Kitsfeite oor die derde seisoen van ‘Hotel’

Die Safta-bekroonde komediereeks, Hotel, is nou vir ʼn derde seisoen op kykNET te sien.

Of die humor nou jou lagspiere prikkel of nie, is dit geen twyfel nie dat dié reeks ʼn magdom aanhangers van jonk tot oud het wat weekliks voor die kassie inskuif vir Ferdie en sy medehotelpersoneel se kaskenades.

Die draaiboek vir die derde seisoen is geskryf deur Bennie Fourie, Stiaan Smith, Beer Adriaanse en Ryan Metcalfe. Fourie en Smith behartig ook die regie vir die reeks.

James Borthwick vertolk die rol van Ferdie.

James Borthwick vertolk die rol van Ferdie.

James Borthwick (Ferdie), Beer Adriaanse (Thomas), Mila Guy (Malanie), Simoné Nortmann (Jony), Schalk Bezuidenhout (Danny), Martelize Kolver (Brenda) en De Klerk Oelofse (Boer Jaap) sorg elke Maandagaand ʼn halfuur lank vir vermaak by die Fransen-hotel op Fransenburg.

 

Hier is ʼn paar verrassende kitsfeite oor die reeks:

1) Dit neem vyf weke om een seisoen van Hotel te skiet.

2) James Borthwick is getroud met Rika Senett, wat ook die rol van sy vrou en Thomas se ma in die reeks vertolk.

3) Die naam van die reeks sou oorspronklik Hotel Hotel gewees het.

4) Die reeks speel af op die fiktiewe dorp Fransenburg, maar word in werklikheid by die Kleinkaap Boutique Hotel in Centurion geskiet.

5) Bennie Fourie en Stiaan Smith het met die eerste seisoen twee skryfwerksessies gehad. Een het in Franskraal plaasgevind en een in Rustenburg. Hulle het dié twee name gekombineer en op die fiktiewe dorpsnaam, Fransenburg, afgekom.

6) Daar word meer as 100 uur se beeldmateriaal geskiet vir een reeks van Hotel. Slegs 312 minute word op die ou end uitgesaai.

7) Hotel het altesaam 16 Safta-benoemings sedert die eerste seisoen ontvang.

8) Die rolle van Thomas en Boer Jaap is oorspronklik vir Bennie Fourie geskryf.

9) Die regisseurs, Bennie Fourie en Stiaan Smith, het albei al rolle in Hotel vertolk. Smith is in die eerste seisoen te sien as Malanie se broer, Ruan, en Fourie vertolk tans die rol van Dodgy Mike.

10) Albei regisseurs se ouers het ook al verskynings in die reeks gemaak.

Skakel Maandagaande om 20:30 in op kykNET, DStv-kanaal 144, vir die derde reeks van Hotel. Die reeks is ook op CatchUp te sien en die eerste twee seisoene is ook op Showmax beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Gemaskerde Sopbeen ·

Ek sit vir ‘n half-uur deur Ouboet en Wors……..sonder om ‘n lip te roer….en vir ‘n half-uur daarna moet ek kort-kort “re-wind” soos ek lag vir Hotel se absolute flymskerp humor…..

Jakes ·

WIE skryf sulke snert? Swak teks. Swak toneelspel. Swak komedie. Kyknet, julle sg komedies is baie swak. Ek het eerder beurtkrag as om na sulke gemors te kyk

Marlene ·

Ek stem, sulke snert hoort nie op TV nie. Duidelik sukkel Kyknet om komedie aan te bied.

Ekke ·

Briljante reeks. My gesin kan nie wag vir Maandae om dit te kyk nie.

Naas ·

Ek geniet dit gewoonlik baie. Daar is ‘n storielyn, progressie en karakterontwikkeling wat jy nie by ‘n ander Kyknet komedie kry waar ongeveer 20% van elke episode ‘n woordelikse herhaling is van die voriges. Die akteurs lewer uitstekende spel, behalwe dat Schalk Bezuidenhout soms net te veel is.

Colette ·

Ek loop nie ‘n episode mis nie. Die teks is briljant en die toneelspel is puik.

Nadia ·

eK IS DIT VIR NIKS… AS EK HOM MIS KYK EK HOM OP CATCH UP… HULLE KAN HOTEL GERUS IN OUBOET EN WORS SE PLEK SIT.

pinkie ·

Jul humor is “spot on”. Baie oulike reeks, mis dit vir niks.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.