Kardashian-werklikheidsreeks kom tot ʼn einde

Kourtney, Kim en Khloe Kardashian is sedert 2007 te sien in ‘Keeping up with the Kardashians’. (Foto: IMDb)

Die werklikheidsreeks Keeping up with the Kardashians, wat die doen en late van die bekende Amerikaanse Kardashian-familie volg, se 21ste en laaste seisoen sal in 2021 uitgesaai word.

Kim Kardashian West het dié nuus Woensdag op Twitter bekend gemaak.

“Dit is met swaar harte dat ons as ʼn familie die moeilike besluit geneem het om Keeping up with the Kardashians vaarwel te heet,” het sy op Twitter geskryf.

“Ek is ontsettend dankbaar vir almal wat gekyk het en wat my en my familie oor die laaste 14 ongelooflike jare ondersteun het. Die program het ons gemaak wie ons is en ek is baie dank verskuldig aan almal wat ʼn rol gespeel het in die vorming van ons loopbane en ons lewens vir altyd verander het.”

Die program fokus op die lewens van Kardashian West en haar susters, Kourtney en Khloe Kardashian en hulle jongste broer, Rob. Hulle ma, Kris Jenner, en haar eksman Bruce Jenner – nou bekend as Caitlyn Jenner – en hul twee dogters, Kendall en Kylie Jenner, verskyn ook saam met onder meer Kourtney se ekskêrel Scott Disick in die reeks.

Die reeks het van haar en haar gesin supersterre en multimiljoenêrs gemaak. Die meerderheid van die familie was relatief onbekend voor die program in 2007 begin het.

Kardashian West het voorheen in haar vriendin, Paris Hilton, se werklikheidsreeks verskyn en haar pa, die bekende advokaat Robert Kardashian, het die Amerikaanse voetbalspeler OJ Simpson in sy moordsaak verdedig.

Kardashian West (39) het sedertdien een van die wêreld se bekendste vroue geword, met altesaam 188 miljoen volgelinge op Instagram, en besit ʼn rits florerende skoonheidsondernemings. Sy is in 2014 met die kletsrymer Kanye West getroud. Hulle het vier kinders, North (7), Saint (4), Chicago (2) en Psalm (1).

Kylie Jenner (Foto: Instagram)

Kendall (24) en Kylie (23) wat nog kinders was toe die program begin het, word nou gereken as van die wêreld se mees invloedryke vroue. In 2019 is Kylie aangewys as die saketydskrif Forbes se jongste selfgemaakte miljardêr ooit danksy haar uiters suksesvolle grimeringmaatskappy Kylie Cosmetics.

Nadat die nuus van die beëindiging van die program bekend geraak het, het Khloe Kardashian op Twitter geskryf: “Die emosies loop vandag hoog. Verandering is moeilik, maar soms is dit nodig.”

Ten spyte van hewige kritiek het die program deurgaans goeie kykertalle geniet, talle gesogte toekennings ingeoes en is dit een van E! Entertainment se suksesvolste programme.

“Terwyl dit ʼn absolute voorreg was en ons hulle opreg sal mis, respekteer ons die familie se besluit om hul lewens te lei sonder ons kameras,” het E! Entertainment in ʼn verklaring aan CNN gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

11 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kiepie

Uiteindelik kom daar iets positiefs uit 2020!

Louise

Uiteindelik, want ek weet waaroor mense beheb is met dit nie.

Kaal Keiser

Verstaan ook glad nie wat hul so belangrik gemaak het nie…

Mauritz

Is daar werklik (intelligente) mense wat na hierdie tipe snert kyk?

Alet

Yippeeeeeeeeeee !!!!!!