#JouSondagDrama voortgesit met ‘Boesman, my seun’

kykNET se #JouSondagDrama-rolprentreeks het kykers die afgelope drie Sondae voor die kassie laat inskuif met die rolprente Desember, Stille nag en Vat ʼn kans.

Vandeesweek word dié reeks van 13 alleenstaande rolprente voortgesit met die vierde aflewering, Boesman, my seun, uit die pen van Deon Opperman.

Die kanaal se oogmerk met dié projek is om uiteenlopende skrywers van alle agtergronde en ervaringsvelde die geleentheid te gee om draaiboeke te skryf, hul bestaande verhoogtekste te verwerk vir dié formaat, of om oorspronklike draaiboeke te skryf.

Verskeie gesoute regisseurs asook regisseurs wat hul debuut maak is die geleentheid gegee om hul slag te wys met regie. Kykers kan uitsien na uiteenlopende temas en genres. Die ernstiger dramas (Die dag is bros en Stille nag) word afgewissel met ligter romantiese komedies (Vat ʼn kans) en komedies (Die skandaal).

Deon Meyer se kortverhaal “Bottervisse in die jêm” is onder meer tot rolprent verwerk en dit maak ook deel uit van die #JouSondagDrama-reeks. Daarby is die vervaardigers, Soné Combrinck en Deon Opperman, baie opgewonde oor die skryftalent van Candice Johannes (Draadloos) en Lize Vosloo (Desember).

Die rolverdeling is deurlopende ensemblewerk en sluit in Marius Weyers, Sandra Prinsloo, Franci Swanepoel, Simon Bruinders, Amalia Uys, Leandie du Randt Bosch, Shaleen Surtie-Richards en Armand Aucamp. Daar is ook gebruik gemaak van jonger talent soos dié van die tienjarige Dirk Jacobs en Ian Roelofs.

Op Sondag 10 Februarie kan kykers uitsien na Boesman, my seun, wat handel oor die konflik binne gesinsverband wanneer ʼn vervreemde seun ná sy ma se dood sy pa konfronteer.

Die generasiekonflik kry gestalte in ʼn outokratiese pa (Marius Weyers) wat deurlopend sy wil op die seun afdwing en weier om bevraagteken te word. Boesman, wat ʼn goeie verhouding met sy ma (Franci Swanepoel) gehad het, rebelleer in hierdie verstikkende omgewing.

Vir die pa is die oorlewing van die volk sy dryfveer, terwyl Boesman die apartheidsjare en militêre diensplig negatief ervaar het. Die sin en betekenis van die ouer-kind-verhouding word ontgin en gryp ook weer terug na die grensoorlog en ander vormende invloede op die karakters se ontwikkeling.

Die draaiboek is geskryf deur Deon Opperman en André Velts is die regisseur.

Skakel Sondag om 20:00 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir #JouSondagDrama.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.