Karen Zoid gesels weer eersdaags op kykNET

Karen Zoid. (Foto: Verskaf)

Republiek van Zoid Afrika, kykNET se gewilde geselsprogram met Karen Zoid as aanbieder, is eersdaags terug op die kassie.

Die splinternuwe seisoen van dié program begin op 16 April uitsaai.

In die nuwe reeks vergroot president Zoid haar indrukwekkende kabinet met nóg glansmense, sporthelde, legendariese sangers en ander beroemdes en berugtes. Van die bekendes wat in Zoid se Republiek aantree, sluit in Derek Watts, Denise Newman, AB de Villiers, Sandi Schultz, Max du Preez, Nico Panagio, Jeannie D, Stef Bos, Spoegwolf en Elandré.

Republiek van Zoid Afrika is talle kere aangewys as Suid-Afrika se beste geselsprogram, met Safta-toekennings en ander vererings op dié reeks se prestasielys. Boonop het vyf musiekalbums en 67 trefferliedjies ook uit dié reeks ontstaan.

Vir Zoid bly dit ’n hoogtepunt om te kan kuier met fantastiese mense op haar geselsprogram. “Daar is soveel nuwe wonderlike stories en wyshede. Dit is ʼn gebabbel, ʼn gelag en soms gehuil van die eerste oomblik af,” sê sy.

“Ek gaan in hierdie reeks weer saam met ʼn paar legendes sing, maar kry ook die kans om die nuwe talent in ons musieklandskap beter te leer ken.”

Ouder gewoonte sal episodes afgesluit word met verwerkings van trefferliedjies en in Apple se iTunes-musiekwinkel aanlyn beskikbaar gestel word. Vorige seisoene se verwerkings het keer op keer iTunes se trefferlys gedomineer.

Boonop is dit vir Zoid besonder spesiaal dat die sesde reeks van Republiek van Zoid Afrika saam met die viering van haar twee dekades in die musiekbedryf val.

“Te midde van ’n crazy wêreld daar buite, is dit goed vir grootmense om te kan gesels en saam te kyk na die lewe met ’n koppie tee, glasie wyn of whiskey in die hand. Ek dink dis eintlik broodnodig.”

ʼn Groot konsert ter viering van Zoid se 20 jaar in die bedryf word beplan vir Julie by die Sun Arena in Pretoria.

Republiek van Zoid Afrika word vanaf 16 April op Donderdae om 20:00 op kykNET uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.