Kate Roothman weer op die kassie

Kate Roothman (Foto: verskaf)

Op ʼn plaas in Sannieshof het ʼn jong Kate Roothman gedroom oor ʼn loopbaan as aktrise. ʼn Droom wat vandag dié nederige aktrise se werklikheid is.

Roothman het vroeg 2017 haar debuut op die kassie gemaak as Rosie Spencer in die dramareeks Erfsondes. Later dieselfde jaar, met blonde lokke, het sy gou sepie-aanhangers se harte gesteel as Anna Redelinghuys in Getroud met rugby. Op Donderdag 4 April het sy haar terugkoms na die TV-skerm gemaak as dr. Nicolette Nortje in Binnelanders.

Daar is egter veel meer wat in dié nederige aktrise steek. Nie net het sy haar eie romantiese sprokiesverhaal om mee te spog nie, die druppels in haar dam van kreatiwiteit wil-wil soms die wal laat bars.

Dokter, dokter

As doelgerigte dr. Nortje beïndruk Roothman weereens sepie-kykers landwyd.

Ná ʼn rits oudisies het die deur na Binneland Kliniek uiteindelik oopgeswaai vir dié aktrise. Diegene wat aan die ander kant van die deur gewag het, het nie op hulle laat wag om haar tuis te laat voel nie.

“Dit was vir my só lekker om te kon sien hoe ondersteunend almal op die stel van Binnelanders is. Hulle is ongelooflik lief vir mekaar, en só verwelkomend.”

v.l.n.r. David Viviers (as Liam Vorster), Mila Guy (as Zanelle Jordaan), Solomon Cupido (as Elton Cloete) en Kate Roothman (as Nicolette Nortje)

Roothman het die nuwe tuiste onvoorwaardelik geniet, en glo dat die atmosfeer by Stark Studios, waar Binnelanders geskiet en vervaardig word, deels die rede vir die sepie se wegholsukses is.

“Hulle werk as een man, almal werk so hard saam om die eindproduk te kry. Almal se dryfkrag en passie is wat dit laat werk. Almal geniet voorwaar wat hulle doen.”

Roothman het die geleentheid geniet om Nortje te kon vertolk.

“Sy is ʼn vasberade jong dokter wat haar lewe eintlik reeds vooruit beplan het. Sy weet presies wat sy wil hê.”

Roothman bieg dat sy nie daarvan hou om té veel voorbereiding te doen voordat sy ʼn nuwe karakter aanpak nie.

“Wanneer ek die teks van ʼn storie lees, kry ek klaar ʼn aanvoeling vir die karakter, maar jy weet nie altyd wat die energie op stel gaan wees nie. Dit verander dikwels heeltemal hoe die karakter aangepak word. Ek oordeel ook nie regtig die karakter nie.”

ʼn Romantiese affêre

(Foto: verskaf)

Die 28-jarige aktrise sien uit na die 30’s wat kort om die draai voor haar lê.

“As ek na my man [Willie Oberholster] kyk wat verlede jaar 30 geword het, is dit vir my ongelooflik mooi om te sien hoe hy gemaklik word in sy menswees. Ek dink wanneer jy 30 word, is dit in ʼn mate vreesaanjaend. Daar is hierdie stigma dat jy sekere dinge klaar op jou kerfstok moet hê; as jy dit nog nie het nie voel jy nogal soos ʼn mislukking. Veral wanneer jy jouself met ander vergelyk. Ek het egter die afgelope ruk besef dat ek so baie in my 20’s geleer het, en dat ek reg is vir my 30’s, ongeag hoe vreesaanjaend dit is.”

Roothman ken Oberholster van jongs af. Die twee verskil twee jaar, en Roothman was saam met sy boetie op skool.

“Hy het my blykbaar al gesien terwyl ek nog op laerskool was. In daardie stadium verskil die laerskool- en hoërskoolfases nogal, so ek het hom nie regtig raakgesien nie.”

Op hoërskool het Roothman ook eers ʼn ogie op sy beste vriend gehad, ʼn liefde wat later eers ʼn ander rigting ingeslaan het.

In Oktober 2020 is Roothman getroud met haar Willie wat toe al vir 11 jaar haar kêrel was. Hulle het trou beloof tydens ʼn klein, persoonlike seremonie op ʼn plaas in Muldersdrift, Gauteng.

“Die lekker ding is dat almal met almal gekuier het. Dit was só lekker en só mooi.”

Woorde het mag

Sepie-kykers het dikwels vrymoedigheid om hul menings mildelik op sosiale media te deel, iets wat onlangs deur kykNET aangepak is deur ʼn bewusmakingsveldtog wat op die kanaal van stapel gestuur is.

Roothman is van mening dat woorde op die ou end mag het, ongeag hoe sterk jou selfbeeld is.

“Ek was nog altyd aktief. En hoewel ek klein is, eet ek eintlik baie. In ʼn stadium het ongelooflik baie mense vir my gesê dat ek te maer is.”

Dit het gelei tot Roothman, wat nog altyd ferm gestaan het in wie en wat sy is, se twyfel in haarself en of sy nie tog te min eet nie.

“Ek het toe ongesonder begin lewe, maar ek was nie gelukkig nie. Mense het my gekomplimenteer oor my voorkoms, terwyl my oefen- en eetgewoontes eintlik nie gesond was nie.”

Die kreatiewe Roothmans

Hoewel Roothman die werk van haar sussie, Marsel Roothman wat ʼn fotograaf is, op die voorgrond van kreatiwiteit plaas, kan haar eie oog vir die mooier goed in die lewe bewonder word.

“Ek doen nou al twee jaar troufoto’s saam met my sussie, ek leer elke keer iets nuuts en sien elke keer ongelooflik baie uit daarna.”

Roothman se Instagram-blad weerspieël die kreatiewe aard van die twee sussies, aangesien die meeste van die pragfoto’s deur Roothman se lens geneem is.

“Vandat ek seker 13, 14 jaar oud was, was ek die proefkonyn vir my sussie se idees. Al die kunstigheid wat ek tans in my lewe het, is alles te danke aan haar. Sy het ʼn fyn oog en ek leer soveel by haar.”

Die twee sussies verskil vyf jaar, en Roothman ag haar ousus as haar “tweede mamma”.

Kate, kinderdae en kinderteater

Roothman in aksie (foto: verskaf)

“My ouma het altyd gesê dat ek in my kinderdae na die televisie met my vinger gewys het en gesê het dat ek daar wou wees.”

Die droom het egter nooit vir Roothman gevoel soos iets wat dalk ʼn werklikheid sou word nie.

In die klein dorpie waar Roothman grootgeword het, het die kans om ʼn suksesvolle aktrise te word maar skraal gelyk.

“Daar was nie dramaklasse nie, en mense het jou maar met ʼn skewe oog aangekyk as jy gesê het dat dit is wat jy eendag wou doen.”

Sy het egter ná ʼn oorbruggingsjaar opleiding in toneelspel ontvang en haar pad na ʼn plekkie in die Afrikaanse vermaakbedryf gesien.

Een van die eerste projekte wat sy aangepak het, was kinderteater.

“Ek sal dit vir niks verruil nie. Dit was ʼn ongelooflike leerskool. Ons het die land platgetoer.”

Roothman en die span mense wat saam met haar getoer het, moes die op- en afslaan van hul stel en toerusting self behartig.

“Dit het my gegrond in wie ek is. Jy en elke liewe mens op daardie verhoog het ʼn deel wat jy vir seker moet bring. Dit was lekker om so hard te werk, dit was belonend vir my gewees.”

Die bekoring van die plaas

Hoewel Roothman nou ʼn volwaardige stadsmeisie is, is die bekoring van die plaaslewe blywend.

“My hart raak rustig op die plaas. Ja, ek geniet die stad, maar daar is nie ʼn gevoel soos die een wat ek op die plaas ervaar nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Louise ·

Ten minste sal haar klere drag beter wees as in “Getroud met Rugby”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.