Jennifer Myburgh: Van ‘brekfis’ na ‘ontbyt’ op GROOTfm

Jennifer Myburgh. (Foto: Verskaf)

Die aktrise en radio-omroeper Jennifer Myburgh het as kind twee drome gehad; om president van die land te word en om ʼn Oscar-beeldjie te wen.

Hoewel sy nog nie een van dié twee drome bewaarheid het nie, sal sy van April vanjaar haar rol as mede-aanbieder van GROOTfm se oggendprogram, Die GROOT Brekfis, verruil om op die kassie saam met Pierre Breytenbach Die GROOT Ontbyt op GROOTfm en kykNET aan te bied.

“Ek dink albei beroepe as president of Oscar-wenner laat jou op die kassie beland,” sê Myburgh tong in die kies.

Volgens Myburgh is dit vir haar ʼn groot voorreg om die nuwe mede-aanbieder van Die GROOT Ontbyt te wees, “want jy gaan kuier by mense in hulle huise”.

“’n Loopbaan in en op televisie gaan nie oor roem of dat mense jou naam ken nie, maar oor die invloed wat jy in en op hulle lewens kan hê”.

Die GROOT Ontbyt bied haar die geleentheid om alles waaroor sy passievol is uit te leef. Sy hou daarvan om nuwe uitdagings aan te pak en is leergierig.

“Boonop is ek baie opgewonde om met die span te werk by Die GROOT Ontbyt. Hulle is almal so professioneel en talentvol. Dis vir my ʼn nuwe seisoen, en ek glo alles gebeur op die regte tyd, wanneer jy gereed is daarvoor.”

Sy is opgewonde oor die mense wat sy gaan ontmoet en die verskillende gesprekke wat sy gaan hê met rolspelers, wat strek van vermaak tot politiek.

“Ek sien uit na die samesyn met mede-aanbieders en kykers en is gereed vir die nuwe leerskool met al sy uitdagings en geleenthede. Maar bo alles, is my hart vol dankbaarheid vir die geleentheid,” sê sy.

Myburgh het haar B-Tech Drama-graad in 2009 aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie voltooi en sedert 2009 leef sy haar droom as aktrise, wat rolle in advertensies, op televisie en die verhoog insluit.

Haar teatervernuf het haar geneem na verhoë op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees, die Grahamstad-kunstefees, Aardklop, die Vrystaat-kunstefees en Innibos. Sy bestuur ook tans haar eie teatermaatskappy wat optredes by skole aanbied.

In 2020 het sy ʼn graad in internasionale betrekkinge aan Unisa verwerf en het ervaring as onderwyseres en navorsingsanalis, maar haar passie vir die vermaakbedryf bly haar hoofprioriteit en dryfveer.

Sy is sedert 2018 betrokke by GROOTfm, waar sy tot nou toe die mede-aanbieder was van Die GROOT Brekfis saam met anker Ruben Delmage.

Skakel Dinsdagoggend 22 Maart tussen 06:00 en 07:00 in op Die GROOT Ontbyt op kykNET, DStv-kanaal 144, om Jennifer Myburgh beter te leer ken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Connie

Trots op jou Jennifer Myburgh, mag die Here jou ryklik seen.