Kaapse aktrise wys gesig in ‘Binnelanders’

Roeline Daneel. (Foto: Justin Munitz/@headshotscapetown)

Om die skoene vol te staan van dr. Janneke Stuurman, die nuwe karakter in Binnelanders wat onlangs haar verskyning in dr. Steve Abrahams (Clint Brink) se lewe gemaak het, pendel die aktrise Roeline Daneel tussen Kaapstad en Johannesburg.

Die Kaapse aktrise vertolk tans haar eerste sepierol – een wat Binnelanders-kykers reeds laat kop krap oor haar voornemens met Steve, wat pas sy lewensmaat aan die dood afgestaan het.

Janneke is die ma van Charlotte, ʼn maatjie in Vicky, Steve se aangenome dogter, se klas. Sy help vir Vicky met skooltake en raak al hoe nader aan die gesin.

As algemene praktisyn by ʼn praktyk naby aan die Binneland-kliniek, het sy en Steve baie meer in gemeen as net hulle dogtertjies se skooltake.

“Janneke respekteer vir Steve en sy hou baie van hom. Sy is al lank enkellopend, langer as wat hy is. Sy is geskei en ʼn enkelouer van Charlotte en Abel, wat in Vicky se broer, Ruan, se klas is,” verduidelik Daneel hoe haar karakter in die storie pas.

Sy gee toe dat sommige van die karakters, net soos die kykers, gewoond moet raak aan ʼn nuwe vrou wat flikkers in Steve se rigting gooi, aangesien almal lief geraak het vir Elana (Ilne Nienaber), wat onlangs ná ʼn fratsongeluk gesterf het.

“Net soos wat die karakters en Steve se familie aan Janneke gewoond moet raak, moet die kykers ook aan haar gewoond raak,” verduidelik sy.

Daneel, wat voorheen in reekse soos Fynskrif, Die Boekklub en Kompleks te sien was, vertel dit was ʼn opwindende uitdaging om haarself vir die eerste keer op ʼn sepiestel te bevind.

Roeline Daneel in ‘Binnelanders’. Sy speel teenoor Clint Brink (dr. Steve Abrahams). (Foto: Verskaf)

“Ek is nie gewoond daaraan om te speel voor ʼn multi-kamera nie en die ongelooflike pas waarteen almal werk en die professionaliteit wat gehandhaaf word, is verbysterend,” sê sy.

Sy het tydens die inperking die geleentheid gekry om ʼn oudisie vir die rol van dr. Janneke Stuurman af te lê.

“As Kaapse akteur kon ek my naam in die hoed gooi vir ʼn Johannesburgse sepie, aangesien ek self my oudisie moes opneem en aanstuur. Ek het by ʼn vriendin wat ʼn dokter is ʼn jas geleen en het ʼn vriend, die akteur Ludwig Binge, gevra om saam met my te lees. ʼn Paar weke later het hulle my laat weet ek het die rol losgeslaan.”

Met ʼn amper tweejarige woelwater-dogtertjie by die huis in Kaapstad, is dit ʼn uitdaging om vir lang tydperke aaneen weg te wees van die huis af.

Haar man, Werner, ʼn argitek, haar ma, die aktrise Elsabé Daneel, en ʼn oppasser maak om die beurt tyd om na klein Alexa om te sien.

Roeline en haar man, Werner, saam met klein Alexa. (Foto: Instagram/@christinedeconingphotography)

“Dit is baie moeilik om haar agter te laat, maar ons gesels via video-oproepe en dan smelt my hart vir al die nuwe woorde wat sy aangeleer het.”

Sy pendel oor naweke heen en weer om by haar gesin te wees en om aan ander projekte in die Kaap te werk. Sy skiet tans aan ʼn kykNET Storiefilm, wat later vanjaar te sien sal wees.

“In ʼn bedryf soos hierdie is dit lekker om besig te wees. Ek het vir twee maande voor Binnelanders niks gedoen nie; as dit dus pap reën, dan moet jy skep. So moeilik soos dit is om vir Alexa by die huis te los, is dit ook moeilik om nee te sê vir werk. Ek lewe in ʼn wêreld van twee ekstreme.”

Binnelanders is elke weeksaand op die kassie te sien op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.