#JouSondagDrama-rolprentreeks voortgesit met ‘Stille nag’

kykNET se splinternuwe #JouSondagDrama, ʼn reeks van 13 alleenstaande rolprente, het verlede Sondag op dié kanaal afgeskop.

Die kanaal se oogmerk met dié projek is om uiteenlopende skrywers van alle agtergronde en ervaringsvelde die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute asook debuutregisseurs is die geleentheid gegee om elkeen ʼn paar flieks se regie te behartig. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stille nag) word afgewissel met ligter “rom-coms” (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Deon Meyer se kortverhaal “Bottervisse in die jêm” is onder meer tot ʼn rolprent verwerk en dit maak ook deel uit van die #JouSondagDrama-reeks. Daarby is die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Sharleen Surtie Richards en Armand Aucamp. Daar is ook gebruik gemaak van jonger talent soos dié van die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs.

Op Sondag 27 Januarie word dié rolprentreeks voortgesit met die fliek Stille nag.

Die verhaal is dié van een gesin … en ʼn engel.

Op Oukersaand by die Van der Hovens word die Kersboom se liggies nie aangeskakel nie, want Gerhard (Luan Jacobs) is nog nie tuis nie. Pa (Marius Weyers) en Ma (Sandra Prinsloo) en die ander seuns, die verstandelik gestremde Daantjie (Ruan Blum) en Adriaan (Vilje Maritz) en Adriaan se vrou, Antoinette (Mila Guy), wag vir hom.

Gerhard is gearresteer vir ondervraging oor sy betrokkenheid by die vryheidstryd in Suid-Afrika en sy tuiskoms roep die gelykenis van die verlore seun op. Daarenteen is Adriaan deel van die regse politiek en ʼn oortuigde AWB-lid. Die gesin word in twee kampe geskeur, met Daantjie wat die perspektief van onskuld verteenwoordig en Antoinette, wat in haar verhouding met Adriaan verdruk word.

Die ma probeer om eensgesindheid te bewerkstellig en die vrede te bewaar, waarin sy gesteun word deur die naïewe Daantjie. Daarenteen is die pa aanvanklik skynbaar aan Adriaan se kant. Die dag van vrede en liefde word ʼn dag van geweld en haat en die huisgesin, waar ʼn mens juis op jou veiligste moet voel, word die plek waar jy uitgelewer is.

Die gesinstafel wat simbolies is van eenheid, word die werktuig van verdeeldheid. Die fisieke konfrontasie in dié drama word tekenend van ʼn botsing van ideologieë: hiper-konserwatiewe Afrikanerskap versus verligte liberalisme.

Deon Opperman het die draaiboek geskryf en André Velts het die regie behartig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.