Katinka Heyns-fees op kykNET vir Vrouemaand

Katinka Heyns. (Foto: Facebook)

Katinka Heyns. (Foto: Facebook)

Katinka Heyns is een van Suid-Afrika se bekendste regisseurs en in Augustus vereer kykNET dié formidabele rolprentmaker deur elke Saterdag om 20:00 ʼn fliek waarvoor sy bekendheid as regisseur verwerf het, te vertoon.

Fiela se kind – 4  Augustus om 20:00

Die fliek handel oor die aangrypende verhaal van ʼn bruin vrou se liefde vir haar wit optelkind. Fiela Komoetie se gelukkige gesinnetjie word wreed uitmekaargeskeur toe ʼn magistraat bepaal dat haar wit hanskind aan sy regte ouers terugbesorg moet word. Shaleen Surtie-Richards, André Rossouw en Lida Botha is te sien in dié fliek.

Die storie van Klara Viljee – 11 Augustus om 20:00

Anna-Mart van der Merwe vertolk die rol van ʼn vrou wat, nadat sy haar pa en haar verloofde by die see verloor, die keuse maak om nooit weer na die see te kyk nie en vir haar ʼn huis agter ʼn groot duin te bou. Ná ʼn groot ontdekking begin sy om die duin weg te stoot met ʼn damskrop en ʼn donkie. Met Regardt van den Bergh en Trix Pienaar.

Paljas – 18 Augustus om 20:00

Die Suid-Afrikaanse gunsteling handel oor ʼn familie wat trek na ʼn afgeleë deel van die Karoo in Suid-Afrika. Hul lewe word ingrypend verander as ʼn rondtrekkende sirkus ʼn pantomimis (gebarespeler) in die dorp agterlaat. Met Marius Weyers, Aletta Bezuidenhout en Ian Roberts.

Die wonderwerker – 25 Augustus om 20:00

Dawid Minnaar, Elize Cawood, Marius Weyers en Anneke Weidemann speel in dié fliek wat fokus op die digter en wetenskaplike Eugène Marais wat, baie siek aan malaria, deur die Van Rooyen-gesin ingeneem word. Malaria is egter nie Marais se enigste probleem nie. Sedert sy vrou en hul eerste kind se dood het hy sy toevlug tot morfien geneem.

Skakel in op kykNET, DStv-kanaal 144.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dankbaar ·

Ek wil regtig nou nie ondankbaar klink nie maar al die ou flieks op KykNet is rerig nie n plesier om weer en weer en nogmaals weer te kyk nie.
Wys net DSTV is maar nie die geld werd nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.