Jong talent ‘gekies vir die kollig’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Angel Origgi/Unsplash)

Die ATKV het vanjaar honderde inskrywings vir sy jaarlikse DigiToneelkompetisie ontvang en die sewe mentorbeoordelaars het uit 10 finaliste slegs een persoon vir die kollig gekies.

Elzaan Daniels (18) van die Hoërskool Jan van Riebeeck is op 25 Oktober tydens die slotepisode van “Gekies vir die Kollig” as die wenner in vanjaar se ATKV-DigiToneelkompetisie aangewys. Daniels se eie nuutgeskrewe monoloog, “My future is innie verliede”, het vir haar die wenplek besorg.

Die ATKV se DigiToneelkompetisie het teatergrense verskuif deurdat die Top 10-finaliste hulle buiging in VIA se realiteitsreeks gemaak het.

Een van die beoordelaars, dr. André Gerber, meen Daniels se teks is “verbysterend, eerlik en van die hart”. Wilhelm van der Walt, ook een van die mentors, beskryf haar spel as dié van iemand wat haar lewe “aan ʼn lyn” laat hang, en geloofwaardig omdat elke oomblik uit die hart kom.

Daniels stap weg met ʼn kontantprys van R5 000, die ATKV-DigiToneeltrofee en ʼn jaar toegang tot Novieguide se praktiese inleidingskursus tot film en spel vir die kamera.

Die naaswenner is Themelios Demas van die Hoërskool Tygerberg met sy monoloog, “Dis mos wat pa’s doen”. Lea Vivier (mentorbeoordelaar) meen Demas se spel is aangrypend en rou, wat ʼn uitsonderlike kenmerk van ʼn akteur is. Demas ontvang ʼn kontantprys van R3 000.

Zara van der Westhuizen van die Hoër Meisieskool Bloemhof het derde geëindig. Van der Westhuizen het beoordelaars verstom met haar nuut en selfgeskrewe monoloog, “KOP”. Sy ontvang R2 000 kontant vir haar podiumplek tydens vanjaar se ATKV-DigiToneelfinaal.

Die beste nuutgeskrewe monoloë wat tieners vir vanjaar se ATKV-DigiToneelkompetisie geskryf het, is gebundel. Volgens die ATKV is hierdie bundel ʼn bewys van die jeug se aanpasbaarheid en behoefte om nuwe karakters en stories te skep. Dit is die tweede monoloogbundel wat die ATKV uitgee.

Klik hier om die bundel gratis af te laai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.