelyke stories van seksuele wangedrag teenoor vroue hoor. Dit het gelei tot die emosionele spel in dié toneel.

“Ek het net ʼn oorkookpunt bereik. Ek dink ek het soort van buite my liggaam gesweef. Ek was woedend en ek kon dit nie meer hanteer nie,” het sy gesê.

Volgens Kudrow kon sy nie genoeg van die reeks kry nie en het gesê dit is haar gunsteling-reeks. “Ek het al die episodes gekyk die oomblik wat ek kon, ek en my man albei. Ons sukkel om reekse te vind wat ons saam kan kyk. Boonop is dit só goed geskryf ook en word dit pragtig aangebied. Jy het my weggeblaas.”

Jennifer Aniston en Reese Witherspoon in ‘The Morning Show’. (Foto: IMDb)

Aniston was in ʼn openhartige onderhoud saam met Witherspoon en Alison Brower van The Hollywood Reporter vol lof vir reeksskrywer Kerry Ehrin, omdat sy daarin kon slaag om ʼn aktuele reeks te skryf al was die tema nie deel van haar verwysingsraamwerk óf op daardie gegewe tyd in hoofnuusopskrifte nie.

“Sy het ʼn wêreld en karakters geskep wat soveel diepte en kompleksiteit het wat eerlik en morsig is,” het Aniston gesê.

Sy vertel sy het voorbereiding gedoen vir die rol van Levy deur onder meer die stel van Good Morning America om 05:00 te besoek en dop te hou hoe die produksiespan “soos ʼn goed-geoliede masjien te werk gaan”.

“Hierdie mense leef ondergrondse lewens soos vampiers en probeer konstant uitpluis wat hulle vir ons [Amerikaners] gaan sê [wanneer ons wakker word] sodat ons nie so sleg voel oor onsself nie. Dit is nie ʼn maklike wêreld nie. Ek het geleer dat dit nooit gemaklik raak om 03:30 in die oggend op te staan nie – hulle haat dit.”

Steve Carell en Jennifer Aniston in ‘The Morning Show’. (Foto: IMDb)

Volgens Aniston is een van Levy se beste karaktereienskappe die verskillende vlakke van haar persoonlikheid wat sy kon opdiep en ontdek.

“Die méns agter die persoon wat soort van alles bymekaar moet hou om goeiemôre te sê vir Amerika. Dan het jy ook weer soveel meer waardering vir nuusaanbieders soggens, want terwyl die lewe aangaan daag hulle steeds op vir ons.”

Die tweede seisoen van The Morning Show sou na verwagting in November vanjaar beskikbaar wees, maar weens die koronaviruspandemie is die produksie van die reeks uitgestel.

Die eerste seisoen van dié reeks is eksklusief op AppleTV+ beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.