Karen Zoid: ʼn President soos geen ander

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

Soos nog geen ander president vóór haar nie, sit Karen Zoid met net haar eie geselskap op ʼn donkerhout orestoel in die voorportaal van ʼn Johannesburgse hotel, haar oë gespits op die besige glasdeur wat weens die vloei van mense na binne en buite die hotel byna nie vir ʼn stonde ʼn blaaskans kry nie.

Reeds van buite merk jy haar op: nét sy, bene gekruis en heel ontspanne; sommer sonder ʼn donkerbril om haar identiteit te verberg en met geen teken van ʼn entourage om die president teen die gepeupel te beskerm nie.

Met dieselfde styl waarmee die president van die Republiek van Zoid Afrika bekend geraak het, is sy vandag ook in swart geklee, haar sjiek blonde hare na agter gekam.

Maar sy’s gʼn gewone president nie: buite die hotel wag geen bloulig-brigade nie, sy staan self op om ʼn drankie by die kroeg te kry én bied dan vir die gas ook ʼn lafenis aan. En wanneer jy haar versoek van die hand wys, dring sy daarop aan, sy kan mós nie alleen ietsie drink nie.

Vandeesweek kuier Zoid vanuit die Kaap in Johannesburg om die Republiek van Zoid Afrika-toer af te skop met ʼn enkelvertoning by Montecasino. Dié vertoning sal maar ʼn vulletjie wees teen die Arenakonsert op 15 Junie – een wat sy hoop die grootste in haar loopbaan gaan wees.

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

Dié konsert is maar een van vele balle wat dié sangeres tans in die lug hou – verwys sommer na haar as ʼn jongleur.

“Beplanning en skedulering is die sleutelfaktore in my loopbaan”, sê sy. “Ek werk baie hard – maar ek glo daarin om hard te werk vir kort tydjies aaneen. Behalwe as dit kom by musiek; dan sal ek dit die hele dag lank doen. Met ander dinge is balans belangrik.”

In haar dekade lange loopbaan het sy ʼn spesifieke balans tussen haar loopbaan en haar lewe ontwikkel, sê sy. Wanneer sy in die Kaap is en nie toer nie, gaan sy minstens drie maal ʼn week ateljee toe. Dis in dié tyd dat al daai kreatiewe masterpieces – soos Zoid-aanhangers op sosiale media sê – gebore word.

Onlangs het die balans ʼn ander vorm aangeneem.

“Ons het pas ʼn nuwe ateljee gebou,” vertel sy opgewonde. Sy haal haar selfoon uit om met foto’s te spog. “Niemand weet nog daarvan nie. Die studio se naam is Mothership en dis ʼn 400 vierkante meter rolprent-, televisie- en musiekstudio. Ondergrond is my klankstudio en bo dié studio is my rehearsal room. Dis ʼn agt jaar lange plan wat bymekaar kom; hoe amazing is dit nie.”

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

Haar oë blink. Sy het gróót planne met Mothership. “Ons het dit Mothership genoem want die ‘mothership’ is op sy eie voyage in space. Behalwe dit, is die Mothership ook ʼn hawe, so jy kan jou spaceship kom dock by my hawe. Jy kan jou program daar kom skiet en dit vervaardig. Dit gaan ʼn hawe wees vir jong talent, geleentheid vir samewerking met ander kunstenaars, maar ook ʼn platform sodat ons ons eie projekte kan doen.

“Ons is klomp ouens wat saam werk en Mothership is net die fisiese manifestation van my besigheidsmantra om op my eie mission te bly; mooi goed te maak wat vir my lekker is en om geleenthede te bied as ek kan. In vandag se era gaan dit nie meer oor om een job vir altyd te hê nie. Ja, jy moet commit aan ʼn projek en jy kan vir jare ʼn werksverhouding met iemand hê, maar jy moet vryheid en movement hê. Ons wil individue wees én bly.”

Die jongste Republiek van Zoid Afrika is juis by dié ateljees verfilm en vervaardig. Dié reeks trek vanjaar al in sy vyfde seisoen.

Nou kan sy haar byna nie indink dat dit sewe jaar geneem het vir dié reeks se eerste seisoen om van die aanvanklike gesprekke tot die vervaardiging die lig te sien nie.

“Karen Meiring [direkteur van kykNET-kanale] het vir my gesê: ‘Jy praat altyd so lekker met almal, wil jy nie ʼn talk show hê nie?’ Toe sê ek: ‘Oukei cool.’ Dit het ʼn tyd lank gevat voordat dit gerealiseer het; ek dink altesaam seker sewe jaar ná ons aanvanklike gesprekke. Maar ek hou daarvan dat dinge reg is en reg verloop; en as dit ʼn tyd langer vat om gestalte te kry, is dit ook reg.

“En toe gebeur alles so vinnig: Ons het kommersiële sukses gehad met Republiek. Almal het getry en ʼn mens probeer mos maar jou bes, maar niemand van ons het die groot sukses verwag nie. I don’t know, it just worked. Dis nie gemaak vir enigiemand spesifiek nie; dit was iets wat ék wou doen.

“Ek wou dit doen soos wat ék wou sonder dat iemand vir my sê wat om te doen. Ek het al van jongs af hierdie mission om vir niemand te werk nie sodat niemand vir my kan sê hoe ek dinge hoef te doen nie. Obviously moet mens direction van mense vat, maar ek dink ek is op my beste wanneer ek kreatiewe beheer kan vat.”

Sy vat ʼn sluk van haar drankie, glimlag vir ʼn man wat groet.  Sy wou van dag een af nie toelaat dat dié kommersiële sukses indruis op haar artistieke vryheid nie – en daaroor is sy ferm, sê sy.

“Daar is verskillende fasette aan my, maar ek sien myself eerstens as ʼn songwriter. Dit sal vir my pointless wees om te perform wat iemand anders dink sal werk. Ek perform wat ek leef en wat ek voel; dis meer van ʼn compulsion as ʼn besigheid.

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

“Maar met Zoid Afrika, soos met enigiets anders in my lewe, dink ek soos tag team. Dis soos WWE – as jy in die ring is moet jy deliver voordat iemand jou tag en jy weer uit die ring is. So wanneer dit jou kans is en wanneer jy ʼn opportunity kry, moet jy alles bring. Moet niks vir later spaar nie. Doen álles en dan onttrek jy weer – en dís wat ek doen.”

Dit is dié vryheid wat haar toelaat om tydens konserte met aanhangers ʼn konneksie te maak, sê sy. “Ek love dit om mense bly te maak. Dis lekker om iets te doen waar ek voel ons connect, en Republiek is net een extension daarvan. Ek love dit om op die verhoog te staan en die crowd te vóél. Ek beskryf elke optrede of onderhoud op Zoid Afrika so: Soms wil ons net hê iemand moet saam met ons in die oomblik wees. Jy wil hê iemand moet jou hand vashou, saam met jou sit en samesyn hê. En dáái samesyn kry ek in my live shows en in Republiek. Ek dink ek het my lewe lank ʼn groot hunkering daarna.”

Dalk daarom dat Zoid beskryf word as ʼn kunstenaar wat eers grense toets en dan dié einste grense skuif: iets in haar musiek – ʼn ding wat nie sommer verwoord kan word nie – praat met mense. Iets in die musiek volg jou; dit bly jou by. In haar musiek én lewe skuif sy nie bloot ander se grense nie, maar ook haar eie verwysingsraamwerk.

“ʼn Mens moet ʼn manier kry om jou vyande te verstaan; jy moet dit jou mission maak. Jy het baie om te leer by dies wat teen jou is. Jy moenie noodwendig wat hulle sê hart toe vat nie, maar dit bly baie belangrik om uit te reik beyond jou eie verwysingsraamwerk. Ouer mense moet jonger mense verstaan, jonger mense moet ouer mense verstaan. En dit geld vir alles. Almal wil op die einde dieselfde hê; niemand wil alleen wees nie. Die lewe is baie exciting en dan met tye randomly excruciatingly painful en traumaties; en dan skielik, uit die bloute, is dit weer lekker.

“Die lewe is confusing vir almal. As jy iets wil change – binne in jou maatskappy of waar ook al – moet jy eers verstaan hoekom dinge is soos dit is. Ek moet myself vra: Hoe kan ek iets wat miskien teenstrydig is van wat jy voel of glo op ʼn manier sê wat jy voel dat jy my kan verstaan; en steeds sal respekteer, al is my opinie nie dieselfde as joune nie? Dis moontlik. Gandhi het dit reggekry. Mandela het dit reggekry. Richard Branson en selfs Siya Kolisi het dit reggekry.”

Karen Zoid (Foto: Anelia Loubser)

Sy hou ʼn oomblik op praat, huiwer, maar sê dan tog: “Ek filosofeer eintlik. Elke aspek van my lewe vat my terug na filosofie; of ek nou aan nuwe musiek skryf en of ek aan ʼn TV-reeks werk. Ek wil altyd meer aan die filosofiese kant van die gesprek te bly. As jy wil my sien as ʼn aktivis, sal jy my kry by die kinderhuise of aftree-oorde of wanneer ek baklei teen geweld teen vroue. Maar ek raak nie betrokke in politiek nie. Ek sal wel sê: ek dink tans in die wêreld het ons die mees teleurstellende politici. Ons lewe vandag in ʼn transparent wêreld – ons kan alles sien wat om ons aangaan. Dis ridiculous. Dis jammer, politiek het begin oor filosofie, nou gaan dit oor power – en power corrupt mense wêreldwyd.”

Oor politiek wil sy nie verder gesels nie, maar wel oor die opkomende Republiek van Zoid Afrika-konsert, sê sy opgewonde. Weer die einste flikkering in die oë.

“As ek dit regkry, sal dit die grootste show van my career wees – maar dis net ás ek dit regkry. Dis ʼn leap of faith en ons hoop dit gaan massive wees.”

Zoid is op 15 Junie saam met onder andere Francois van Coke, Jo Black, Vusi Mahlasela en Kahn Morbee by die Sun Arena by Time Square in Pretoria te sien. Kaartjies is beskikbaar by Computicket.

Zoid se vertoning by die Sun Arena by Time Square in Pretoria

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Steven ·

Koos & Boelie( wonder hoekom is die jou naam): KZ is verreweg een vd beste kunstenaars/sangers in Suid Afrika. Geen gelyke nie. Darem goed dat ons kan verskil waarvan ons hou of nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.