Jozaan maak hart oop ná ‘The Bachelor’

Lee verbreek sy verhouding met Jozaan (Foto: Verskaf)

Toe Suid-Afrika se eerste seisoen van The Bachelor verlede Donderdagaand tot ʼn einde gekom het, het aanhangers gesien hoe Lee Thompson sy laaste roos vir grimeerkunstenaar Gina Myers gee terwyl hy Jozaan Digue, ʼn prokureur van Centurion, se hart gebreek het.

In dié episode het Lee en Gina ook aangekondig dat hul verhouding reeds verby is. Volgens Lee het dít gekom nadat hy baie deurmekaar was oor sy finale besluit. Dít het vrae aan kykers gelaat oor wat sou gebeur het as hy vir Jozaan gekies het.

Jozaan, wat reeds vóór die finale episode van The Bachelor vir Lee gesê het dat sy lief vir hom is, was duidelik seergemaak toe Lee nie vir haar die finale roos gee nie.

“Ek het dit glad nie verwag nie, dit was ʼn groot verrassing. Ek was totaal onkant betrap en het nie gedink dinge gaan uitdraai soos dit het nie,” het Jozaan aan Maroela Media gesê.

Jozaan praat oor haar hartseer (Foto: Verskaf)

Volgens Jozaan was haar hart in stukke toe Lee haar afgesê het.

“Om eerlik te wees, daar het niks deur my kop gegaan nie. My hart was gebreek. Ek het geen denke gehad nie, net gevoelens,” het sy gesê.

Tydens die finale episode het Jozaan ook vir Lee gevra hoekom hy haar nie gesê het dat hy anders as sy voel nie. Lee het wel vir haar gesê dat hy eers die oggend van die finale roosseremonie sy besluit geneem het.

Volgens Jozaan was dit ná die program moeilik om vrede te maak met wat gebeur het, maar sy het wel daardeur gekom te danke aan haar sterk ondersteuningsnetwerk.

“Ek was só seergemaak, maar vandag voel ek goed. Ek is in ʼn baie goeie plek emosioneel en geestelik,” het sy gesê.

Lee verbreek sy verhouding met Jozaan (Foto: Verskaf)

Jozaan se The Bachelor-ondervinding het anders uitgedraai as wat sy gedink het dit sou, hoewel sy aanvanklik nie regtig geweet het presies wat sy van die ervaring verwag het nie. Sy het geweet sy kan verlief raak op iemand, maar sy kon nooit droom dat dit sou gebeur soos dit het nie.

“Ek was oorspronklik aangetrokke tot Lee oor sy vriendelike glimlag, die feit dat hy liefdevol en lojaal is en dat dit lekker was om na hom te kyk!”

Maar ná die program verby is, het Jozaan nog nie weer kontak met Lee gehad of hom weer gesien nie. Sy is wel nog in verbinding met Gina.

Volgens Jozaan het sy nog nie weer liefde gevind nie, maar steur haar nie daaraan nie.

“Ek dink die regte liefde sal mý vind, ek hoef dit nie te gaan vind nie. Ek glo altyd dat dit wat vir jou bedoel is, jou sal vind. Ek is oukei met enkellopend wees, ten minste vir nou.”

En dink Jozaan indien Lee haar aan die einde gekies het, sou hulle steeds in verhouding gewees het?

“Ek glo ons sou. Maar die lewe is ʼn mal ding, wie weet wat kon gebeur het,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

20 Kommentare

Es ·

Jozaan, wees bly julle is nie bymekaar nie. Hy is té onseker van homself en weet nie rerig wat hy in die lewe wil hê nie. Hartebreker en NIKS meer nie.

Maritza ·

Ek hoop hulle kies jou as SA se eerste bachelorette. Jy is ‘n pragtige persoon.

Joe ·

@Maritza, mans is nie so desperaat vir aandag soos dié lot nie.

VanAfrika ·

Ek weet nie, ek kon nie vat aan die ou kry nie, hy het so verwyderd gevoel dat ek dit deur die televisie kon skerm kon voel. Sy sorries” was glad nie van die hart af nie en sy rympie teenoor Gina was so stroopsoet gewees dat ek dit nie eens geglo het nie. En nie een van daardie vrouens het by hom gepas nie.

Penelope ·

Jozaan jy is ‘n pragtige mens, en ons kon sien hoe jy jou hart vir Lee gegee het…
Jammer vir jou hartseer. Ek stem, ek hoop jy kan SA se eerste Bachelorette wees.

Gerhard ·

Jozaan, dis die beste ding wat met jou kon gfebeur het. Jy verdien ‘n regte man, nie laventelhaan nie. Enige man sal sy skoene agterna gooi om jou te kan kies. Jy is beeldskoon , plat op die aarde en 10 slimmer as die Bachelor. vasbyt! Die regte man is oppad.

Janine ·

Wees baie bly hy het jou nie gekies nie. Jy is 1000 slimmer as hy. Buitendien, jy sou nooit ‘n kans gekry het om iets in die spieel te kyk nie. Bachelor sou die hele tyd daar wees. So vol van homself: Mr Perfect…..

Andre ·

Drama drama, waar gaan sy nou aandag kry?
Ek is seker Huisgenoot sal haar iets betaal vir `n storie.

Essie ·

Andre, As jy nie iets moois oor iemand kan sê nie, bly liewers stil

Marietjie ·

Jozaan sou jy regtig jou prokureursfirma in Centurion verruil het vir die Kaap?

TLC ·

Jozaan
Lee is net lief vir Lee
Hy het die hele ding gedoen net om aandag te kry
Ek stem hy is nie n lelike ou nie
Maar hy het sekerlik gehoop op n sonbril advertensie of so iets
Gaan aan met jou lewe meisiekind
N mooi man is in elkgeval almal se man

Marika ·

Lee het die grootste fout van sy lewe gemaak! Hy en Gina is albei heeltemal te lief vir hulle self om ‘n sukses van ‘n verhouding te maak. Jozaan het kop en skouers bo al die ander vrouens uit gestaan en nie net omdat sy die langste van almal was nie. Sy is pragtig, geleerd en nie vol van haarself nie. Jozaan, jy het ‘n noue ontkoming gehad. Wees dankbaar. Die regte man sal nog kom! En dit sal iemand wees wat jou sal waardeer vir die mooi mens wat jy is.

Rialis ·

Ag regtig, dis pateties hoe mense hul voor die kameras gedra. Dink hulle nou werklik hulle gaan so liefde vind. Terwyl hy aan hoeveel van daai vrouens gehang het.

Dina ·

So n onnatuurlike gedwonge storie kan nooit werk nie. Deelnemers aan sulke programme moet weet waarvoor hulle hulself inlaat. Die kans dat daar iets goeds kan voortkom is feitlik nul. Dit stel mense net bloot aan onnodige seerkry en hits n vryery in die bondel aan. Mens speel nie so met ander se gevoelens nie. Sulke programme dien geen doel nie en skep n verkeerde voorbeeld vir jongmense.

Gesiggie ·

Ek self is gaande oor die Bachelor…maar om te dink dat soveel meisies hul hart verloor op iets wat dalk nie gaan gebeur is hartseer? en ja partykeer bietjie vals hoop van die ander kant?? Jozaan jy is n prag van n mens en jy sal op die regte manier en tyd jou droom man ontmoet… die Bachelor was nie vir jou…. Lee sal nog speit wees eendag””

A Mac ·

Ag shame. As mense in die normale lewe nie eers kan liefde vind of volhou met wat hul het nie, wat laat jou dink dat dit wat op ‘n realiteitsprogram aan die gebeur is gaan die liefde van jou lewe en ewige liefde wees. Talle realiteitsprogramme met dieselfde trant het dit oor en oor bewys dis alles net vir publisiteit vir die adverteerders en die aanbieders.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.