Kinkel in ‘Die brug’ bring Geo en Rob voor moeilike besluit

Geo en Rob moes ‘n groot besluit maak in die jongste episode van “Die brug”. (Foto: verskaf)

Twee van Die brug se deelnemers, Geo en Rob, moes in die jongste episode van die reeks ʼn belangrike besluit neem: Gaan hulle hul eerlikheid prysgee vir ʼn ekstra R50 000 in die sak?

Rob, ʼn voormalige professionele rugbyspeler van Midrand, en Geo, ʼn welvaartbestuurder van Stellenbosch, het in ʼn skokwending op R100 000 van die totale R1 miljoen prysgeld afgekom. Hulle is aanvanklik gestuur om gereedskap te gaan soek, maar het uiteindelik op dié geld en ʼn brief afgekom. Hulle kon kies om die geld te “steel”, waarmee hulle ook ʼn ontwerp oftewel “bloudruk” van die perfekte vlot sou kry, óf ʼn kruiwa vol nuwe spykers en twee hamers.

Die vlotte wat die deelnemers tot dusver gebou het, was elkeen onveilig. Geo en Rob het geweet dat hulle ʼn ontwerp baie nodiger gehad het as die spykers. Tog was die keuse nie sonder ʼn kinkel in die kabel nie: Indien hulle sou besluit om die geld en die ontwerp te vat, sou hulle nie ʼn enkele siel van die geld kon vertel nie. Indien dit op die lappe moes kom dat Geo en Rob nou elkeen R50 000 ryker is, sou hulle die geld kwyt wees.

Rob. (Foto: verskaf)

Aanvanklik was Rob ongemaklik met die woord “steel”; dit was nie die voorbeeld van eerlikheid en integriteit wat hy vir sy twee jong kinders wou stel nie.

“Die term ‘steel’ het baie swaar op my skouers gerus,” het Rob aan Maroela Media gesê.

Geo het egter besluit om bloot dié bewoording ter syde te stel, en die manne het die geld uit die skatkis gehaal en vir hulself gevat.

“Ek het dit nie as steel beskou nie. Ek het gedink as ons dit van die hand wys, gaan die volgende spelers moontlik die kans kry [om dit te wen]. Dit was ʼn wen-wen-situasie, ons span het die ‘bloudruk’ nodig gehad,” sê hy op sy beurt aan Maroela Media.

Geo erken egter dat dit steeds ʼn reuse-sin van vertroue geverg het tussen dié twee deelnemers om die geld in die sak te steek.

Geo. (Foto: verskaf)

“Aanvanklik het ek dadelik gedink om die geld en die ontwerp te vat, maar omdat dit ʼn geheim moes bly en dit so vroeg in die spel was, was dit ʼn moeilike besluit om te neem.

“Ek moes ook vir Robert kon vertrou om dit ʼn geheim te hou en ek het hom skaars geken. Ek moes ʼn berekende kans waag.”

Berekende kanse is egter deel van Geo se strategie, hy is nie iemand wat ʼn spel betree sonder om te dink oor die risiko’s en geleenthede wat daarmee gepaardgaan nie.

“Ek hou nogal van dink en beplan. Ek sien die einddoel, en moet dan ʼn plan beraam om daar te kom deur te fokus op dit wat binne my beheer is.”

Dit is juis hoe die bondgenootskap tussen Geo, Rob, Iana, Tina en Marna begin vorm het. Hoewel Geo van die begin af besin het oor wie goeie vriende in die spel gaan wees, was dit vir Rob ʼn natuurlike wending.

Geo, Rob, Iana en Tina. (Foto: verskaf)

“Die vriendskap het vir seker natuurlik gekom, hulle is almal ongelooflike mense en ek het gevoel dat ons almal iets gemeen het. Ek is van nature ʼn stil mens, maar dit was glad nie moeilik om vriende te maak nie; al die deelnemers is topklas mense,” sê Rob.

“Die grootste les wat ek in die spel geleer het, is dat ek elke dag besig is om my eie brug te bou en dat ek hard moet werk om my drome en ideale  te bereik.”

  • Die brug word elke Donderdagaand om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.